'n Kil wind sny koud deur Kaapstad-hawe. Toue kreun teen die kaai, meeue sweef hoog bo, en die see stamp-stamp onophoudelik teen die staalromp van die VELOS FORTUNA. Vir verbygangers is dit bloot nog 'n skip wat kom en gaan. Maar, vir CSO is elke skip 'n drywende wêreld vol verhale van hoop, verlange, opoffering, liefde, bekommernis en geloof. Elke skip maak saak - elke seeman maak saak...
André, ons Kaapse Hawe-kapelaan, stap die loopplank op. Hy dra nie groot planne of ingewikkelde antwoorde saam nie. Net 'n paar Bybels, Christelike leesstof en die bereidheid om te luister. Soos soveel kere tevore, het hy ook 'n vaste wete, dat ook hierdie skeepsbesoek in God se hande is.
In die eetsaal ontmoet hy vir Vaughn.
Terwyl hy 'n koppie koffie aanbied, begin 'n eenvoudige gesprek. Vaughn vertel van sy lewe in die Filippyne; van sy vrou wat skoolhou; van sy drie klein seuntjies wat by die huis wag - die oudste is vyf; die tweeling word amper twee.
Werk op die see beteken kos op die tafel. Dit beteken skoolgeld, 'n toekoms waarin sy kinders geleenthede het. Maar, elke rand wat verdien word, kom teen 'n prys. Vir Vaughn beteken dit dat hy duisende kilometers van die huis af wakker word terwyl sy vrou alleen die drie seuns grootmaak. Hy mis die eerste skooldag, die klein oorwinnings, die verjaarsdae en die eenvoudige aandetes waar 'n pa se stoel leeg bly. Hulle leer om sonder hom groot te word, en hy leer om hulle deur 'n selfoonskerm lief te hê. Dit breek sy hart - 'n pa se hart is immers van glas.
Tog kies hy hierdie pad, want hy glo dat God soms van 'n mens vra om die veiligheid van die bekende agter te laat en, met 'n seer hart en 'n vaste geloof, die onbekende tegemoet te stap. Hy kyk in die rigting van die eindelose see en noem dit eenvoudig: "'n Sprong van geloof."
Hy lag met traan - vertel hoe hy en sy vrou gedurig saam bid vir leiding. Hulle probeer vas vertrou en glo ... Daarom klim hy op die skip. Nie omdat hy sonder vrees is nie, maar omdat hy leer dat geloof nie beteken dat jy al die antwoorde het nie, maar eerder dat jy vertrou op die Een wat dit wel het. Soms, net soms, dan skrop die twyfel tog nes. En daarom is André se besoek tydig; noodsaaklik. In hierdie oomblik is die bemoediging, die saam bid, saampraat en saam lees uit die Skrif, nodiger as brood.
Ons stap op skepe in die geloof dat God reeds daar werk. Ons ontmoet seemanne in die middel van hul verlange, hul onsekerheid en hul vrae. Ons deel nie net Bybels uit nie; ons deel hoop. Ons herinner hulle dat geen oseaan so groot is dat God se teenwoordigheid dit nie kan oorbrug nie.
Want soms verander 'n lewe nie deur 'n groot preek nie. Soms verander dit deur 'n eenvoudige gesprek, 'n koppie koffie en die ontdekking dat iemand genoeg omgee om te luister.
En daarom het CSO mense soos u nodig wat saam met ons hierdie reis aanpak. Deur die ondersteuning van ons donateurs kan ons aanhou om die Evangelie na die wêreld se hawens en skepe te neem, sodat nog seemanne soos Vaughn kan ontdek dat die grootste sprong van geloof nooit alleen geneem word nie.
Die wêreld brand.
Bomme val, sirenes huil, politieke leiers trek goedsmoeds nuwe lyne op kaarte. In die beknopte ruimtes van 'n skip is daar ook nuwe lyne. Dis vir die ongeoefende, blote oog, verborge. Wat vroeër stippellyne was is nou meer genuanseer...skielik vasgemessel deur wantroue en agterdog.
In Gaza en Harmous tuimel mure onder bomgeskal, maar elke bom, elke sarsie skote, elke doodstyding wat breek, messel die mure tussen mense al hoër. Aan boord sit die spanning van die wêreld saam aan tafel. Die kaptein uit Israel; die kadet uit Iran. Die ingenieur uit Oekraïne; die tweede offisier van Rusland. So tref ons kapelane dikwels twee pole van ons wêreld vasgevang, binne die mure van 'n drywende yster kolos, aan boord aan.
Danie is op 'n skip vir middagete. Mans wat elders die wapen teen mekaar opneem eet uit dieselfde kombuis, deel hier dieselfde dek, dieselfde storms en dieselfde donkernag wagstaanskofte. Vir die geoefende oog, agter die ligsinnige grappies rondom die etenstafel, hang daar iets swaar in die lug - versigtigheid, onsekerheid, stilte. Want die wêreld se konflikte klim maklik saam aan boord. Danie se gesprek begin soos altyd by wie kom vanwaar. Doer onder die oppervlakkige gesprek lê die ongemak van 'n verdeelde wêreld. Wat vroeër bloot 'n aanknopingspunt was, is nou posisionering. Om te sê waarvan jy kom het 'n standpunt geword, of jy daarmee saamstem of nie.
As elkeen vertel waar hul vandaan kom, en Danie stil-stil bewus raak van die wêreldmagte wat in die eetsaal teenoor mekaar geposisioneer is, wil hulle meer van Danie se herkoms weet: "Ek is eerstens 'n Christen ... 'n kind van God." Kom sy antwoord. En in een sin word die trajek van die gesprek verander. Skielik is daar 'n bewustheid van iets groters. Etikette word geherrangskik sodat daar nou eerder brûe gebou word. Skielik is die gesprek kwalitatief anders, gewortel in 'n dieper menswees. Danie praat oor genade - genade vir elkeen.
"Burgers van die hemel," merk die kaptein later op.
Dit is nog 'n rede waarom CSO aan boord gaan. Om te herinner dat die Man van die Kruis in die mees onwaarskynlike oomblikke brûe kan bou. Hierdie werk gebeur nie vanself nie. Ons het donateurs nodig. Mense wat saam met ons die Evangelie na die wêreld se skepe, hawens en bemannings kan neem - sodat selfs in 'n verdeelde wêreld, Christus steeds mense rondom dieselfde tafel kan verenig. Oorweeg dit asseblief biddend om ons finansieel te ondersteun.
Daar is een menasie, een eetsaal en een TV-kamer. Tog is daar 'n stille skeidslyn wat skreeu dat almal aan boord nie gelykes is nie: Netjiese, sagte, wit gestoffeerde stoele vir die offisiere - harde, lendelam plastiekstoele vir die gewone seemanne. Die sagte stoele staan voor die skerm; die harde stoele soos muurblommetjies teen die kante gerangskik. Stoele, gerangskik na waarde ... ondubbelsinnig ook 'n aanduiding van jou waarde aan boord.
Laat ek dit dan verduidelik: 'n O/S, of gewone seeman, verdien meestal 'n broodlyn-loon. Rand vir rand is die verskil tussen 'n kaptein se salaris en O/S is so wyd soos die Ooste en Weste van mekaar. Dis een ding, maar wat slegter is, is dat hulle dikwels ook so behandel word ... asof hulle hoi palloi skiewies is wat geen waarde het nie, en bloot aan boord is om ander te dien.
Loffie word uiteraard na die wit gemakstoele genooi. Maar, hy hou verby. Hy beweeg doelbewus na die lendelam stoele en gaan sit daar langs 'n man wat waarskynlik selde raakgesien word. Hy vra sy naam, luister na sy storie, en deel met deernis dié Evangelie wat op geen vlak voortrek of onderskei nie. In die konteks van die Kruis is die stoel waarop jy sit irrelevant.
In sy daelikse gang ontmoet Loffie die wêreld: Mans uit die armste dele van Indië en die Filippyne, nou ook uit Bangladesh, Thailand en Mianmar. Die afgelope jare bring die see ook meer mans uit Rusland en Oekraïne - vasgevang deur oorlog, bang om huis toe te keer. Deesdae ook 'n nuwe stroom gewone seemanne uit Oos-Europa: Kroasië, Bulgarye ... meestal gedryf deur nood.
Hulle teken kontrakte van nege maande. Nege maande weg van hul kinders. Nege maande waar 'n pa se stem net 'n herinnering word. Armoede druk hulle see toe - maar dit laat ook 'n leemte wat net God kan vul.
Juis hier, gebeur dikwels merkwaardige dinge.
Met elke nuwe nasionaliteit kom 'n nuwe taal, en met elke taal 'n nuwe deur vir die Evangelie. Die liefde en genade van die Man van die Kruis word skielik gefluister in gange waar dit nog nooit tevore gehoor is nie. Chinese literatuur word uitgedeel, gebede word sag geprewel, harte word ontvanklik.
Dankie aan donateurs wat deel is hiervan en ons finansieel ondersteun - dat julle help dra aan hierdie stille, maar diep werk. Bid asseblief vir die "gewones" van die see, dat hul sal beleef dat daar 'n groter Waarheid is as dat die stoel waarop jy sit, die man maak nie. En bid vir Loffie en elk van ons kapelane, dat hulle sal aanhou sit waar ander nie sit nie - totdat elke man weet: hy is gesien, en hy is geliefd. God se liefde en genade is ook vir hom.
Die see dra nou meer as vrag. Dit dra spanning, fluisteringe van oorlog, en die dowwe dreuning van onsekerheid wat selfs deur staal en golwe sny.
In die kombuis staan Miguel, 'n hoofkok van die Filippyne. Sy handdruk is sterk, maar sy oë kyk heimlik ver - verder as die skip, verder as die horison, tot by 'n huis waar sy vrou en kinders wag. Die radio praat van aanvalle rondom Iran, van skepe wie se pad nie deur ekonomiese vatbaarheid bepaal word nie, maar eerder deur risiko. In sy hand hou hy 'n CSO Bybel in sy huistaal vas. Dis nie net papier nie - dis 'n anker. Terwyl die wêreld om hom harder skreeu, lees hy en Danie woorde van deernis en liefde wat sag bly, en hy hou dit vas soos iemand wat weet hoe breekbaar alles is.
By 'n volgende skip, sit 'n jong ingenieur van Indië na ete alleen by die tafel. Die borde is afgepak, maar die spanning bly. Elke skof in die enjinkamer voel nou nader aan gevaar. Elke verandering in koers dra 'n dringende vraag: Sal ons veilig wees? Hy tel 'n Bybel op, stadig, asof hy nie seker is of hy mag nie. As hy met Danie praat, is dit sag; onseker. Tog as hy eindelik wegloop, druk hy die Bybel teen sy bors - verduidelik hoe dankbaar hy is vir die oomblik van rus wat hy daar rondom die tafel kon beleef.
Op 'n ander dek staan Oleksandr uit die Oekraïne en staar in die mis in, wat vanoggend onheilspellend oor die hawe hang. Sy eie land is reeds deur oorlog gebreek, en nou volg die skaduwee daarvan hom oor die see. Die Midde-Ooste brand, en selfs hier, ver van alles af, voel hy duidelik die gloed daarvan. Hy hou 'n Bybel vas, nie met groot woorde of gebede nie, maar net vas - soos iemand wat lig soek sonder om te weet waar dit vandaan sal kom.
Soos Danie skip-na-skip besoek, lig die mis nie dramaties nie. Die wêreld verander nie skielik nie. Maar, hier gebeur tog iets anders. Hier word hande sonder agenda, Bybels oopgemaak soos vensters. Hier word Christus se liefde nie verkondig met geraas nie, maar geleef in klein, stil dade.
Waar die wêreld verdeel, word verbintenisse hier gevind. Waar oorlog vrees bring, word hier met deernis en sagtheid omgegaan. Nie omdat die see kalm is nie - maar omdat 'n Lewende Hoop help anker gooi. En vir 'n oomblik, net 'n oomblik, is daar 'n vaste wete dat dié Lig sterker is as die donker.
Ontsettend dankie aan ons donateurs en vriende wat dit moontlik maak. Dit help dié Lig skyn, in 'n wêreld wat dit so ontsettend nodig het.



