Wanneer die uurglas leeg is..
Daar is bitter-en-soet in Carl se verhaal. Terugskouend oor ‘n loopbaan van dekades is die soet ‘n duisend seeman-avonture wat oor die wydte en breedte van die aardbol afgespeel het. Hy sou ‘n boek kon skryf oor sy verkenningstogte van vreemde en eksotiese plekke oor die wêreld heen, plekke waarvan die meeste van ons maar net kan droom.
Maar die bitter, is galbitter. Binnekort is hy weer oppad huis toe na amper nege maande op die see. Jare van nie-daar-wees-nie het sy gesin se verwagtings van hom getemper totdat hy eintlik maar bloot die oom was wat elke maand ‘n tjek in die pos sou sit. Sy nie-daar-wees is uiteindelik genormaliseer as ‘n noodwendige deel van sy gesin se bestaan. As hy hierdie gewaarwording hardop sê, verklap sy gesig hoe diep sy eie woorde in hom insny.
Die hartseer daarvan dat hy ‘n lewe met sy kinders gemis het, is nou, na al die jare oorweldigend. Hierdie keer sal hy teruggaan na ‘n huis waar net sy vrou oor is. Hul laaste en derde kind is nou huis-uit om ‘n lewe van sy eie te gaan maak. Vir jare het Carl gehoop en vas geglo dat daar 'n tyd sou kom waarin hy meer kwaliteittyd saam met sy gesin kon deurbring. Maar, dit het nooit gekom nie. Daar was altyd nog ‘n rekening wat betaal moes word of ‘n dringende rede hoekom hy sy vakansie moes kortknip om weer op die skip te moes klim.
En skielik, in ‘n oogwink, is die uurglas leeg. Hoewel hy en sy gesin op goeie voet is, is hul praatjies meer uit plig as plesier. Dis sommer so bo-langs, want almal weet dat pa binne dae weer êrens die vreemde in sou verdwyn net om weer maande later ‘n baie tydelike blitsbesoek te bring.
‘As ek maar net ...’ kom die selfverwyt en magteloosheid. ‘As ek elke avontuur kon opgee vir ‘n tweede kans ..’ wensdenk hy. En met elke sin, raak die bitter net meer bitter.
Nico van CSO sit stil-stil na Carl se storie en luister. Sonder dat hy verwyt of beterweterig is, kan Nico deur die regte vrae te vrae die deur na ander moontlikhede op ‘n skrefie oopmaak. Hy kan hom oortuig dat daar tog nog hoop is omdat Nico weet dat die Man aan die Kruis wat sy lewe vir elkeen van ons gegee het, tweede kanse gee. Ongeag Carl se uitdagings en selfverwyt, is daar 'n groter teenwoordigheid wat saam met hom stap – 'n Teenwoordigheid wat troos en leiding bied, mits hy sy hart daarvoor oopmaak. Dit bring vir ‘n oomblik ander perspektief – die perspektief dat daar soms uit totale hopeloosheid ongelooflike nuwe dinge spruit.
Met die afskeid is daar 'n glimlag op Carl se gesig, want al is dit net vir ‘n oomblik, glo Carl dat hy, ten spyte van sy hartseer, begin het op 'n pad van genesing en selfontdekking.
Ons donateurs gee ons by CSO daagliks die ongelooflike geleentheid om na seemanne se stories te luister en hulle te herinner aan die Een wat altyd ander deure oopmaak as ons dink dat daar geen meer uitweg is nie. Namens Carl en elke seeman, ontsettend dankie!
EFT: Christelike Seemansorganisasie. ABSA Bank. Tjek. 1520-230-226