In ons wêreld is die waarskynlikheid dat iemand dit nog nooit teëgekom het nie, uiters raar. Hier, is dit alledaags - gestapel op bedkassies, netjies op die hoekie van die lessenaar of op die sideboard in die voorhuis, dalk gewyd gemaak staan op die sitkamer rak – vrylik beskikbaar by 'n winkel om die hoek. So vanselfsprekend.
Loffie is op die JOSCO HUIZHOU, 'n majestueuse steenkool vragskip op anker in Richarsbaai. 'n Twintig man sterk Chinese bemanning is aan die stuur van die ysterkolos se kom en gaan. Twee van die twintig is op hul beurt by die sekuriteitspunt, waar Loffie aanmeld, verantwoordelik vir besoekers se kom en gaan.
As jy tyding kry dat daar slegs Chinese bemanning aanboord is, bly jy biddend hoopvol en vertrou in 'n Groter hand wat harte onverwags kan roer. Niemand sou jou egter kwalik neem as daar 'n sweempie pessimisme in jou gemoed deurslaan nie, want met gekiedenis as rigsnoer, is die kanse van 'n sinvolle gesprek oor die Evangelie skraps. Baie ervaring, skeepsbesoeke en toe deure, temper die optimisme as jy voor 'n Chinese skip se trapleer na die dek staan.
Maar, Loffie is onverskrokke - altyd hoopvol, altyd biddend, vol vertroue in Hom wat soveel groter is as toe deure. Daarom klim hy ongehinderd deur die geskiedenis van dinge, die trapleer na bo. Hy't moeite gemaak om basiese frases in Mandaryn te leer om sy weg deur 'n dikwels ontoeganklike en soms vyandige situasie te vind.
'Nǐ hǎo', word daar gegroet. Loffie verduidelik sy daarwees so goed hy kan. Sy Mandaryns is vaardig genoeg om die twee wat eers skepties was tog te oortuig om hom 'n kans te gee. Dit-en-dat word bespreek voor Loffie sy rugsak afhaal en oopknip. Uit sy knapsak haal hy Chinese DVD's en twee Chinees-Engelse Bybels. Die seemanne vat dit versigtig met vraagteken wenkbroue en oë wat verklap dat onseker is.
'Al ooit 'n Bybel gesien?'
'Nog nooit' kom die antwoord. Nog nooit gesien, vasgehou of daarvan gehoor nie.
En skielik is 'n situasie wat meeste baie pessimisties sal bejeën, een waar 'n Groter hand saad saai op 'n nuwe land. Met die Engelse vertaling langs die Mandaryns, kan Loffie verduidelik van die Man van die Kruis. Hy kan die saad netjies verpak en water gee met die tyd wat hy met die twee manne deurbring. Voor hy eindelik koers kry na 'n volgende skip bring die woorde 'miang fy' 'n glimlag op die twee Chinese se gesigte - dis 'n geskenk.
Donasies aan ons maak hierdie gesprek moontlik! Dankie daarvoor.
Eintlik moet jy vandag tyd maak om Genesis 21 te lees. Dit is die verhaal van Abraham, Sara en Hagar. Hagar kry ‘n seun by Abraham. Sara raak jaloers en beveel vir Abraham om Hagar en Ismael weg te stuur. Daar is die twee toe die woestyn in. Dit gaan so sleg dat Hagar haar seun onder ‘n bos neerlê om te sterf.
Die teksvers sê dan: Die Here het die kind gehoor. God gee toe uitkoms.
In die skrifdeel en die verhaal van die drie mense, staan dit baie duidelik. My Here hoor. Die Here hoor vir Abraham. Sy versugting na ‘n kind van sy eie. Vir baie lank het Abraham gewag. Hy hoor die pyn van ‘n leë vaderhart. Die Here hoor sy pyn oor sy kind wat hy moes gaan offer. ‘n Pa-hart wat skreiend ten hemel skreeu. My kosbare kind!
Die Here hoor ook Sarai se versugting na ‘n kind en haar leë moederskoot.
Die Here hoor vir Hagar, haar pyn as sy die woestyn ingejaag word en van haar eienares af wegvlug daarheen. Hy hoor haar angs as sy haar eersteling-kind onder ‘n bos gaan sit sodat hy van honger en dors moet sterf.
Die Here hoor jou. Daar is geen trauma en geen wanhoop van jou wat by die Here verbygaan nie. Hy hoor jou pyn, kommer, seer en verlange vandag. Die Here hoor. Ongeag die draaie wat die lewe maak. Ongeag ons planne….
Dit is wat die seemanne moet hoor. Dit is wat hulle by CSO en by jou moet hoor. My Here hoor. En dis ook wat jy moet hoor.
Luister na hierdie pragtige lied van Rina Hugo (met toestemming gedeel)
MY HERE HOOR.
Album: Die Nuwe Jerusalem.
As jy die nuus kry, sou jy wou glo dat die skip nou siekeboeg is, maar siekeboeg veronderstel tog sorg? Eerder, is dit 'n drywende ysterkolos wat uitgeweke, verban op anker lê. Almal hou vêr verby, want die pes is aansteeklik - Skoppensboer blykbaar aan boord. Die sestien sterk manskap uit die Filippyne, het die dodelike variant saamgebring uit Indië.
Nou is hulle vyftien. Skoppensboer.
Waar vlug jy heen, waar skerm jy teen die onsigbare as die onwelkome indringer saam jou op 'n skip vasgekeer is en tussen Indië en Durban daar net water en water en water lê? Een-vir-een sien jy die simptomes in hulle rondom jou. Eers, 'n koggelende kuggie, met 'n onderskrif wat laggend impliseer dat hy jou ook nog sal vang. Dan koors. Dan asemnood. Dan, een van jou maats wat deur 'n groep medici, geklee in oorlogspakke teen die virus, êrens na 'n hospitaal in Durban verdwyn. Dan jy wat kug. Jy wat kortasem is. Jy wat wonder – is hierdie versmoor of verdrink? Dan die skielike, diepe besef dat hierdie lewe werklik maar net 'n asem lank is.
Toegang tot die skip is vir Evangeliebedienaars 'n taboe, maar steeds werk hulle onverpoos vir elkeen aan boord. Daar word bes moontlik na elke seeman se basiese behoeftes omgesien. Aankope van die winkel word oudmodies per tou na die dek opgehys. Die aankope sluit die basiese in, maar ook iets spesiaal net sodat hulle kan weet hulle maak saak. Daar word mobiele Wi-Fi aan die skip voorsien sodat elkeen aan boord ten minste hul families kan skakel. In sommige gevalle skakel ons ook, op versoek, die families om ook hulle te probeer troos en gerusstel.
Ook bemoediging van ons op wal aan die aan boord moet via die internetverbinding gebeur. In hierdie gesels is die angs en vrees daglig-duidelik. Maar ook ons boodskap: Jy is belangrik. Die Seun van God het jou so lief dat Hy sy lewe vir jóú gegee het.
Nou, in ons chaotiese wêreld, is die werk wat CSO doen belangriker as ooit. Wil u dit nie dringend, biddend oorweeg om hierdie werk, vir hulle wat dikwels vergete en selfs uitgeworpe is, te ondersteun nie? Dit bring die Evangelie en maak 'n daadwerklike verskil.
Kliek hier vir die verskillende maniere wat u kan gebruik om ons te ondersteun.
Van 'n afstand, lyk die man in die grondpad gemoeid met die aarde onder sy voete. Dis asof hy die een of ander ritueel aan die uitvoer is. Dis effe vreemd, vang die oog van elkeen wat van herwaarts of derwaarts daar verby oppad is.
Die stukkie teater is aan die afspeel in die nuwe hawe in Ngqura, in die Vriendelike Stad. Gedeeltes van die hawe is steeds ongeteer. Veral daar waar erts gelaai word is groot stukke van die kaai nog barre aarde. Daar is geen landskapargitektuur wat die hardheid van die grond wat daagliks die aanslae van honderde vragmotors wat miljoene tonne erts na die ruim van die skepe bring, versag nie.
Danie, eg na karakter, knoop in die verbyloop 'n geselsie aan. Die man in die stofpad is 'n seeman van Sri Lanka. Selfs in gesprek, stap die man met sy kaal voete in die stof, sy skoene, 'n ent daarvan af, netjies langs mekaar, asof rekwisiete. Sy oë, slegs gefokus op die aarde, asof hy spoorsny, dalk na 'n skat soek.
Dan glimlaggend, amper emosioneel aan Danie: “Ek stap om weer grond onder my voete te hoor en te voel.” En net so, is wat 'n 'per-ongeluk' ontmoeting is, 'n pastorale gesprek. Die seeman vertel van hoe die dae weke, en die weke maande geword het en hy in meer as 'n jaar nie toegelaat is om van sy skip te klim nie.
Die gesprek gaan van aarde en grond na dieper hunkeringe soos vastigheid, ankers, onveranderlikes, konstantes. In die immer-onsekere pandemie was een van die seeman se grootste hartsbegeertes om weer die aarde te voel – al is dit hier in die hawe - rou, onooglik en met olie en roet versuur - maar aarde.
En so loop Danie en die man saam-saam. Op-en-af, op-en-af op vaste aarde. In hulle saamstap raak die grond terapie vir die seeman se gemoed, en in die Woord van God wat Danie deel vind hy onverwags meer – Vastigheid, 'n Anker, 'n Konstante.
Met u donasie stap ons saam met seemanne. Dikwels, in die saamstap, is ons instrumente wat hul deur genade terugneem na die een Konstante, die een Anker – die Man van die Kruis. Ons is ontsettend dankbaar vir u bydrae. Dit maak saamstap moontlik.