Laat die seemanne na My toe kom…
Abner, uit Indië
wat vir Danie in die Baai
van sy wanhoop vertel
sy oë wyd gerek,
in sy sak, 'n flenterfoto,
met almal wat hy koester.
Laat die seemanne na My toe kom…
Die pa van die Filippynse seuntjie van Bakolod,
vyf jaar oud,
een son-omwenteling vir elk van vyf breinoperasies,
wat hier op skip sy lot verklaar, met regop skouers dra
tienduisend kilometer ver,
vir die geldwolf van die hospitaal.
Laat die seemanne na My toe kom...
Die kaptein van die PST2 in Durban,
vier jaar al gestrand
smagtend na huis,
maar huis Afganistan
waar bloed en bomme
opnuut sy land wil vrymaak.
Laat die seemanne na My toe kom,
hulle gevang in die kruisvuur op die hoë see van Wes Afrika -
waar seerowers jou minag en jag.
Laat hulle kom
tot in die stal, waar in die stank van mis en bloed
die Kind van Betlehem is.
Verhinder hulle nie
hospitale
seerowers
covid
hawe-owerhede.
Hulle hoort in My koninkryk:
hulle weet van wonde
sonder om te twyfel of te vra.
Ek sal hul teen my sy vasdruk
en my hande op hulle lê.
My uitnodiging:
Stap saam met My
Van hierdie dag af
My helpende hand om aan te klou
My oop oor vir elke geprewelde, nederige pleidooi
Elke dag.
-Verwerk van Lina Spies se 'Lied van die Kinders'-
In ons saamstap na die krip, wil CSO hierdie uitnodiging dag in en dag uit na die mense van die see neem. Wil u dit nie oorweeg om ons in hierdie Kerstyd finansieel te ondersteun sodat elke seeman wat in ons hawens kom versorg kan word en Hy ook sy hande op hulle kan lê ... En dan, mag u ook wanneer u eersdaags rondom die krip vergader, beleef dat die uitnodiging om saam met Hom te stap ook vir u is ...
Om 'n maandelikse donasie deur middel van debietorder te gee, kliek hier om die debietordervorm af te laai. Stuur die voltooide vorm terug aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..
Kliek hier vir die verskillende maniere wat u kan gebruik om ons te ondersteun.
NS: Luister gerus na Rina Hugo se 'I'll walk with God' wanneer u die brief lees. Met toestemming gedeel.
In dié kerk is daar geen skildery of rekwisiete, geen brandglasvensters of heilige simbole nie, nie stil musiek wat jou laat rus of 'n reuse Bybel waar die prediker hulself laat staanmaak nie.
Anders as Sondagkerk, wat wit soos sneeu is – die purperkleed netjies gestryk en ruikend na laventel, is hiérdie kerk meer skarlaken, meer grys soos yster, met 'n mengelreuk van alles wêrelds. Anders ook die lidmate - teenoor uitgevat in Sondag bestes, hier olie-bevlek met roes en stof wat oral kleef. Dié kerk is hard. Dit raas oorverdowend sodat dit jou kop soms skommel. Die ruimtes is roes en ghriesvuil, die hardheid van staal en yster onvergewensgesind, gestroop van enige simboliek wat jou herinner aan die onsigbare realiteit van God.
Chris bevind hom in 'n droogdok. Dis waarskynlik een van die ongenaakbaarste plekke in 'n hawe - dalk op aarde. Die geslaan van hamers dodelik aanhoudend, die geraas van hordes slypmasjiene wat die kankerroes wat êrens op die see begin posvat het probeer besweer, akuut.
Daar is 'n vreemdheid aan Chris se daarwees. Dis onwaarskynlik om in die vuilheid van dit alles iemand met 'n rugsak vol Bybels en literatuur raak te loop. Hoeveel te meer iemand wat Goeie Nuus bring of iemand wat bloot wil hoor hoe dit gaan...
Tussen die stof en roet, die olie en ghries, terloops, sien Chris 'n kruis. Ja, dit is 'n toevallige kruis, opgerig vir een of ander praktiese doel, maar nogtans onmiskenbaar. 'n Lang vertikale paal, wat net op die regte hoogte deur 'n korter horisontale paal gekruis word, toorn oor die miernes van bedrywighede. Chris neem 'n vinnige foto oor die onverwagse daarvan.
En vir hierdie rede bestaan die CSO. Ons hoort hier tussen seemanne want ons Verlosser is ook hier in die onwaarskynlike vuil en raserige ruimtes besig om deur Sy kruis mense skoon te maak en vrede te gee.
Die seemanne wat ons met die Evangelie bedien, leef in 'n wêreld baie anders as ons eie. In een van die taaiste werksomgewings op aarde, na maande weg van geliefdes, daaglikse aanslae van alles tussen reuse golwe en seerowers is dit nodig dat iemand daar sal wees om hulle te herinner dat daar tussen die stof en roet, tussen die olie en ghries altyd 'n Kruis is.
Ons het u bydrae nodig om hierdie werk aan te hou doen. Oorweeg dit asseblief ernstig en biddend om hierdie werk finansieel te ondersteun.
Om 'n maandelikse donasie deur middel van debietorder te gee, kliek hier om die debietordervorm af te laai. Stuur die voltooide vorm terug aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..
Kliek hier vir die verskillende maniere wat u kan gebruik om ons te ondersteun.
NS: Rina Hugo het haar HARTSLIEDERE KONSERT wat sy verlede jaar opgeneem het ten bate van die CSO nou op youtube beskikbaar gestel. GENIET!
'Ergste dag van terreur deur Myanmar Junta, laat 100 dood' skreeu die opskrif somber. Dae later, in dik geaksentueerde letters in doods-swart: 'Amptelike dodetal van onskuldiges na staatsgreep nou 1001' ... '87 kinders dood' kort daarna ...
Vir Jan-Alleman, bloot nog 'n dag, nog 'n opskrif. Maar, as dit oor die plek is waar jou wortels lê, dop dit die wêreld om in 'n maalkolk van vrees, woede en 'n duisend ander holderstebolder emosies. Mens kan net wonder hoe dit die manne van die see, wat nog net nou die dag kind was in die trope van Mianmar, moet skud. Kommunikasie is sporadies terwyl die flenterbrokkies nuus die gruweldade meestal onderspeel – 'n poging van die militante om te manipuleer en als eers te poets voor dit die wêreld ingestuur word.
In Durban se behoueringsvragterminaal is daar sekere skepe wat oor en oor die hawe besoek. Tipies, sal dit oor 'n tydperk van tussen 'n maand en 'n half of twee maande duur vir die skip om sy roete te voltooi. Vir dié rede gebeur dit dat Chris dikwels met dieselfde seeman te doen kry.
Vandag is die seeman wat voor hom staan uit Mianmar. As hulle oë ontmoet weet beide dat hul mekaar al voorheen ontmoet het. As Chris in sy breinargiewe rondkrap kan hy die man plaas as 'n gereelde besoeker. Meer nog, onthou hy dat hy vantevore keer-op-keer 'n Bybel van die hand gewys het. Tog vra Chris weer ...
En hierdie keer, sonder veel woorde, knik hy instemmend en hou 'n oop hand uit. Die vroeëre weersin, gebalde toe vuis waarmee hy die Bybel geweier het, weg. Dit is asof daardie sekerheid verslaan is, asof dit wat hy gedog het fondament is, fabel blyk te wees.
Die woorde tussen hulle is min, maar daar's 'n wedersydse besef dat hierdie 'n keerpunt is. Dat hierdie vir die seeman 'n radikale stap is om sin te probeer maak van 'n wêreld wat nie sin maak nie.
Chris bid vir hom dat die Heilige Gees nou kragtig in hom sal werk en dat hy vrede sal vind in die Man van die Kruis wat ook vir hom, 'n seeman uit Mianmar gesterf het. Dis wat u as donateur moontlik maak. Dat Chris keer op keer, maand vir maand kon teruggaan. U bydrae verander weersin en toevuis na uiteindelik 'n oop hand. Daarvoor dankie!
Dit kos inspanning en sweet om die Bybels in te pak, dan die tot oorlopens vol knapsak in die kattebak te kry en vandaar die meedoënlose klomp hekke en sekuriteitspunte te navigeer. Die parkering is doer-ver-anderkant en ‘n stewige stap van die skip af. Daargekom toring die majestueuse skip se honderde trappe voor jou die hemel in asof hulle 'n duisend is. Dis juis, terwyl jy en jou knapsak treetjie vir treetjie na bo stap, hygend die sweet van jou voorkop vee, wat jy elke keer wonder...
Wie wag daar bo aan die hemelkant van die trapleer? Dit is 'n onbekende pad. Eindelik bo, brand die sweet in jou oë. Maar sweet is die prys, dis die klein opoffering wat jy maak. Tussen al die bekendstellings, Covid-protokol, vrae beantwoord, radio oproepe vir toestemming vir jou daarwees na die brug en dan Bybels uitpak wonder jy steeds oor die uitkoms van dit alles...
En dan staan Enrique nader. In die oomblik weet Danie waarom hy die spesifieke dag, op die spesifieke oomblik die knapsak met Engelse en Tagalog Bybels al swetende teen die trapleer moes uitdra. Hy weet dat daar onwetend ‘n miljoen klein besluite gemaak is wat nou kulmineer in hierdie oomblik. As hy later gekom het, eers ‘n ander skip besoek het of dalk ‘n draai by die hawekantoor gemaak het, was hierdie oomblik nooit gewees nie.
Enrique het 'n swerwende Bybel. Maande gelede het hy uit nood saam met hulle aan boord begin Bybel lees. Hy is die enigste een uit die 20 sterk mans wat 'n Bybel sy eie kan noem. Eers het een die Bybel geleen en toe 'n ander. Nou swerf die Bybel van kajuit tot kajuit. Selfs hulle wat vroeër skepties was is nou deel van die bymekaarkomste. Bo aan hulle gebedslys – om vir elkeen ‘n Bybel te kry. 'n Kort samedromming volg en elk van die ingepakte Bybels wat met sweet en inspanning gebring is, vind dankbare hande. Hulle is oorstelp van dankbaarheid. Die Here het ‘n afspraak gemaak, en Danie en Enrique het opgedaag.
Ons by die Christelike Seemansorganisasie daag daagliks op. Dis buite ons hande wie aan die hemelkant van die trapleer staan, maar dis waar ons werk wag.
Seemanne en die skepe waarop hulle dien, dryf 90% van alle wêreldhandel. Hulle waag hulle lewens vir ons elke dag. Ons as 'n interkerklike sendingorganisasie glo dat ons vir elke gewillige seeman 'n Bybel in sy eie taal moet gee en hulle met die genade en liefde van Christus moet versorg. Ons bedien sedert 1944 duisende seemanne in ongeveer 106 tale in die vyf grootste hawens van Suid-Afrika.
Die vraag is, wat gaan die Here met jou sweet doen vandag? Word asseblief deel van hierdie daaglikse reis. Ons het nodig dat jy ons manne se hande sterk maak en pleit by jou om ons werk asseblief finansieel te ondersteun. Jou donasie sal hierdie Koninkrykswerk laat voortgaan sodat die Evangelie na die uithoeke van die aarde sal gaan.
Kliek hier om 'n aanlyn donasie te maak of kliek hier vir ander manier om die CSO te ondersteun.