Dis so vanselfsprekend
In ons wêreld is die waarskynlikheid dat iemand dit nog nooit teëgekom het nie, uiters raar. Hier, is dit alledaags - gestapel op bedkassies, netjies op die hoekie van die lessenaar of op die sideboard in die voorhuis, dalk gewyd gemaak staan op die sitkamer rak – vrylik beskikbaar by 'n winkel om die hoek. So vanselfsprekend.
Loffie is op die JOSCO HUIZHOU, 'n majestueuse steenkool vragskip op anker in Richarsbaai. 'n Twintig man sterk Chinese bemanning is aan die stuur van die ysterkolos se kom en gaan. Twee van die twintig is op hul beurt by die sekuriteitspunt, waar Loffie aanmeld, verantwoordelik vir besoekers se kom en gaan.
As jy tyding kry dat daar slegs Chinese bemanning aanboord is, bly jy biddend hoopvol en vertrou in 'n Groter hand wat harte onverwags kan roer. Niemand sou jou egter kwalik neem as daar 'n sweempie pessimisme in jou gemoed deurslaan nie, want met gekiedenis as rigsnoer, is die kanse van 'n sinvolle gesprek oor die Evangelie skraps. Baie ervaring, skeepsbesoeke en toe deure, temper die optimisme as jy voor 'n Chinese skip se trapleer na die dek staan.
Maar, Loffie is onverskrokke - altyd hoopvol, altyd biddend, vol vertroue in Hom wat soveel groter is as toe deure. Daarom klim hy ongehinderd deur die geskiedenis van dinge, die trapleer na bo. Hy't moeite gemaak om basiese frases in Mandaryn te leer om sy weg deur 'n dikwels ontoeganklike en soms vyandige situasie te vind.
'Nǐ hǎo', word daar gegroet. Loffie verduidelik sy daarwees so goed hy kan. Sy Mandaryns is vaardig genoeg om die twee wat eers skepties was tog te oortuig om hom 'n kans te gee. Dit-en-dat word bespreek voor Loffie sy rugsak afhaal en oopknip. Uit sy knapsak haal hy Chinese DVD's en twee Chinees-Engelse Bybels. Die seemanne vat dit versigtig met vraagteken wenkbroue en oë wat verklap dat onseker is.
'Al ooit 'n Bybel gesien?'
'Nog nooit' kom die antwoord. Nog nooit gesien, vasgehou of daarvan gehoor nie.
En skielik is 'n situasie wat meeste baie pessimisties sal bejeën, een waar 'n Groter hand saad saai op 'n nuwe land. Met die Engelse vertaling langs die Mandaryns, kan Loffie verduidelik van die Man van die Kruis. Hy kan die saad netjies verpak en water gee met die tyd wat hy met die twee manne deurbring. Voor hy eindelik koers kry na 'n volgende skip bring die woorde 'miang fy' 'n glimlag op die twee Chinese se gesigte - dis 'n geskenk.
Donasies aan ons maak hierdie gesprek moontlik! Dankie daarvoor.