ARTIKEL 1

In hierdie grondwet tensy strydig met die sinsverband, beteken: -

I “Beleid en prosedures” Die beleide en prosedures met betrekking tot al die werksaamhede van die CSO en soos vervat in Bylae “A” van hierdie grondwet. Wysigings aan die “Beleid en Prosedure” kan slegs deur middel van ‘n besluit deur die Dagbestuur aangeneem, geskied

GRONDWET VAN DIE CHRISTELIKE SEEMANSORGANISASIE

ARTIKEL 1

1. WOORDBEPALING:

In hierdie grondwet tensy strydig met die sinsverband, beteken: -

I “Beleid en prosedures” Die beleide en prosedures met betrekking tot al die werksaamhede van die CSO en soos vervat in Bylae “A” van hierdie grondwet. Wysigings aan die “Beleid en Prosedure” kan slegs deur middel van ‘n besluit deur die Dagbestuur aangeneem, geskied

II; “Boekjaar” ‘n Periode wat begin op 1 Januarie en eindig op 31 Desember van enige jaar;

III “CSO” Die Christelike Seemansorganisasie geregistreer as ‘n organisasie sonder wins oogmerk ingevolge die bepalings van die Wet op Organisasies sonder Winsoogmerk (Wet 71 van 1997);

IV “Dagbestuur” Die bestuursliggaam van die organisasie kragtens Artikel 6 ingestel;

V “Donateur” ‘n Individu of instelling wat die organisasie finansieel of op ‘n ander wyse steun;

VI “Gewone besluit” ‘n Besluit aangeneem deur die meerderheid van die stemme uitgebring deur die lede wat aanwesig is en stem of, in die geval van ‘n staking van stemme, aangeneem deur die beslissende stem van die voorsitter;

VII “Grondwet” Die grondwet van die Christelike Seemansorganisasie en soos van tyd tot tyd gewysig kragtens Artikel 10;

VIII “Hawekomitee” geskrap 2010

IX “Lidmaatskap” geskrap 2010

X “Jaarvergadering” Die bestuursliggaam van die organisasie kragtens Artikel 5 ingestel;

XI “Spesiale besluit” : ‘n Besluit aangeneem deur ‘n meerderheid van die totale getal stemgeregtigde lede;

XII “Tydelike Lidmaatskap” geskrap 2010


ARTIKEL 2

2. REGSPERSOONLIKHEID EN REGSAANSPREEKLIKHEID

2.1. Die CSO is ‘n (fiktiewe) regspersoon, staan apart van sy lede en ampsdraers, met die vermoë om regte te bekom en om as eiser of verweerder in enige regsaksies op te tree.

2.2. Die voortbestaan van die CSO as regspersoon word nie geaffekteer deur ‘n verandering in sy lidmaatskap of ampsdraers nie.

2.3 Lede en werknemers van die CSO het geen regte in die eiendom of enige bates van die organsasie, uit hoofde van die feit dat hulle lede of werknemers van die CSO is nie.

2.4 Die CSO hou ‘n presiese rekord van al sy bates en laste.


ARTIKEL 3

3. DOELSTELLING


3.1. Die doelstelling van die CSO is om ooreenkomstig die opdrag van God soos verwoord in die Bybel en gegrond in die Formuliere van die Drie Enigheid, die Evangelie aan alle volke te verkondig en in die besonder aan persone verbonde aan die seevaart.

3.2. Ter navolging van die doelstelling in subparagraaf 1 kan die CSO sodanige metodes en hulpmiddels aanwend soos van tyd tot tyd deur die Jaarvergadering kragtens die beleid en prosedures bepaal.


ARTIKEL 4

4. LIDMAATSKAP geskrap 2010


ARTIKEL 5

5. JAARVERGADERING

Die Jaarvergadering
5.1. bestuur die CSO in ooreenstemming met hierdie grondwet, beleid en prodesures en in besonder ter nastrewing van die doelstelling soos vervat in Artikel 3.

5.2. geskrap 2010

5.3. Neem alle besluite per spesiale besluit.

5.4. Oorweeg en aanvaar jaarlikse finansiële state asook jaarlikse begrotings van inkomste en uitgawe.


ARTIKEL 6

6. DAGBESTUUR

Die Dagbestuur
6.1. is verantwoordelik vir die dag tot dag bestuur en administrasie van die CSO; en

6.2. geskrap 2010

6.3. Alle besluite word per gewone besluit geneem.


ARTIKEL 7

7. HAWEKOMITEES geskrap 2010


ARTIKEL 8

8. PERSONEEL

8.1 Die Dagbestuur skep en vul sodanige poste wat nodig geag word vir die doeltreffende uitvoering van die CSO se bedrywighede,

8.2 Die afskaffing van poste, die aanstelling en afdanking van personeel sowel as alle ander personeel aangeleenthede geskied ooreenkomstig die CSO se aanvaarde “Beleid en prosedures”.


ARTIKEL 9

9 FINANSIES

9.1 Finansies word streng volgens die interne prosedures vir die verkryging en belegging en besteding van fondse bestuur.

9.2 Die Dagbestuur besluit by wyse van begroting en begrotingsbeheer oor die aanwending van alle fondse waaroor die CSO beskik, altyd met inagneming van die Grondwet van die CSO, die doel waarvoor die fondse geskenk is, die Wet op Finansiële Instellings (Belegging van Fondse) 1984 en die Wet op Beheer van Effektebeurse, 1985 (Wet no.1 van 1985).

9.3 Van alle fondse word behoorlik boekgehou en ontvangs erken.

9.4 Alle uitbetalings geskied per begroting of waar nodig met die vooraf goedkeuring van die verantwoordelike bestuursliggaam.

9.5 In noodgevalle kan dringende uitbetalings sonder vooraf goedkeuring deur die betrokke bestuursliggaam, maar met die medewete van die Dagbestuur, gedoen word.

9.6 Alle bates van die CSO, roerend of onroerend sal setel in, en indien nodig, geregistreer word in die naam van die CSO.


ARTIKEL 10

10. WYSIGING VAN DIE GRONDWET EN BELEID EN PROSEDURES.

10.1 Die CSO se Grondwet kan gewysig word deur ‘n twee-derde meerderheidsbesluit van alle stemgeregtigde lede en teenwoordig by ‘n wettig gekonstitueerde vergadering van die Jaarvergadering na minstens drie weke vooraf skriftelike kennisgewing. Sodanig kennisgewing moet volledige besonderhede van die voorgestelde wysiging bevat.

10.2 Die CSO se Grondwet en Beleid en Prosedures is bindend vir alle lede, tydelike lede en werknemers van die CSO.

10.3 Die Beleid en Prosedures word gewysig deur ‘n spesiale besluit deur ‘n wettig gekonstitueerde vergadering van die Jaarvergadering..

10.4 Enige verandering aan die Beleid en Prosedures word aan elke lid en werknemer van die CSO bekend gemaak.

10.5 Hierdie grondwet van die CSO vervang die grondwet wat gegeld het tot 4 Mei 2010 en wat voorheen gewysig is op 1 Desember 1983, 28 Augustus 1989, 26 Desember 2000, 29 September 2003 en 5 Maart 2007.


ARTIKEL 11

11. ONTBINDING

11.1 Die CSO word ontbind deur ‘n twee-derde meerderheidsbesluit van alle stemgeregtigde lede en teenwoordig by ‘n wettig gekonstitueerde Jaarvergadering, na minstens drie weke vooraf skriftelike kennisgewing. Sodanige kennisgewing moet volledige redes vir die voorgestelde ontbinding asook hoe daar oor die resterende bates van die CSO beskik sal word, bevat.

11.2 Indien daar na die ontbinding van die CSO enige bates oorbly nadat sy skulde vereffen is en verpligtinge nagekom is, sal die nie betaal word aan of verdeel word onder die lede van die CSO nie, maar sal gegee word aan ‘n ander organisasie(s) by voorkeur aan ‘n organisasie(s) wat soortgelyke doelstellings het wat gemagtig is om bydraes in te samel en wat die Jaarvergadering van die CSO aanwys op die vergadering waarop daar besluit is om die CSO te ontbind.

Die Domicilium Citandi Et Executandi van die organisasie is: -

Milpark 303
Ixiastraat
Milnerton 7441
Suid-Afrika