Net betyds! Net as die wêreld kortasem raak, en hoop se vlam vervaag tot 'n flikker - net betyds; nie met trompetgeskal en fanfare nie, maar eerder sag, soos lig wat die skeure van 'n gebroke jaar insypel - net betyds! Net wanneer ons nie meer kan nie, wanneer die donkerte wat ons moeisaam binne ons dra, of buite oral sien, ons harte lamlê en wil verswelg, dan is daar weer die sagte fluistering: "Vandag is vir jou 'n Verlosser gebore." Net betyds. Dis asof God self weet hoe nodig dit is - juis nou. Net betyds.

Net betyds vir Ravi, wat die nuus van sy pa wat skielik oorlede is kry terwyl hy vasgevang op 'n skip op die diep blou see ronddryf.  As hy maar net afskeid kon neem...

Net betyds vir Emmanuel, wie se skip soos 'n dooie dier in die hawe lê, nadat die eienaar dit vir dood daar gelos het.  Vir Emmanuel sleep die dae soos jare verby.

Net betyds vir Andrei, op 'n koue Durban-nag, toe die boodskap kom dat sy dorp in Oekraïne vernietig is.

Net betyds vir Jun, van Manila, wat die ring aan sy vinger dra as herinnering aan 'n liefde wat deur storm en afstand moet oorleef.

Net betyds vir Liang, wat elke dag op sy skip se dek 'n foto van sy dogtertjie oopvou en die dae huis toe op sy kerfstok afmerk. 

En só, oor oseane, oor kontinente, deur oorlog en eensaamheid, het die Lig weer gekom - net betyds.

Dis Kersfees!

Net wanneer ons dink die donker gaan wen, breek die Lig van Betlehem weer deur - vir Ravi, vir Emmanuel, vir Andrei, vir Jun, vir Liang ? en vir ons almal wat wag op daardie net-betydse wonder.

By CSO sien ons dit elke jaar weer gebeur. Op die dek van 'n skip, in 'n kaptein se kajuit, in die trane van 'n seeman wat sê hy mis sy kinders, word die Lig van die Kind weer sigbaar. Dit kom in die vorm van 'n gebed, 'n gedeelde koppie koffie, 'n hand op 'n skouer, 'n oor wat luister...

Kersfees herinner ons dat God se tyd altyd volmaak is. Die Kind van die Krip kom nie te vroeg of te laat nie - Hy kom wanneer ons uitgeput is, wanneer ons nie meer weet hoe om hoop vas te hou nie. En Hy bring lig vir elke seeman, vir elke siel op die see, vir elke mens wat wag. Net betyds.

Ons werk by CSO in hierdie Kerstyd om betyds elke seeman te herinner aan die Kind wat gebore is.  U finansiële bydrae sal verseker dat ons dit kan aanhou doen.  Oorweeg dit asseblief biddend om ons op die manier te ondersteun.

Mag hierdie Kersfees vir u ook so wees - 'n stil Lig, wat juis betyds kom.

Dit raas - oral.  In die hawe, op die skip kletter kettings,  alarms  gil meedoënloos, tweerigting-radio’s blêr aanhoudend en mans roep teen die wind.  Dit raas.  

Wyer as dit dreun die wêreld soos ’n markplein.  Politieke retoriek bulder oor luggolwe – slagspreuke bots soos swaarde en leë beloftes se misoes skreeu woedend van oral oor.  Oorloë kerm en skree in beelde, berigte en ontploffings. Dit raas.

Liggies, skerms, boodskappe, kennis, menings – gedurig, aanhoudend, rusteloos, onverpoos. Dit het ‘n luuksheid geword om gehoor te word.

Die Roemeense seeman waarby Chris kuier, trek soos ‘n rammelende stoomtrein sonder stop met sy storie weg.  Hy’t nie landgenoot aan boord nie, sy kollegas kom uit die Pakistan, China en Bangladesj en die skip se ystermure luister nie.  Elke tema onder die son word gedek – gesondheid, oorlog, geskiedenis – s? geskiedenis, dié geskiedenis, die toekoms en alles tussenin.  Naderhand slaan die uur-klok, maar hy is steeds op spoed.  Dis na sowat negentig minute wat die blêrende radio ‘n einde aan die gesprek maak omdat sy hande elders nodig is.  As hul groet, stap hy weg met ‘n Roemeense Bybel in sy hand.  Iemand het tyd gemaak om te luister.  Hy is gehoor ...     

Volgende skip – die keer in die rookkamer, sit ’n kaptein met moeë oë. Sy kontrak is verby, maar huis toe kan hy nie.  Oorlog woed daar en dit sou beteken dat hy onmiddellik vir militêre diens sal moet aanmeld.  Hy is kwaad vir regering, kwaad vir kerk, vir die wêreld, vir sy eksvrou, vir almal ... Deur dit sit Chris opreg en sonder oordeel en luister.

Volgende skip – 

Volgende skip –

Altyd reg om te luister en die versekering te gee dat midde in die uiterste geraas daar ‘n Fluistering is wat deur die eeue die een konstante is; altyd gereed om uit te wys hoe God ‘n lewende deel van elke verhaal is...     

Dis wat ons by CSO doen.   

Soms word die grootste las verlig deur die kleinste gawe:

’n Oor wat luister, ’n hart wat saamdra.

Want, om gehoor te word, is om weer mens te word.

Dankie dat u bydrae dit vir ons moontlik maak.  

 

Die storm lê oor Port Elizabeth soos 'n ongenooide gas.  Die wind gil deur styfgespande toue, en pluk-pluk aan majestueuse skepe soos speelgoed in reuse-hande.  Selfs in die skuilte van die hawe, maal die water teen die romp van die ertsdraer, met skuim wat rond warrel tot hoog teen die skip se staallyf.  Nog leeg en hoog uit die water, kraak die bielie van 'n skip onheilspellend teen die aanslag van wind en weer.

 Die Baai se storm is egter skaars 'n voorspel van wat aan die ander kant van die wêreld ontvou.  Daar bars Bualoi, 'n tropiese monster wat sy woede oor die Filippyne uitstort, los.  Huise skeur soos karton, paaie word slote modder, en waar reën gewoonlik genade is, is elke druppel wat nou daar val 'n traan. Dit huil oor die dorpe van Oos-Samar waar omtrent 433 000 mense gedwing word om te vlug voor stygende water en berge wie se voete gly sodat dit dorpies in modder verswelg.  Mense verloor hul lewens. Bualoi is nie net 'n naam op 'n weerkaart nie - dit is 'n donker hand wat alles wat kosbaar is gryp en wegvee.

Op die skip wat Danie besoek dra twee seemanne 'n storm wat geen mens kan stilmaak nie. Mario en Trevor sit stil in die eetsaal, maar die stilte is loodswaar. Hul gesigte lyk kalm, maar binne raas 'n orkaan; nuus wat soos woedende golwe oor hulle slaan.  Ook hulle dorp is deur 'n modderstorting platgevee.  Die foon op die tafel is 'n onheilspellende bode - dit kan 'n boodskap van hoop bring, maar kan ook die heel ergste denkbare tyding aandra ... Die angs daarvan verswelg hulle.  Geen rat of tou aan hierdie skip kan die spanning in hul gemoed vasbind nie. Hul bevind hul in 'n slagveld van gedagtes. Die wag, 'n martelgang van vrae sonder antwoorde. Die afgelope nag, 'n donker see van drome waarin hulle weer-en-weer probeer terugkom by die huis - maar altyd te laat is.

Danie kan aan Bualoi se woede weinig doen.  Maar, hy is daar. Hy sit die middag om, die aand in en waak saam met die tweemanskap.  Hulle bid, hulle smeek, en soek vertroosting uit die Woord. Tussendeur, as die woorde min raak, is hy gemaklik genoeg om net daar te wees in die stilte. Hy waak saam totdat die bode eindelik tyding bring dat die twee se gesinne veilig is. Hulle kan weer bid, weer lees, nou met nuwe oë. En as dit anders was, as die nuus die allerverskriklike was, sou hul ook weer kon bid, weer kon lees. Want, die God in wie se Naam Danie aan boord is, is nie net die God van plat seë en voorspoed nie, dis ook die God wat stormwinde beveel om stil te raak. En dit is wat CSO doen, ons is daar waar storms woed.  Mario en Trevor se bewoë en dankbaar groet as Danie koers kry huis toe, getuig daarvan.   

Wil u ons nie help om die mense van seë te versorg in hulle storms nie.  U finansiële bydrae kan 'n wesenlike verskil oor oseane heen maak.

Die skip is nou al ‘n bekende silhoeët teen die Kaapse platberg. Die HECTOR N doen weer in die Moederstad aan. Wanneer jy die rare kans kry om ‘n skip weer-en-weer te besoek, groei daar iets besonders: Vertroue, verbondenheid en ‘n geestelike vriendskap wat oseane oorbrug. Só was dit weer die week vir André met sy besoek aan die HECTOR N.

Gou gons die radio’s met die riemtelegram dat hy weer aan boord is. Die weersiens is hartlik, asof ‘n ou vriend die skip besoek. Die reuse skip dra ‘n wêreld in homself – ‘n drywende mosaïek van kultuur en karakter. 

Die Filippynse manne bring ‘n gees van broederskap; hul lag vul die gange en hul lojaliteit teenoor mekaar is soos ankers in ‘n stormsee. Die Russe dra ’n stille vasberadenheid – oë wat al baie gesien het, min woorde, maar baie gewig. Die Roemeniërs weer, se vasberadenheid en stil krag herinner aan hul tuisland se berge – die Karpatiese pieke wat met mis omhul is en al eeue lank stil teen storms staan.  Dan is daar ook ‘n paar jong manne uit Ethiopië – van die hoë platorand van Oos-Afrika, dra hulle ’n geloof so oud soos die bergkerke van Lalibela. Hulle is stil en nederig, met oë vol lig – soos mense wat weet hul gees is sterker as enige see. Saam is hulle ‘n familie, bymekaar gebring nie deur toeval nie, maar deur die groot blou see.

Rollie is die kok en soos op enige skip, die belangrikste man aan boord.  Met die weersien, droog hy haastig sy hande aan ‘n oondlap af, en kom groet met ’n warmte wat meer as net dankbaarheid verklap.  Dis tog hier waar hy ‘n nuwe pad begin stap het...

 ‘n Paar besoeke terug het hy ‘n Bybel in Cebuano van André ontvang.  Nou is hy haastig om weer terugvoer te gee oor hoe hierdie geskenk hom bly verras. Eers was dit bloot ‘n leesroetine, maar nou is dit ’n anker. Dis nie meer plig nie, maar ‘n diep begeerte om ‘n lewe in God te leef. Gebed is nou meer as ‘n daaglikse ritueel – dis waar hy gaan vrede soek en rus. 

Tussen die staal van die skeepskombuis en die eindelose horison het Rollie begin ontdek dat geloof nie vas is aan ’n plek nie, maar dat dit oral kan lewe – selfs hier, tussen masjiene, lawaai en isolasie. 

Kaapstad, vir hom, is nou meer as net ’n hawe.  Dis ’n plek van herbesinning – ’n geestelike ankerpunt. André se besoeke is meer as blote vriendskap, dis ook ‘n stille herinnering dat God ook hier, op see, teenwoordig is.  In die feit dat André keer op keer na die skip terugkom, beleef hy omgee – iets wat hy weet elke seeman nodig het. 

Dis in sulke oomblikke dat jy besef: Ons teenwoordigheid, al is dit kort, kan ‘n blywende invloed hê. As CSO is ons meer as besoekers – ons is geestelike bakens. Wanneer ‘n skip aanlê en ‘n bekende gesig wag op die kaai, weet die bemanning: Hier is iemand wat omgee, wat luister, wat bid.  So ontsettend dankie aan almal wat dit moontlik maak.