In 1991 het ons begin werk in die Port Elizabethse hawe. Ons het begin met ’n deeltydse werker, maar die werk het gegroei tot 'n voltydse pos!

Ons het ’n kantoor naby die hawe waar die sendingwerker Bybels en ander literatuur kan hou, terwyl die kantoor ook gebruik kan word om met seemanne te gesels.

 

Sendingwerker aan die werk

Ertsstof dwarrel onheilspellend om die trapleer wanneer Danie aan boord klim. Dit eggo die warrelende gedagtes in sy gemoed.  Warrelgedagtes is roetine wanneer jy die eerste keer voet aan dek sit op 'n nuwe skip. Wie gaan jy daar aantref? Hoe sal jy ontvang word? Is hier geleentheid om God se werk te doen? Wie gaan oor jou pad gestuur word? Alles vrae wat deur jou gemoed speel.
Bo gekom, groet 'n toegedraaide gesig wat sekerlik onder protes in die stofwolk diens doen, vir Danie.  Tog is die oë vriendelik en die stem agter die serp warm.  Na 'n vinnige radio-oproep na die brug, bied hy aan om vir Danie na die kaptein te neem.  Hy's waarskynlik ook maar te dankbaar vir 'n geleentheid om van die verswelgende stof te ontsnap. 
 
Die kaptein is jonk – op die oog af selfs jonger as die ander bemanning.  Hy gesels opgeruimd en vriendelik en as almal om hom met hul werk besig word, nooi hy vir Danie na 'n eenkanthoekie.

Skielik is die jong gesig oud.  Oud voor sy tyd.  Jonk in jare moet hy met die verantwoordelikheid en wysheid van ‘n ou man die skip stuur.  Die druk is geweldig. 

"Ek moet net met iemand praat", dringend – huiwerig – selfs kort van asem , "anders gaan ek dit nie maak nie". Nou duidelik kwesbaar.  Elke aand oorweeg hy dit om die berg op sy skouers met sy vrou te deel.  Maar, elke aand weet hy dat dit meer sleg as goed sal doen - dat dit paniek sal bring vir hulle by die huis.

En dan vertel hy die storie van houtskepe met ystermanne daarop.  Hy vertel van die persepsie wat soveel mense daar buite het dat seemanne rowwe diamante is – ystermanne, wat nie vir die duiwel stuit nie.  Van hoe hy moet taai wees, ten spyte daarvan dat hy  swak voel.  En daarom durf hy nie vir 'n oomblik kwesbaar  wees voor sy bemanning nie.

Maar tog, erken hy, is hy kwesbaar.  So kwesbaar.  En wie, wil hy weet, wie sal luister?  Wié sal luister? - laat hy dit vir 'n tweede keer in die lug hang.  

Terwyl  Danie se gedagtes soos 'n warrelwind gewaai het met die aanboordgaan is dit nou in kalm waters.  Dit is presies waarvoor ek hier is, kan hy die versekering gee. Gestuurde, met 'n opdrag om by seemanne te wees, om spits-oor en aandagtig  te luister.
So kruis Danie se pad met die jong kaptein.  En so, met fyn geoefende ore, kon Danie agter die bravade en toertjies naby genoeg kom om te besef dat daar 'n fluisterstem is wat niemand hoor nie.  So begin Danie se pad met die fluister-Kaptein wat 'n ruimte soek om dit wat hy saamdra, te kan deel.  Iets waaraan saam  gedra word, is mos ligter.  En eindelik kan Danie hom verseker, 'Hy het jou by jou naam geroep, jy is Syne.'