Sedert 1972 is daar daadwerklik gevorder met die werk in die hawe. Na Kaapstad, het Durban, Suid-Afrika se grootste hawe, die volgende hawe geword waar ons werk.

Hoewel ons nie glo in belegging in bakstene en sement nie, eerder in die Woord, kon ons nie anders as om ’n huis naby die hawe te koop om ons kantoor te huisves nie. Ons kon nie enige geskikte plek in die hawe kry om al ons voorraad te hou en die administrasie te hanteer nie.

Ons tuisadres, as u ons wil besoek, is Suite 2, Mialab Mansions, Claribelweg 85, Morningside, Durban. Tel (031) 312-0163.

 

Sendingwerker aan die werk

Nico migreer van skip tot skip soos die dae op mekaar volg. Elke Maandag bring nuwe dinge, elke Vrydag nuwe afsluitings.
Maandag meld hy aan by die PRIMAVERA. Hy word met ope arms ontvang.  Daar word gekuier en gesels rondom die Evangelie.  Literatuur word uitgedeel en met gul hande aanvaar.

Van daar die bekende toer kaai-af na die volgende skip. Hier het Nico oor amper twintig jaar al amper 'n beespaadjie uitgetrap. Hy doen aan  by die THOR FREYA om te hoor hoe dit gaan. Met die eerste oogopslag lyk alles pluis, maar tog raak hy na jare se ervaring bewus van iets wat op die skip pla.  Almal verseker hom egter dat hul in "Mooihawens" is en dinge nie kan beter gaan nie.

'n Dag later kry hy 'n sms per lugpos.  Die manne van die Thor Freya is maande laas betaal.  Ongelooflik dat hul net gister nog die versekering gegee het dat alles voor die wind gaan.  Maar dis die vrees wat seemanne in hul het vir vergelding, diskriminasie en om hul werk te verloor, wat hulle laat stilbly.  Jy moet dapper wees om die stilte te verbreek met 'n noodkreet.  Nou volg Nico die kanale om prosesse in plek te kry om die manne se geld te verhaal.  Teen Vrydag is dinge meer rooskleurig en wil dit lyk of 'n ooreenkoms met die skeepsbase bereik is.

Hy bevind hom ook op die TIGER, 'n reuse motorskip met bemanning bestaande uit Filippyne, Indiërs en een Koreaan.  Hulle is te besig om hom te ontvang, dus sal hy later in die week weer moet kom draai.

Hy draai ook op die SIYANDA, ENDURANCE, FUMANA, die SW TROPEZ en nog baie ander skepe.  Op elkeen is die omstandighede anders.  Dikwels moet hy verskillende hoede dra - prokureur, maatskaplike werker, dokter, sielkundige - maar altyd met die wete dat hy niks van hierdie ampte beklee nie.  Sy uiteindelike werk is om met deernis en omgee na seemanne se stories te luister en die Evangelie met hulle te deel.  In die geskreeu van die wêreld is dit ook belangrik om soms met 'n fluistering in seemanne se lewens in te gryp.  Deernis, omgee - dit is om sagkens en versigtig met mense se lewens om te gaan.  Sagkens omdat die lewe breekbaar is en mense se harte kwesbaar.

Sy hoogtepunt vir die week, vertel hy, is 'n besoek aan die N-Shed.  Oppad huiswaarts, kom 'n Zoeloevrou na hom aangeloop en vra of hy nie vir haar 'n Zoeloe-Bybel het nie.   Nie op die oomblik nie, maar in die kantoor wel.  Later kom hy terug en gee die Bybel in haar dankbare hande, met die gebed dat sy ook God se fluistering wat spesiaal vir haar bedoel is, sal hoor.

CSO se werksaamhede is vervleg met die lewe op die hawe.  Dis vervleg met  seelui en hawewerkers se kom en gaan.  Dis vervleg met hulle stories, elkeen uiteenlopend en uniek.  En uiteindelik is die grootste pluspunt dat ons letterlik daar is.  'n Bediening van teenwoordig wees, 'n bediening van spits-oor en aandagtig luister, selfs na die geringste fluistering.


Chris is op een van die algemene vragskepe in Durban waar hy 'n Russiese seeman ontmoet. Langs die seeman staan 'n sekuriteitswag wat Chris al baie lank ken.  Hy stel homself aan die seeman voor en verduidelik wie hy is. Nee wat, kom die antwoord ongeërg, hulle is in elk geval op pad hawe-uit en stel nie belang nie. 

Die gesprek is bondig en sonder om na 'n elegante aanknopingspunt te soek vra Chris sommer reguit of hy dalk 'n Russiese Bybel sou wil hê.  Nee wat, kom die voorspelbare antwoord. Daar lê in elk geval êrens op die skip 'n Bybel wat iemand op 'n slag daar gelos het.  Met dit is die gesprek afgesluit.

Soos wat Chris groet, staan die sekuriteitswag egter nader en vra of hy dalk 'n Bybel kan kry.  Hy is Zoeloe-sprekend, maar hy aanvaar die Engelse Bybel wat Chris byderhand het met groot blydskap en 'n amperse ongeloof dat iemand vir hom so 'n geskenk verniet sal gee.

En op grond van hierdie blydskap waarvan die sekuriteitswag so oorloop, staan die Rus weer nader, nou meer bedees en amper verleë. Asseblief, kan hy dalk ook een kry ...

God alleen weet of hierdie oomblik 'n waterskeidingsoomblik vir die ongeërgde Rus was. Waarskynlik gaan Chris hom nooit weer sien nie, maar die Gees van God sal hom vergesel en ons glo dat die oomblik ook vir hom sal aanbreek waar hy met oorgawe sal sê: "Meer van U en minder van myself"

Die statistiek hierbo en die lewensstories van seemanne wat ons kon deel,laat ons weer eens besef dat seemanne se Consol-flesse  amper altyd tot oorlopens toe vol is. Dit is 'n realiteit.