Wat is jou storie?
Ons elkeen is 'n storie - dit is hoe ons elkeen bestaan en leef. Daarin verweef is ons tyd, plek, inleidings en afsluitings. Daar is konflik, perspektief, toon, styl en atmosfeer. Daaroor gedink, is die grootste misterie dalk hoe elkeen van hierdie stories sonder weerga is - elkeen daarvan is eiesoortig, merkwaardig en buitengewoon.
Die derde ingenieur vertel nou sy storie vir Danie wat sy skip in Gqeberha besoek. Hulle sit om 'n koppie koffie. Die jongman se storie is eers vol ambisie - dit gaan oor die groot hoogtes wat hy wil bereik, wie hy eendag wil wees en dies meer. Soos Danie meer uitvra is dit duidelik dat sy werk-storie maar net een deel van hom is. Hy het ook 'n huis-storie - daarin is egter antagoniste en konflik en hartseer en hartbly. Hoe meer hy praat raak dit duidelik dat 'n storie wat geset is op die diep blou see, geensins eenvoudig is nie - die blote ruimte waar dit afspeel impliseer noodwendige intriges. Dis duidelik as hy praat oor alleen wees, oor wat 10 maande ter see aan verhoudings doen, oor die staalmure van 'n skip... Jonar se verhaal is vol wonders, wroegings, verwagtinge, teleurstellings en elke dramatiese aspek van 'n bindende verhaal. Sy storie is inderdaad sonder weerga ...
Dit blyk ons elkeen is meer as 'n enkelsnit-storie - eindelik is ons 'n duisend verweefde verhale wat ons vorm tot iets eiesoortig en buitengewoon.
Maar, Danie is nie nét daar om te luister na Jonar se storie nie. Aan die hand van die Bybels uitgepak in die blinkskoon eetsaal, is daar ook 'n ander storie wat nou verweef word in hul gesprek... Dis die storie van 'n God wat diep bewus, bemoeid en betrokke is, en wil wees, by elkeen van ons. 'n God wie se storie van meet af met elkeen van ons vervleg is omdat hy ons gevorm, geweef, en aanmekaar gesit het?
Vir Jonar is hierdie besef, oneindig baie werd. Dit bring nuwe perspektief en hoop. Hy glimlag en druk die Tagalog Bybel styf teen sy bors vas toe hy uiteindelik groet.
By CSO is ons gemoeid met, en betrokke by seemanne se stories. Meer as dikwels is die stories vol hartseer en soeke, en daarom is dit vir ons 'n ongelooflike voorreg om elkeen wat oor ons pad kom te herinner dat die Groot Storieskrywer se storie ook diep verweef is in hul eie.
Wil u dit nie asseblief dringend oorweeg om ons hande sterk te maak met 'n finansiële bydrae nie? U bydrae sal in hierdie jaar elke dag stories herskryf!
Dan ook dit - mag u in hierdie jaar onthou dat u storie sonder weerga is - merkwaardig en buitengewoon. Mag u dan ook in 2025 beleef dat God bewus, bemoeid en diep betrokke is in u verhaal. Daardie belofte is ontsettend baie werd.
Bankbesonderhede: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-226.