Mong, die derde offisier op die CENTURY CHENZHOU het dit weereens die afgelope week vir Nico bewys - soms is woorde ‘n oormaat - dit kan wees soos ‘n stroom sonder rus wat onbeheers oor die rand van stilte bruis en rigtingloos koers inslaan.

Selfs vir die kundigste woordsmid, wat met groot vernuf en vaardigheid mooi sinne kan saamstring, verdwaal betekenis al te maklik in ‘n doolhof van dubbelsinnighede.  Soms verwar woorde, of versteek dit waarheid, en ander kere weer, verdoem dit.  Woorde kan ‘n brug of ‘n afgrond wees...  

En dan weer kan ‘n blik, die ritme van ‘n sug, ‘n traan, ‘n half-glimlag of ‘n stilte meer sê as ‘n duisend woorde saam – asof dit wat diep voel, sonder naam of woorde kan bestaan. 

Mong en Nico se woorde is gesteel deur hul onvermoë om mekaar se taal te praat.  Hul woorde is eerder afgrond as brug, en selfs elkeen se beste pogings en bedoelings om mekaar met woorde te vind, is hopeloos ondoeltreffend. Dus, is hul ontmoeting nou stil...   

Maar, dis juis in hierdie stilte waar hul mekaar op ‘n onwaarskynlike manier vind.  Ironies dan, dat ek die diepte van hierdie stilte nou hier met woorde probeer beskryf...  

Wanneer Nico vir Mong ‘n Bybel in sy eie taal gee, wanneer hul oë mekaar vriendelik ontmoet, wanneer daar, ten spyte van die woordeloosheid van die oomblik, tussen hulle ‘n wedersydse verstaan van die grootheid van die oomblik, is die stilte tussen hulle ‘n brug wat ‘n duisend woorde nie kan bou nie.  En, as Nico agterna vertel van hul ontmoeting, dan vertel hy ook hoe hy in die moment diep bewus was van God se teenwoordigheid.  Hy vertel ook dat hy beleef het dat Mong diep bewus was dat hierdie ‘n Godsoomblik is.     

Soms lê ons bedienings in dit wat nie met woorde vertel kan word nie.  Soms is ons verstaan gebrekkig, en juis dan wil ons verduidelik, praat, redeneer en uitklaar en al die mooi dinge wat ons dink ons woorde sal vermag.  Maar soms, is woordeloosheid genoeg om mense diep aan te raak en te beweeg.  Want, God is soveel groter as dit wat ons met woorde kan vermag!

Mag u bewus wees van elke storie waarin u bydrae aandeel het, maar spesifiek ook, bewus dat u bydrae soms op maniere werk wat nie eers die beste woordsmid kan verwoord nie.  Want, God is inderdaad groter as dit wat ons woorde of verstand ooit kan begryp.  Dankie vir u aandeel hierin.