Ons elkeen is 'n storie - dit is hoe ons elkeen bestaan en leef. Daarin verweef is ons tyd, plek, inleidings en afsluitings.  Daar is konflik, perspektief, toon, styl en atmosfeer.  Daaroor gedink, is die grootste misterie dalk hoe elkeen van hierdie stories sonder weerga is - elkeen daarvan is eiesoortig, merkwaardig en buitengewoon.

Die derde ingenieur vertel nou sy storie vir Danie wat sy skip in Gqeberha besoek.  Hulle sit om 'n koppie koffie.  Die jongman se storie is eers vol ambisie - dit gaan oor die groot hoogtes wat hy wil bereik, wie hy eendag wil wees en dies meer.  Soos Danie meer uitvra is dit duidelik dat sy werk-storie maar net een deel van hom is.  Hy het ook 'n huis-storie - daarin is egter antagoniste en konflik en hartseer en hartbly.  Hoe meer hy praat raak dit duidelik dat 'n storie wat geset is op die diep blou see, geensins eenvoudig is nie - die blote ruimte waar dit afspeel impliseer noodwendige intriges.  Dis duidelik as hy praat oor alleen wees, oor wat 10 maande ter see aan verhoudings doen, oor die staalmure van 'n skip...  Jonar se verhaal is vol wonders, wroegings, verwagtinge, teleurstellings en elke dramatiese aspek van 'n bindende verhaal.  Sy storie is inderdaad sonder weerga ...

Dit blyk ons elkeen is meer as 'n enkelsnit-storie - eindelik is ons 'n duisend verweefde verhale wat ons vorm tot iets eiesoortig en buitengewoon.   

Maar, Danie is nie nét daar om te luister na Jonar se storie nie.  Aan die hand van die Bybels uitgepak in die blinkskoon eetsaal, is daar ook 'n ander storie wat nou verweef word in hul gesprek... Dis die storie van 'n God wat diep bewus, bemoeid en betrokke is, en wil wees, by elkeen van ons.  'n God wie se storie van meet af met elkeen van ons vervleg is omdat hy ons gevorm, geweef, en aanmekaar gesit het?  

Vir Jonar is hierdie besef, oneindig baie werd.  Dit bring nuwe perspektief en hoop. Hy glimlag en druk die Tagalog Bybel styf teen sy bors vas toe hy uiteindelik groet.

By CSO is ons gemoeid met, en betrokke by seemanne se stories.  Meer as dikwels is die stories vol hartseer en soeke, en daarom is dit vir ons 'n ongelooflike voorreg om elkeen wat oor ons pad kom te herinner dat die Groot Storieskrywer se storie ook diep verweef is in hul eie.  

Wil u dit nie asseblief dringend oorweeg om ons hande sterk te maak met 'n finansiële bydrae nie?  U bydrae sal in hierdie jaar elke dag stories herskryf!

Dan ook dit - mag u in hierdie jaar onthou dat u storie sonder weerga is - merkwaardig en buitengewoon.  Mag u dan ook in 2025 beleef dat God bewus, bemoeid en diep betrokke is in u verhaal.  Daardie belofte is ontsettend baie werd.

Bankbesonderhede: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-226. 

 “Nee”, kom dit vinnig, ongeërg en beslis.  Daar is geen Christene aan boord nie, en dus word Danie se besoek daar en dan gestuit.  Dit is ‘n duidelike vurk in die pad... 

Hoe groots is twee van die kleinste woordjies in ons taal dan nie?  Tussen “nee” en “ja” is dikwels ‘n kloof wat gaap soos ‘n reuse wond in die aarde, ‘n donker afgrond wat die wêreld in twee skeur. Daar tussen, steil kranse, gehawend deur tyd, terwyl die dieptes onder ‘n koue en onverbiddelike leegte verberg.  Die ander kant, tog so naby, binne reik, maar tog ‘n duisend myl ver.  Hoe ‘n eenvoudige “nee” of enkele “ja” dan nie ons lewens bepaal en ons paaie karteer nie! 

 Die nee wat Danie op die skip kry is absoluut.  MAAR ...

 Dan, as hy amper weer oppad is by die trapleer af, noem een seeman terloops dat daar dalk een Christen aan boord is wat met hom wil gesels.  Skielik is die absoluutheid sagter en is die deur op ‘n skrefie oop. ‘n Gebabbel oor die radio en ‘n handgebaar wat wys dat Danie so bietjie moet aanhang, laat hom sy pas makeer.  Oomblikke later kom ‘n jongman te voorskyn.  “Ja, ja asseblief ...” en nou bevind Danie hom skielik in die binneruim van die skip, vanwaar hy oomblikke terug in ballingskap op die trapleer was.  Nie net nooi die seeman hom om te sit en te kuier nie, maar ook om die Bybels in sy knapsak op ‘n tafel uit te pak.    

 Terwyl Danie met die seeman sit en gesels, kom ander huiwerend nader om te kyk na die Bybels in hul eie taal...  Eers een, dan twee wat versigtig vra wat dit is en uiteindelik een optel en daardeur begin blaai. In die oomblik kan Danie die essensie van die boek in hul hande saamvat in drie woorde: Genade, liefde, hoop ...  

 Verrassend staan die een wat vroeër die onverbiddelike nee by die trapleer gegee het ook nader.  Skielik is daar ‘n miskien...

 En dan vra hy of hy dalk ook ‘n Bybel kan kry.

 Ons is dag na dag ooggetuies van hoe God op ongelooflike maniere absolute nee’s in ‘n ontvanklike ja’s verander.  Hoe kragtig is dit nie!  Wat vir ons lyk na ‘n onoorbrugbare kloof, is vir God moontlik.  U ondersteuning help elke dag om die boodskap van die Man van die Kruis na hulle te neem wat skepties daaroor is.  Van daar doen God dinge wat groter is as ons verstaan.  Van daar, soveel stories van definitiewe nee’s na omoorwonne ja’s. 

 Dankie dat u hieraan deel het!  Dit verander lewens.  

 

Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek 1520-230-226.

As ons vorm, is dit uit die volmaakte stofstorm.  Met die weer gaan lê, het stof weer die laaste sê.  Van stof, tot stof... ons blyk in sirkels te leef - siklies. ‘n Kil winter hou die verskuilde belofte van somer in, die grou donker van die klein ure van die nag, die sekerheid dat ons sirkel om die aarde se as, ons weer die kleure van dagbreek sal laat sien.  Die Oujaar se middernag-uurslag, nog eenkeer om die son ...  

 Seemanne is ewe gewikkel in ’n spel van ewige siklusse – die ewige eb en vloed van die see, die sonsopkoms wat oor eindelose water breek, en die maan wat dan die getye aanhits. Elke begin hoop op veilige hawens en eindig met die belofte van huis toe gaan.  Seemanne weet beter as die meeste dat die siklusse van die lewe, soos die see, nooit stilstaan nie. 

 Waar hul op die horison verby ‘n veraf strand seil waar nuwejaarsvure brand en vuurwerke die hemel helder inkleur, is dit meestal met ‘n diep versugting vir huis, vir die waarvoor hulle lief is ... By CSO, hoor ons elke dag hierdie stories -  dikwels stories wat ewe ekstreem as die storms en stiltes van die see is.  Ongekende eensaamheid en verlange, depressie en angs, oorloë, seerowers, gebroke families – ‘n seemanslewe.  

Hoe naïef sal ons wees om te dink dat die oujaarsklok alles sou kom verander, sou skoonwas?  Maar, daar is tog iets in die nuut van dié nuwe jaar.  Dit bring tog hoop dat dinge in hierdie siklus beter sal wees.  In ons geval, beter omdat ons na die Kind van die Krip se geboorte weer die pad na die Kruis begin stap.  En in die siklus van Krip-na-Kruis, is daar ‘n lewende hoop dat dinge wel beter sal wees, is daar die moontlikheid dat ons na hierdie omwenteling om die son sal kan terugkyk en sê, ‘dit was goed!’ 

In hierdie jaar, sal ons net soos dekades voor dit, met u donasie en gebede saam met seemanne op hul reise om die son gaan.  Dit sal ons weer bemagtig om onverpoos aan te hou vertel van die Een wat ongebind aan siklusse en sirkels en tyd en seisoene, altyd genadig is – van die Een waarin ons ‘n lewende hoop het!

Mag u ook in hierdie siklus daardie hoop en genade beleef.  En, as dit donker raak, mag jy aanhou asemhaal, want ons weet nooit watter wonders die volgende gety gaan bring nie.

Please, sir,  I want some more ??

Wie onthou die bekende woorde uit die klassieke boek, Oliver Twist van Charles Dickens (1838)?  Die bekendste musiekblyspel van alle tye is sekerlik die 1968 weergawe van die boek. En dis hier waar die jonge Oliver se lewe onherroeplik verander, wanneer hy dit durf waag om vir mnr Bumble nog kos te vra! En mnr Bumble wat dan bulder: “Moooore? You want more?” Vir my as jong kind was dit vreeslik ontstellend en is ek nog steeds huiwerig om daarna te kyk. 

Met die lees van die weeklikse stories uit die hawens uit, waar ons bedienaars reeds vir 80 jaar aan die voorpunt staan van die geestelike en fisiese versorging van seemanne en vroue wat ons hawens aandoen, het hierdie beeld skielik weer by my opgekom.

Hierdie manne en vroue waag hulle lewens elke dag om goedere uit ander dele van die wêreld na ons deurstoep te bring. Om die waarheid te sê, 90% van wêreld handel vind per skip plaas!

En weer is ek ontsteld. Wat gebeur as ‘n seeman vra: “Please sir,  I want some more” en ons het nie ‘n Bybel om te gee nie want ons het nie genoeg fondse nie?

Die gedagte is net ondenkbaar! Maar die enigste persoon wat kan keer dat dit gebeur, is u. Of dit R100, R150, R200 is of enige ander bedrag, dit kan verseker dat daar altyd genoeg sal wees om seemanne te versorg. 

U gereelde donasie sal dit moontlik maak om altyd hierdie vraag met ‘n besliste ‘Ja’ te kan antwoord! 

Ons bankbesonderhede: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-234.