+27 21 551 2694 cso@mweb.co.za

In 1944, het die Gereformeerde Kerke en die Hervormde Kerk in Kaapstad besef dat daar 'n ernstige behoefte was onder die seemanne wat die hawe besoek. Op 9 November 1944, het die gemeentes begin werk om voorsiening te maak vir die behoeftes van Nederlandse soldate en seemanne op pad na en van Indonesië. Toe is alle werk vrywillig gedoen.

Vir baie jare het net Hollandse skepe enige aandag gekry, maar dit het geleidelik baie duidelik geword dat daar groot geleenthede was vir sendingwerk onder ALLE seemanne in die Kaapstadse hawe. Sedertdien het die werk ten volle interkerklik geword en dit het geweldig gegroei.

 

Sendingwerker aan die werk

'n Jongspan Filippyne staan op dek om ons bedienaar en kloek.  Dis 'n feestelike gedoente wat 'n buitestander aan Babel sal herinner.  Musse en serpe word uitgedeel.  Daar word uitgeruil en aangepas totdat elkeen in 'n serp en mus opgetof is wat binne hul kleur- en modevoorkeur val.  Daar word speels gemaak asof hulle op 'n loopplank paradeer en dan geskaterlag as hul allerhande lawwe bewegings maak.
 
Die lewe op die see is hard genoeg en 'n ligte, speelse oomblik doen baie vir die gemoed.

Uit die hoek van sy oog sien ons bedienaar 'n reuse man aangestap kom.  Sy gesig is strak, sy lyftaal outoritêr  en dis duidelik dat hy nie sy mede-bemanning se entoesiasme deel nie.  Sy aankoms is 'n onmiddellike demper op die feestelike atmosfeer en nou is dit asof daar 'n tikkie spanning in die lug hang.  Hy moet 'n offisier wees, dink hy.

Skielik is hy langs ons bedienaar en dis duidelik dat ondersoek ingestel word na die manewales op die dek.  Met dik swart vraagteken-wenkbroue wat woordeloos in ons werker se rigting gluur neem ons aan dat hy wil weet wat ons daar soek.

Hy begin verduidelik maar praat sommer so in die groep in asof hy nie erg aan die man het nie.  Uit sy knapsak haal hy 'n stapeltjie 'Little Bibles’, genoeg vir elke bemanningslid.  Die klein Bybeltjie beskryf op 'n eenvoudige manier met teksverse die pad na verlossing.  Soos ons werker die verhaal deel hou hy steeds effe bekommerd die man wie se hande oor sy bors gekruis is dop.  Hy verduidelik dat die Kruis vir elkeen is ...

Hy deel die Bybels uit, merk op dat die man se lyftaal nou iets onsekers verklap.  Dan draai die man op sy hak om en kies rigting die skip in.  Nou steek gretige hande van die ander bemanning uit sodat hulle nie oorgeslaan word nie. 

Dis dan, op die laaste oomblik voor ons bedienaar skip-af koers kies dat die groot man weer verskyn en woordeloos sy hand uitsteek om ook een van die Bybeltjies te kry.  Sy liggaamstaal is nou anders, sy stem sag as hy dankie sê.

En in daardie oomblik weet hy dat 'n harde hart, nou sagter is. Dit was toe al die tyd 'n afspraak, 'n beplande Godsoomblik sodat hierdie man ook die storie van verlossing kon hoor. En dis wat ons donateurs gedoen het.  Daarvoor ontsettend dankie!