In Jesus Christus altyd bemoediging
Dis ‘n ou, lendelam, ertsdraer... Die roes, verval, verniel en verweer, verkondig dat die skip se rakleeftyd-datum dreigend aan die deur klop. Voet aan dek, is jou gevolgtrekking eenvoudig, maar verdoemend – die skip sal binnekort tot skroot gemaak word. Vir nou, klou die eienaar halsstarrig aan geleende tyd - dis duidelik dat der laaste stukkie lewe uit die skip geseil gaan word. In Coega moet nog ‘n vrag gelaai word en nog ‘n bestemming moet van hier bereik word...
Binne-in die hart van die skip, in die ruim, is seemanne besig om te werk en te leef. Dis hulle wat die flenter-skip op koers en bokant die water moet hou.
‘n Bloedjong kelner doen in die eetsaal diens. As Danie vra, verduidelik hy dat hy al 3 jaar seeman is. Maar, agter die jonkheid is iets wat mens aan die toestand van die skip herinner te bespeur - verval, verniel en verweer blyk iets van die jong man te gesteel het.
Dis die CSO Bybels wat uitgepak is wat eindelik die gesprek swaai na die hart van die seeman. Daar woed bekommernis en magteloosheid wat nou al so gewortel is dat die vrugte daarvan in sy stap en sy omgang met hulle rondom hom te siene is. Hy is al agt maande weg van die huis af - dis dertig dae voor sy vliegkaartjie hom terug daarheen sal neem. Wat daar wag, is aaklige realiteite wat sy siel verlam en hom hier waar hy voor Danie in die eetsaal sit, vervalle, verniel en verslaan laat lyk.
“Hoe gaan ek hierdie 30 dae oorleef?” wil hy dringend weet “Gee asseblief vir my ‘n woord van bemoediging.” Dis ‘n onbeskaamde hulpkreet. Jong oë pleit vir woorde van iemand of êrens wat hom kan dra tot by die huis.
Dit vat luister, omgee en empatie om die jong man se gemoed te laat bedaar. Ook kry hy nie net “‘n woord” nie, maar hy kry ‘Die Woord’. In die Tagalog Bybel gaan soek hulle saam na God se woorde van bemoediging. Hy lees en hoor dat God by hom en sy familie is en kry dit reg om sy bekommernisse voor God se voete te plaas.
Danie kan ‘n paar keer met hom kuier voor hy ‘n paar dae later hawe-uit oppad is. Nie net vat hy sy nuwe Tagalog Bybel saam wat hom bemoedig nie, hy vat ook die tyd wat hy en Danie saam kon spandeer saam, om hom te dra deur die dae voor sy vliegtuig hom huis toe vat.
Elkeen wat vervalle, verweer en verniel word verdien om raakgesien te word en ook om weer en weer die vaste versekering te kry dat daar in Jesus Christus altyd hoop is...
Wil u dit nie biddend oorweeg om ons finansieel te ondersteun sodat ons elke seeman wat ons hawens besoek hieraan kan herinner nie.
EFT Christelike Seemansorganisasie ABSA Bank Tjek 630509 Rekno. 1520-230-226