"Dankie..." Dit is al wat hy sê.

Met albei arms druk hy die Tagalog-Bybel styf teen sy bors vas. Vir 'n oomblik vervaag die geraas van die hawe. Die dreuning van enjins, die geroep van die bemanning en die dol-gejaag word stil. Op sy gesig 'n glimlag wat vertel van iets wat woorde nie kan dra nie.

'n Rukkie vroeër staan Danie, CSO se kapelaan in PE, en kyk na die skip. Dit tref hom hoe volledig 'n moderne skip vir sy bemanning sorg. Daar is kos, water, 'n bed, mediese sorg en selfs internet - alles wat 'n seeman nodig het om maande lank op die oop see te leef.

Byna alles ... maar, daar is een honger wat geen skip kan stil nie.

Te midde van die bedrywigheid ontmoet hy 'n jong seeman van die Filippyne. Agter sy vriendelike glimlag skuil 'n hart wat hartseer verlang. Hy praat oor die bitter swaar van lang maande weg van sy vrou en kinders, oor die stiltes van die see en oor die vrae waarmee hy worstel. Hoe bly 'n mens naby aan God wanneer die horison eindeloos word? Hoe hou 'n mens vas aan hoop wanneer die huis agter tienduisend deinings verdwyn?

Danie luister net.

Dan, as die jongman se woorde opraak, haal hy 'n Tagalog-Bybel uit sy sak en plaas dit in die seeman se hande.  Oorbluf, onseremonieel, gaan sit die seeman sommer net daar op die dek. Rondom hom dreun die ratwerk van die hawe onverpoos voort, dit raas en blaas, maar hy lyk onbewus.  Hy lees. Blaai terug. Lees weer. Dit is asof hy nie net woorde ontdek nie, maar tuiskom.  

Danie neem ongehaas langs hom stelling in.  Hy laat toe dat die jongman deur al die emosies gaan sonder om met mooi woorde die oomblik te bederf.  Die twee van hulle sit net.  Die jongman blaaiend in sy nuwe Bybel, Danie stil bewus dat daar iets spesiaal aan die afspeel is. 

Toe hul lank-later uiteindelik opstaan, druk hy die Bybel teen sy bors vas.

"Dankie..." net dit.  

En dit, dit is meer as 'n dankie vir 'n Bybel. Dit is 'n dankie omdat iemand hom raakgesien het. Omdat iemand lank genoeg stilgestaan het om te luister. Omdat hy, al is hy duisende seemyl van sy geliefdes, vir 'n oomblik onthou dat hy nie alleen is nie.

Dit is waarom die CSO God se Woord in seemanne se eie taal versprei. Want wanneer 'n seeman 'n Bybel ontvang, ontvang hy soveel meer as 'n boek. Hy ontvang hoop. Hy ontvang die omgee en genade van die Man van die Kruis.  En hy ontvang die stille versekering dat, waar die oseaan hom ook al neem, God reeds daar is.

Danksy u ondersteuning word hierdie oomblikke elke dag moontlik. Ontsettend dankie daarvoor.

 

Skepe kom en gaan soos die getye. Vandag lê hulle trots in die hawe; môre is hulle net 'n kol op die horison. Eienaars en name verander, rompe word afgeskuur en die verlede uitgevee met 'n vars laag verf. Die see onthou nie name nie. Sy golwe vee elke spoor moeiteloos uit, sodat daar waar 'n skip nou majestueus die golwe rangeer, nou-nou slegs blou water kabbel wat geen teken wys van wat was nie.  Maar, God vergeet nooit nie. Hy onthou elke skip, elke reis en elke ontmoeting wat Hy bestem het.

Die KILIMANI is so 'n skip. Sedert 2017 lê sy al in die hawe, eers onder 'n ander naam, later stil en afgeleef. Ná haar tyd in die droogdok kom sy eindelik terug met 'n nuwe baadjie - vars geverf, herstel, amper asof 'n nuwe begin. Maar dis aan boord waar die grootste verandering is ...

'n Nuwe bemanning uit Nigerië het ingetrek. Skaars het Chris sy voet op die dek gesit, of die vraag kom onverwags:  "Het jy dalk vir ons Bybels?"  Chris het twee Bybels in sy knapsak en as hy dit uithaal is die glimlagte groot en die manier waarop hul dit gretig vat, 'n storie op sigself.  

Hoe dikwels gebeur dit nog dat mense só honger is na God se Woord?  Die manne kom uit 'n land waar geloof dikwels teen 'n duur prys kom. Daar leef Christene in sommige dele met geweld, vrees en vervolging as noodwendige deel van hul keuse vir die Man van die Kruis. Miskien juis daarom dan dat die Bybels wat hul nou vashou so duidelik kosbaar is. Dit is lig. Dit is hoop. Dit is lewe.

Die kaptein verskyn.  As Chris en sy oë ontmoet besef hul opslag dat hul mekaar al tevore ontmoet het.  Dan gebeur iets wat geen statistiek ooit sal kan meet nie... Die kaptein draai in sy spore om, stap weg, en kom terug met 'n Bybel in sy hand. Hy wys dit met stille trots. Die bladsye is lankal nie meer skerp en wit nie - dis sag van gebruik, gevou op geliefde plekke en donker gevlek deur hande wat dit oor en oor oopgemaak het. Die omslag dra die littekens van jare op see - sout, son en storms - maar ook die stille getuienis van 'n Bybel wat gelees, bewaar en geleef is. Dit is dieselfde Bybel wat Chris destyds, baie baie jare terug, vir hom in Durban gegee het! 'n Geskenk wat jare gelede op 'n hawe oorhandig is, vaar steeds saam oor oseane.

Dit is maklik om te wonder of 'n enkele besoek, 'n kort gesprek of een Bybel werklik 'n verskil maak. Maar God se werk word selde gemeet aan oomblikke. Hy werk oor jare. Deur reise. Deur mense wat weer en weer Sy Woord oopmaak wanneer niemand anders kyk nie. CSO het nie 'n Evangeliebedienaar in Nigerië nie. Tog bereik die Evangelie Nigerië elke keer wanneer 'n seeman huis toe vaar met 'n Bybel in sy tas en Christus in sy hart. Skepe word sendelinge. Hawens word sendingvelde. En die see, wat kontinente van mekaar skei, word die pad waarlangs God se Woord reis.  Want 'n Bybel wat met liefde gegee word, eindig selde waar dit ontvang is!

Daardie Bybel, wat oor tien jaar oor die oseane van die wêreld gereis het, is met geld van 'n donateur gekoop.  Wil u nie ook deel word van ons bediening aan seemanne en ons finansieel ondersteun nie? 'n Bybel vandag kan môre, oormôre en jare van nou, 'n lewe verander.

 

'n Kil wind sny koud deur Kaapstad-hawe. Toue kreun teen die kaai, meeue sweef hoog bo, en die see stamp-stamp onophoudelik teen die staalromp van die VELOS FORTUNA. Vir verbygangers is dit bloot nog 'n skip wat kom en gaan. Maar, vir CSO is elke skip 'n drywende wêreld vol verhale van hoop, verlange, opoffering, liefde, bekommernis en geloof. Elke skip maak saak - elke seeman maak saak...

André, ons Kaapse Hawe-kapelaan, stap die loopplank op. Hy dra nie groot planne of ingewikkelde antwoorde saam nie. Net 'n paar Bybels, Christelike leesstof en die bereidheid om te luister. Soos soveel kere tevore, het hy ook 'n vaste wete, dat ook hierdie skeepsbesoek in God se hande is.   

In die eetsaal ontmoet hy vir Vaughn.

Terwyl hy 'n koppie koffie aanbied, begin 'n eenvoudige gesprek. Vaughn vertel van sy lewe in die Filippyne; van sy vrou wat skoolhou; van sy drie klein seuntjies wat by die huis wag - die oudste is vyf; die tweeling word amper twee.  

Werk op die see beteken kos op die tafel. Dit beteken skoolgeld, 'n toekoms waarin sy kinders geleenthede het.  Maar, elke rand wat verdien word, kom teen 'n prys. Vir Vaughn beteken dit dat hy duisende kilometers van die huis af wakker word terwyl sy vrou alleen die drie seuns grootmaak. Hy mis die eerste skooldag, die klein oorwinnings, die verjaarsdae en die eenvoudige aandetes waar 'n pa se stoel leeg bly. Hulle leer om sonder hom groot te word, en hy leer om hulle deur 'n selfoonskerm lief te hê. Dit breek sy hart - 'n pa se hart is immers van glas.

Tog kies hy hierdie pad, want hy glo dat God soms van 'n mens vra om die veiligheid van die bekende agter te laat en, met 'n seer hart en 'n vaste geloof, die onbekende tegemoet te stap. Hy kyk in die rigting van die eindelose see en noem dit eenvoudig: "'n Sprong van geloof."

Hy lag met traan - vertel hoe hy en sy vrou gedurig saam bid vir leiding.  Hulle probeer vas vertrou en glo ... Daarom klim hy op die skip. Nie omdat hy sonder vrees is nie, maar omdat hy leer dat geloof nie beteken dat jy al die antwoorde het nie, maar eerder dat jy vertrou op die Een wat dit wel het.  Soms, net soms, dan skrop die twyfel tog nes. En daarom is André se besoek tydig; noodsaaklik.  In hierdie oomblik is die bemoediging, die saam bid, saampraat en saam lees uit die Skrif, nodiger as brood.    

Ons stap op skepe in die geloof dat God reeds daar werk. Ons ontmoet seemanne in die middel van hul verlange, hul onsekerheid en hul vrae. Ons deel nie net Bybels uit nie; ons deel hoop. Ons herinner hulle dat geen oseaan so groot is dat God se teenwoordigheid dit nie kan oorbrug nie.

Want soms verander 'n lewe nie deur 'n groot preek nie. Soms verander dit deur 'n eenvoudige gesprek, 'n koppie koffie en die ontdekking dat iemand genoeg omgee om te luister.

En daarom het CSO mense soos u nodig wat saam met ons hierdie reis aanpak. Deur die ondersteuning van ons donateurs kan ons aanhou om die Evangelie na die wêreld se hawens en skepe te neem, sodat nog seemanne soos Vaughn kan ontdek dat die grootste sprong van geloof nooit alleen geneem word nie.

 

Die wêreld brand.

Bomme val, sirenes huil, politieke leiers trek goedsmoeds nuwe lyne op kaarte. In die beknopte ruimtes van 'n skip is daar ook nuwe lyne. Dis vir die ongeoefende, blote oog, verborge.  Wat vroeër stippellyne was is nou meer genuanseer...skielik vasgemessel deur wantroue en agterdog.  

      In Gaza en Harmous tuimel mure onder bomgeskal, maar elke bom, elke sarsie skote, elke doodstyding wat breek, messel die mure tussen mense al hoër.  Aan boord sit die spanning van die wêreld saam aan tafel. Die kaptein uit Israel; die kadet uit Iran.  Die ingenieur uit Oekraïne; die tweede offisier van Rusland.  So tref ons kapelane dikwels twee pole van ons wêreld vasgevang, binne die mure van 'n drywende yster kolos, aan boord aan.

Danie is op 'n skip vir middagete.  Mans wat elders die wapen teen mekaar opneem eet uit dieselfde kombuis, deel hier dieselfde dek, dieselfde storms en dieselfde donkernag wagstaanskofte. Vir die geoefende oog, agter die ligsinnige grappies rondom die etenstafel, hang daar iets swaar in die lug - versigtigheid, onsekerheid, stilte. Want die wêreld se konflikte klim maklik saam aan boord. Danie se gesprek begin soos altyd by wie kom vanwaar. Doer onder die oppervlakkige gesprek lê die ongemak van 'n verdeelde wêreld.  Wat vroeër bloot 'n aanknopingspunt was, is nou posisionering.  Om te sê waarvan jy kom het 'n standpunt geword, of jy daarmee saamstem of nie. 

As elkeen vertel waar hul vandaan kom, en Danie stil-stil bewus raak van die wêreldmagte wat in die eetsaal teenoor mekaar geposisioneer is, wil hulle meer van Danie se herkoms weet: "Ek is eerstens 'n Christen ... 'n kind van God." Kom sy antwoord.  En in een sin word die trajek van die gesprek verander. Skielik is daar 'n bewustheid van iets groters.  Etikette word geherrangskik sodat daar nou eerder brûe gebou word. Skielik is die gesprek kwalitatief anders, gewortel in 'n dieper menswees.  Danie praat oor genade - genade vir elkeen.  

       "Burgers van die hemel," merk die kaptein later op.  

Dit is nog 'n rede waarom CSO aan boord gaan. Om te herinner dat die Man van die Kruis in die mees onwaarskynlike oomblikke brûe kan bou.   Hierdie werk gebeur nie vanself nie.  Ons het donateurs nodig.  Mense wat saam met ons die Evangelie na die wêreld se skepe, hawens en bemannings kan neem - sodat selfs in 'n verdeelde wêreld, Christus steeds mense rondom dieselfde tafel kan verenig.  Oorweeg dit asseblief biddend om ons finansieel te ondersteun.