Soos daardie nag sal die hemelruim bo Bethlehem weer skitterend verlig wees.  Helaas, anders.  Die ster van daardie aand sou geduldig waghou oor die krip, ‘n padkaart wees om herders en wyses tot by die Kind te neem waaroor gesê is dat Hy Vredevors en Redder is. 

Hierdie keer, is die lig bo Israel kwalitatief anders. ‘n Helder en dramatiese ligvertoning wat die donker hemel op 'n skouspelagtige manier met vuurstrepe verlig voordat dit die horison vir ‘n kort oomblik in ‘n sagte gloed van oranje inkleur, voorspel onheil – tragedie, vrees, angs,lewensverlies ... die ergste erg.  

Die engelekore blyk uitgedoof te wees deur die gerammel en geraas van die grofgeskut wat oor die aarde dreun.  ‘Vrede op aarde ..’ het hulle daardie nag gesing; maar ons mense het daardie vrede verdring.  

Ander week vertel ‘n verslae seeman op ‘n skip in Gqeberha van die intense vrees wat gepaardgaan met ‘deur die Rooisee navigeer’. ‘n Ander stort sy hart uit oor die steeds woedende oorlog in Oekraïne waarby Noord-Korea ook nou skielik betrokke is en hoe dit hom en sy gesin raak. Hoe het ons nie maar almal slawe geword van die makro-politiese bestel nie!  Hoe het die weemoed van die bomme en totale chaos om ons, ons nie mismoedig en uitgelewer laat voel nie! 

En daarom, een keer ‘n jaar, staan ons stil by die Kind van die Krip – as teenvoeter vir die narratief dat alles verlore is. Soos ons elke dag van hierdie jaar, elke seeman in ons hawe ontvang het met die liefde van die Man van die Kruis, sal ons die Kerstyd elke seeman herinner aan die Kind van die Krip - aan engelekore wat ‘n alternatief voorstel ‘Vrede op aarde ...’!  

Elkeen wat in die kloue van vrees vasgevang is, elkeen wat ons genoeg vertrou om hul stories te deel – of dit is oor ‘n seerower aanval, of hul huwelik wat in stukke lê, of die isolasie aan boord wat hulle in depressie gedompel het, ons sal daar wees om hulle die versekering te gee dat Die Kind gekom het om die narratief te verander.  

Die mense van die see word disproporsioneel blootgestel aan die ergernisse van die lewe. Of dit oorlog is en of dit geestesgesondheid of verhoudings is – seemanwees is ontsettend kompleks.  U kan ons hande sterk maak om te verseker dat elkeen wat ons hawens besoek in hierdie Kerstyd, beleef dat die Kind van die Krip ‘n ander narratief daar kom stel het.  Een van vrede op aarde – nie net op ‘n makro-politiese vlak nie, maar ook op ‘n diep persoonlike een.   Wil u dit nie asseblief biddend oorweeg om hierdie Kersfees die CSO se werk finansieel te ondersteun nie?

En dan ook dit:  Mag u in hierdie Kerstyd op ‘n diep persoonlike manier beleef dat die Christuskind ook vir u vrede gebring het.

NS. Ons bankbesonderhede: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 630509. Rekno: 1520-230-226.