In die klein ure van die oggend skrik hy in die greep van 'n onsigbare monster wakker.  Sy asem blaas vlak en vinnig, en sy gedagtes tol in chaotiese sirkels.  Skielik is elke geluid, elke skaduwee en elke gedagte 'n doodse bedreiging.  Vir hom is dit 'n teken dat iets verskrikliks op die punt staan om met iemand naby hom te gebeur!

Die druk in sy kop is ondraaglik, soos 'n swaar storm wat opbou - maar net nooit breek nie.  Hy voel absoluut gevange.  In die skermutseling is elke oomblik 'n geveg om beheer - beheer oor sy gedagtes, sy asem, syhart en sy lyf.  Angs is geslepe en slinks. 

 Tog, na wat voel soos 'n ewigheid vind hy wel die reëlmaat van sy hartklop en asem.  Later, as hy vir sy dagtaak op die brug van die skip aanmeld, lê die nag se gebeure steeds vlak. Vir die dae wat volg voordat hulle in Coega vasmeer is hy heeltyds bewus van die tentakels van sy angstigheid wat hardnekkig soos 'n seekat om sy gemoed klou. 

In dié dae leef hy die stryd alleen soos 'n drenkeling tussen 'n duisend mense.  Hy het nie die moed om dit met 'n mede-bemanningslid te deel nie.  Hy vrees dat erkenning van sy stryd tot viktimisering en uiteindelik tot nadeel van enige bevordering sal lei.    

In Coegahawe, op 'n Donderdagmiddag, klim Danie op die houerskip, en sonder dat hy of die offisier dit weet, het God reeds 'n afspraak tussen die twee gemaak. Wat met eerste-sien oppervlakkige geselsies begin, verdiep vinnig  tot soveel meer. 

Vir die eerste keer kan die offisier sonder vrees vir viktimisasie of stigma, vir iemand vertel van die monster in die donker.  Danie luister met groot versigtigheid en met God se krag, begin die Heilige Gees die seekat se tentakel stelselmatig loswikkel.  Dit gee die seeman 'n kans om asem te haal.  Asem bring nuwe perspektief. 

Later, met die uitstap kan die emosioneleseeman nie ophou dankie sê dat Danie bereid was om te luister nie.  Dit wat Danie kon bied was nie 'n kitsoplossing nie.  Dis nie 'n vinnige regmaker wat die monsters in die donker met 'n vingerklap lewenslank sal grendel nie.  Maar, die liefde en hoop van die Man van die Kruis, bring nuwe perspektief.  Dit laat 'n drenkeling toe om vir 'n oomblik op te kom vir asem.  In daardie eerste teug nadat als om jou stil en donker was, is daar die moontlikheid van oorlewing.  Om die pad aan te hou stap is daardie eerste weer-asemhaal lewensbepalend.     

Die werk van die CSO is presies dit: Om seelui, wat weke of maande ver van huis af is, geestelike ondersteuning en 'n veilige ruimte te bied om hul vrese en bekommernisse te deel. Asseblief, u kan met 'n finansiële bydra help om ons hande sterk te maak sodat ons kan help as 'n seeman moet opkom vir asem.