'n Groot nee?
“Nee”, kom dit vinnig, ongeërg en beslis. Daar is geen Christene aan boord nie, en dus word Danie se besoek daar en dan gestuit. Dit is ‘n duidelike vurk in die pad...
Hoe groots is twee van die kleinste woordjies in ons taal dan nie? Tussen “nee” en “ja” is dikwels ‘n kloof wat gaap soos ‘n reuse wond in die aarde, ‘n donker afgrond wat die wêreld in twee skeur. Daar tussen, steil kranse, gehawend deur tyd, terwyl die dieptes onder ‘n koue en onverbiddelike leegte verberg. Die ander kant, tog so naby, binne reik, maar tog ‘n duisend myl ver. Hoe ‘n eenvoudige “nee” of enkele “ja” dan nie ons lewens bepaal en ons paaie karteer nie!
Die nee wat Danie op die skip kry is absoluut. MAAR ...
Dan, as hy amper weer oppad is by die trapleer af, noem een seeman terloops dat daar dalk een Christen aan boord is wat met hom wil gesels. Skielik is die absoluutheid sagter en is die deur op ‘n skrefie oop. ‘n Gebabbel oor die radio en ‘n handgebaar wat wys dat Danie so bietjie moet aanhang, laat hom sy pas makeer. Oomblikke later kom ‘n jongman te voorskyn. “Ja, ja asseblief ...” en nou bevind Danie hom skielik in die binneruim van die skip, vanwaar hy oomblikke terug in ballingskap op die trapleer was. Nie net nooi die seeman hom om te sit en te kuier nie, maar ook om die Bybels in sy knapsak op ‘n tafel uit te pak.
Terwyl Danie met die seeman sit en gesels, kom ander huiwerend nader om te kyk na die Bybels in hul eie taal... Eers een, dan twee wat versigtig vra wat dit is en uiteindelik een optel en daardeur begin blaai. In die oomblik kan Danie die essensie van die boek in hul hande saamvat in drie woorde: Genade, liefde, hoop ...
Verrassend staan die een wat vroeër die onverbiddelike nee by die trapleer gegee het ook nader. Skielik is daar ‘n miskien...
En dan vra hy of hy dalk ook ‘n Bybel kan kry.
Ons is dag na dag ooggetuies van hoe God op ongelooflike maniere absolute nee’s in ‘n ontvanklike ja’s verander. Hoe kragtig is dit nie! Wat vir ons lyk na ‘n onoorbrugbare kloof, is vir God moontlik. U ondersteuning help elke dag om die boodskap van die Man van die Kruis na hulle te neem wat skepties daaroor is. Van daar doen God dinge wat groter is as ons verstaan. Van daar, soveel stories van definitiewe nee’s na omoorwonne ja’s.
Dankie dat u hieraan deel het! Dit verander lewens.
Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek 1520-230-226.