Dis die vierde keer dat Chris homself in die hof bevind. Oor die afgelope ses of sewe weke het hy die Indiese seeman wat in Westville gevange is, op elke moontlike manier ondersteun.  

Van waar Chris die verrigtinge nou uit die gehoor vanaf 'n hofbankie dophou, sien hy die man wat hy oor die afgelope weke beter leer ken het ingestap kom. Sy lyf is snaarstyf gespan, en die angs en vrees oor wat die uitslag van die verrigtinge gaan wees, is rugbaar in sy lyftaal geskryf. 

Maar hoe kan mens hom blameer?  Hy bevind hom in 'n volksvreemde land waar hy geen kind of kraai het nie, toegesluit in 'n haglike en kil sel saam met skelms, skarminkels en dronkaards. Elke sekonde daarvan is 'n angswekkende nagmerrie. 

Die grappie loop dat almal in die tronk slagoffers is, en eintlik onskuldig is.  In sy geval is dit egter waar.  Hy en 'n kollega is  weens immigrasie probleme gevange geneem. Die eienaar van die skip waarby hulle aangesluit het, wat 'n man van bedenklike karakter is, het nie van 'n skeepsagent gebruik gemaak sodat hulle op die korrekte manier by die skip kon aansluit nie. Hul regsverteenwoordiger is vuurwarm onder die kraag en maak dit woedend aan elkeen wat wil luister duidelik dat hulle niks anders as die slagoffers van mensehandel is nie.  Hul grootste oortreding is dat hul in 'n strik gevang is deur beloftes van indiensneming wat sou beteken dat hulle en hul gesinne uit die vloek van armoede sou kon ontsnap.  Hulle het niks.  

Die spanning in die beskuldigde se lyf is dalk ook te wyte aan die feit dat sy kollega reeds met sy tweede hofverskyning onseremonieel vir 'n jaar gevonnis is.  

In die hof speel 'n ander drama af.  Die eienaar het 'n prokureur gestuur, en nou vlieg 'n paar prokureurs mekaar die hare in om elk hul sin te kry.  En dan, met 'n enkele sin van die regter word die saak uitgegooi.  Sewe weke se hel word met een sinsnede beëindig.    

Chris en die regsverteenwoordiger wag vir die seeman buite.   Toe hy uitkom, buig 'n emosioneel vodde en verslaande man laag by hulle en raak liggies aan elkeen se enkel. Blykbaar is dit 'n Indiese gebruik en sy manier om dankie te sê vir die ondersteuning en hulp. Dis 'n oomblik wat woorde nie kan vasvat nie.  Ook kom die nuus dat sy kollega binnekort vry sal wees.  Alhoewel vryheid 'n oorwinning is, het hul 'n stuk van hul lewens prys gegee en het hulle anders as die emosionele skade, niks anders om daarvoor te wys nie.  Hul is steeds brandarm, en soek steeds uitkoms.  

Chris se betrokkenheid by hulle was nooit net om hulle te bevry uit die tronk nie, maar uiteindelik ook om hulle die omgee en liefde van Christus te wys deur wie hulle vryheid van skuld en sonde kan vind. Dis deur u donasie wat hy dit kon doen en sal aanhou doen.  Ontsettend dankie daarvoor.

 EFT: Christelike Seemansorganisasie. ABSA Bank. Tjek. 1520-230-226.