Danie skep nog asem na hy die trapleer skip-op geklim het, toe is ‘n jong seeman al by.   Mens sal nie weet of dit die baadjie met die geborduurde Kruis daarop, of die afkondiging wat oor die luidsprekers blêr, dat iemand van die ‘mission’ aan boord is, wat die jonkman so blitsig laat naderstaan het nie.

‘Ek mis my familie’ is sy openingswoorde sonder om homself voor te stel.  Net dit.  Hy vuur die woorde af soos ‘n salvo geweerskote in die niet in.  Uit nêrens.  Sonder konteks of  verduideliking.  Dis ‘n noodkreet.  Dis rou.  Dis asof hy dit al maande swygend en swaar ronddra soos ‘n gloeiende kool wat hom gaan verswelg en hy nou nie meer vir ‘n sekonde langer kan verduur nie.  In die vier-woord kwatryn is sy verslaenheid en gebrokenheid onmiskenbaar. 

Vir Danie se geoefende oor, is geen konteks nodig nie.  ‘Ek mis my familie’ sê alles.  Wat kan erger wees.  Sit dit in die konteks van seeman wees, en die storie skryf homself ...

Danie skat hom ‘n bloedjonk sewentien of agttien jaar.  Hy’s net-net nie meer kind nie.  Net-net.  As hul eers ‘n stil plek kry om te gesels is Danie se vermoede in die kol.  Dis Carlos se eerste skip waarop hy werk.  Dis sy eerste keer weg van die huis af.  Huis is vêr en dis lank om weg te wees van vriende, familie en alles wat bekend is. Dis oorweldigend.  Elke dag vreet die diep verlang dieper. 

Dis vir die Carlosse van die see wat CSO daar is.  Dis vir elke Carlos wat in ons hawens aandoen en nodig het dat iemand moet luister, nodig het dat iemand saam hulle moet bid, nodig het om te hoor dat God hul stewig in Sy hand het ... dis vir elkeen van hulle wat CSO bestaan. 

Carlos en Danie sit lank en gesels - oor verlang; oor behoort; oor diep asemhaal en ook oor die God wat alle verstand te bowe gaan.  Uiteindelik stap Carlos met bietjie meer moed, regop skouers en ‘n Tagalog Bybel wat Danie uit sy knapsak kon aanbied, skip-in. 

Laat ons nie vir ‘n oomblik voorgee dat ons redders is nie.  Wat wel waar is, is dat ons soms in ‘n Godsoomblik op die regte tyd op die regte plek is om seemanne te help om nog eenkeer asem te haal.  Nog een asem is alles.  Die lewe is mos maar ‘n asem lank.  

U donasies laat ons toe om elke dag na die Carlosse van die see om te sien.  Oneindig dankie daarvoor. 

In meer as twee dekades se werk op skepe, het Nico al die herhalende en hartverskeurende verhaal 'n honderd maal sien afspeel ...  Die mengelmoes emosies van 'n seeman wat pa word terwyl hy êrens, duisende kilometers van die huis af, op 'n skip swoeg om vir sy familie te voorsien, is niks vreemds of nuuts nie.  Tog, is dit elke keer, selfs na twintig jaar, treffend.  

Met die koms van 'n kleinding as jy op die see is, is daar altyd euforie en tragedie in die lug.  Dis 'n geveg tot die dood toe tussen twee kragte wat meedoënloos meeding om die hart van 'n seeman.  En, Nico het al die slagoffers van beide gesien.  Soms is die euforie van die oomblik genoeg om 'n seeman deur te dra, ander kere weer, kry tragedie die opperhand en dan spin die lewe blitsig buite beheer tot midde-in 'n eksistensiële krisis.  Hoekom doen ek hierdie werk, watter tipe pa sal nie daar wees vir sy vrou en kind nie ... alles vrae wat jou dieper in 'n maalkolk dreig intrek.

Oliver, is 'n derde offisier.  Sy reis na hierdie seeman-lewe, is gekenmerk deur 'n sekere onvermydelikheid.  Dit was ver van sy eerste keuse. Net soos talle ander, wat in lande met beperkte werksvooruitsigte 'n lewe probeer oopkap, is keuses beperk.  Jy vat wat na jou kant toe kom, ongeag die prys.    

As Nico hom ontmoet, hang die gewig van hierdie grimmige werklikheid swaar om sy skouers.  Hy vertel hoe die kombinasie van lang, uitmergelende ure en die feit dat hy nog nie sy twee maande oue baba kon vashou nie, dikwels dreig om hom in te sluk.  Sy afwagting is tasbaar, en hy maak geen geheim daarvan dat hy die dae van sy kontrak nou verby wens nie.

Maar, hy dink reeds aan hoe hy weer sal moet afskeid neem.  Die Kersfees- en Nuwejaarsvieringe sal kortstondig wees.  Dan sal hy weer moet oppak, en weer by 'n skip moet aansluit.  Hy sal dit mis as sy seuntjie sy eerste woorde sê, sy eerste tree gee.  Maar, hy is ook vasberade om vir sy gesin te voorsien.  Hy moet doen wat hy moet doen ...

Op hierdie oggend, in Durban se hawe, is Nico se besoek 'n bestiering.  Die tydsberekening is nommerpas.  Daar blyk 'n Groter Hand in te wees, want Oliver het op hierdie spesifieke oomblik nodig dat iemand met deernis en Christus-liefde na hom omsien.  En dis waarom Nico 'per toeval’ op die regte oomblik op die regte plek is.

By CSO versorg ons daagliks seemanne wie se lewens aan boord 'n grim realiteit is waaruit hulle nie kan ontsnap nie.  Ons doen dit met die vaste wete dat daar geen 'toevallighede’ is nie, en dat hulle wat oor ons pad kom nodig het om die liefde, hoop en genade wat die Kruis bring te beleef.  Deur 'n finansiële bydrae te maak, kan u ons help om aan te hou om seemanne daagliks te versorg.  Dit is noodsaaklike werk.  Daarom 'n pleidooi:  Oorweeg dit asseblief biddend om ons te ondersteun in wat ons doen.

Hier is die skakel vir die debietorder: https://bit.ly/42iU2gO  Vul asb in en epos terug na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. Ons bankbesonderhede is: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-226. Gebruik u donateurskode as verwysing. Ons bly biddend vir mekaar.

Wat is dit om vry te wees? Is dit om nie binne vier vaal mure opgesluit te wees nie?  Of dalk as jy nie onderdruk word nie? Is dit as die lewe jou in ‘n slagyster-greep vang waaruit jy nie, ten spyte van jou hopelose gespartel, kan ontsnap nie?   Kan jy vry wees binne in ‘n tronksel?  Kan jy dus vry wees al is jy nie vry nie?

Dis die deurmekaar wonder-en-soek gesprek waarin Danie met Xavier gewikkel is op ‘n majestueuse houerskip wat vasgemeer is teen die kaai in Gqeberha.  Ten spyte van die skip wat imposant soos ‘n reuse berg in die hawe bo alles uittroon, simboliseer dit vir Xavier tronk.  Ja, hy is vry, maar is hy? 

Hy is nie onder arres of nie gevonnis tot afsondering in ‘n tronk nie, maar op die skip is hy vasgevang tussen die onsigbare grense van die wye oseaan en die grense van die skip self. As jy links stap is daar see.  Regs, dieselfde. Vorentoe, agtertoe ... see.  

Covid het die seeman-avontuur van onbekende lande en stede oor die aardbol heen verken, die doodskoot gegee.  Al is die pandemie vir meeste lank vergete en die virus wêreldwyd bedwang, kan seemanne steeds nie vrylik van die skepe afklim nie. Hulle kan maar net staar na die mense op die kaai en die wolkekrabbers van die stad bewonder vanaf die yster-dek.  Xavier was in die laaste ses maande net twee keer van die skip af. 

In hierdie maande het die grense van die skip ook die grense in sy kop geraak.  Hy voel man alleen, geïsoleerd en afgesny van die werklikheid. Soos die dae verby sleep word die alleen al meer, al ernstiger totdat hy nou hier voor Danie sit en emosioneel sy hart uitstort.  Danie kan met die vaardighede van meer as twintig jaar van seeman besoeke, vir Xavier help bewus word van ‘n ander werklikheid as die blote beperkings van die skip.  

As Xavier eindelik groet, merk hy op wat CSO se besoek vir hom beteken.  Hy merk op dat hul gesprek vir hom bevrydend was.  Dat hy maande laas met iemand anders as sy mede-bemanning gepraat het.  Vir ‘n oomblik besef Xavier dat hy vry is binne die plan en liefde van God. 

Daagliks breek CSO Evangeliebedienaars onsigbare kettings op skepe. Emosionele kettings, geestelike kettings, sielkundige kettings. 

Jou donasie maak dit moontlik. Baie dankie daarvoor. 

NS. Ons bankbesonderhede is: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-226. Stuur asssblief jou besonderhede aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. 

Dit is nou gereduseer tot bloot 'n voetnota.  Êrens, in die agterblaaie van die dag se nuus, verskuil tussen niksseggende beriggies wat bloot die bladsy volmaak, is 'n klein opskriffie wat jy sal miskyk as jy nie doelbewus daarna soek nie.  Selfs al lees jy die berig, skok dit nie meer nie.  Dis nou alledaags.  Nuwe nuus en nuwe ellende pryk nou in vet letters op die voorblad.  

Maar, dis nie waar vir die offisier wat voor Danie in Port Elizabeth se hawe sit nie.  Die verwoesting is vir hom so eg soos op daardie eerste dag.  Hy gesels emosieloos.  Sy oë is koud en kil wanneer die woorde oor sy lippe rol.  Dis woorde van dood, verwoesting en pyn.  Die oorlog in Oekraine, duisende kilometers vêr van Coega af,  het die laaste bietjie lewe en hoop uit hom gedruk en sy hart koud gelaat. Terwyl hy rammelend gesels, ontvou dieselfde prentjie wat ons by CSO elke dag in ons skeepsbesoeke sien ontvou.  Sy grootwordhuis is nou 'n hoop rommel.  Kinders wat dood is.  Mense wat eenvoudig werk toe stap, en dan die hoogste prys betaal aan die hand van 'n Russiese missiel.   Dis anders as jy daaroor lees in die agterblaaie.  Dis ver uit die oog, en so ook uit die hart.  Dis radikaal as jy soos hierdie man die name kan opnoem van hulle wie se lewens van hul gesteel is.  Vriende, familie, kennisse; dood. 

Dit voel vir Danie of om net te luister te min is.  As die seeman se dam woorde leeg loop, probeer Danie nie 'n pleister daarop plak of om met mooi woorde en wyshede die seeman se ervarings meer rooskleurig te maak nie.  Hy vra eerder of hy sal omgee as hy vir hom bid.  Uit die Bybel vertel hy van hulle wat ook gewroeg het en hy hoe hulle eindelik vir God op die mees onverwagse plekke midde in hul wroeging ontmoet het.

Baie later, as Danie oppad is, breek 'n rare glimlag deur.  'Dankie vir wat jy vandag kom doen het’, sê die man, nou duidelik emosioneel. Hy neem ook 'n Bybel en vra of Danie sal omgee om vir hom aan te hou bid. 

Terwyl Danie wegstap is daar 'n paar dinge wat hom bybly.  Eerstens, hoe ons nooit so gewoond mag raak aan die pyn en verwoesting in hierdie wêreld dat dit gereduseer word tot die agterblaaie nie.  Tweedens, om 'n diep bewustheid te hê dat ons nie magteloos staan nie.  Die Man van die Kruis het aan elkeen van ons hoop, genade en liefde gegee wat ons kan deel.  Selfs om net te luister, bring dikwels hoop. En derdens, hoe bevoorreg CSO is om donateurs te hê wat dit moontlik maak om met die liefde van die Man van die Kruis daagliks seemanne te ondersteun.  Wil u dit nie asseblief biddend oorweeg om die werk wat ons doen finansieel te ondersteun nie? Die nood is eg.

NS. Hier is die skakel vir die debietorder: https://bit.ly/42iU2gO Vul asb in en epos terug na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. Ons bankbesonderhede is: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-226. Gebruik u donateurskode as verwysing. Ons bly biddend vir mekaar.