Dis 'n tyd van nodige refleksie.  Mens sal tog nie nuwe wyn in ou sakke gooi nie?  Daarom juis die momentele stil-word om die jaar se telkaart op te stel en die resultate te weeg en te meet.  2022 was 'n jaar van baie dinge.

In die seeman-wêreld was die hoop dat die stormwolke van Covid19 sommer vroeg sou gaan lê en dat die skerwe opgetel en heelgemaak sou word.  Maar, dit wat in skerwe lê, kan selde sommer goedsmoeds herstel word.  Hoe vergeet jy dat 600 000 seemanne oor die wêreld heen gevange geneem is deur die dodelike, onsigbare monster.  Hoe vergeet jy hoe die een na die ander grens voor hul toegeval het terwyl lughawens spookdorpe was en vliegtuie staan en stof opgaar het.  Vir baie was die prys veel hoër ...  Ma’s, pa’s, oumas, oupas of 'n vriend wat slagoffer was van die virus het leemtes gelaat wat beswaarlik ooit gevul sal word.  Dit is nie goed wat jy sommer net afskud nie.  Dis ewige letsels.  

Maar CSO was daar om te help.  Daar, omdat donateurs ons bemagtig het om daar te wees.  

En dan voor die jaar lekker op spoed kom, rol die militêre grofgeskut van Rusland die Oekraïne in.  Skielik is 6% van die wêreld se seemanne wat uit die twee lande kom, verbind aan 'n woedende oorlog. Die stories is katastrofies en hartverskeurend.  Seemanne wat nuus ontvang dat hul huise van die aarde gevee is, dat hul familie die vreemde in moes vlug of dat iemand naby hulle 'n grudood gesterf het aan die hand van magsdronke heersers.  

Maar CSO was daar om te help.  CSO kon daar wees as gevolg van bydraes van donateurs.

Ons dink terug aan die ekonomiese krisis wat Sri-Lanka in chaos gedompel het en aan die seemanne van daar wat moedeloos ons hawens besoek het.

Ook daar was CSO om te help.  Daar, omdat donateurs dit moontlik gemaak het.  

Met die tifoon in die Filippyne, en in 'n duisend ander stories kon CSO 'n rol speel omdat ons hande sterk gemaak is deur u bydrae!  In 2023 sal ons die Evangelie aanhou verkondig, aanhou om 'n aktiewe rol te speel om draers van hoop te wees.  Ons kan dit doen, omdat ons toegewyde donateurs het waarvoor ons oneindig dankbaar is.

Ontsettend dankie vir u bydrae en mag 2023 'n jaar van ryklike seën wees.

Hierdie jaar smag ons meer as ooit na die Heilige nag en die Kind van die Krip.  Ons soek skaapwagters en herders op die ope velde, engele wat sing 'Hosanna' en 'n ster wat blink duidelik herinner aan die Koningskind.  Ons soek na die ironiese vrede van die vuil stal, want die lewe nou, blyk baie soos die stal te wees – morsig, vuil en deurmekaar.  Maar van binne daardie stal, skyn die onmiskenbare Christus-lig wat elke oorlog, elke pandemie, elke regering, elke hartseer en elke terugslag deur eeue heen oorleef het.  Die lig is ewig ...

Dis ewig vir die seeman uit Oekraïne wat Danie op die ertsdraer ontmoet.  Hy is lewensmoeg.  Hy oorwerk homself as ontvlugting van die golwe slegte nuus uit sy land wat hom aanhou teister.  Jy hoef geen graad of sertifikaat te hê om te sien dat die lewe besig is om hom te druk en te verblind tot 'n punt waar moed opgee sal lyk na die enigste uitkoms nie.  Vir hom kan Danie iets gee van die vrede van die stal.  Dis morsig en vuil, maar die Lig oorweldig...  

Dis ook ewig vir die Indiër seeman wat onlangs sy vrou verloor het, ewig vir die Filippyn wat sy huis in 'n orkaan verloor het, vir die seeman uit Indonesië wat sommer net hopeloos huis toe verlang. 

As Chris 'n Bybel in die hande van 'n Chinese seeman in Durban sit, dan is dit met die wete dat die Kind ook vir die Chinese seeman ewig is. André weer help 'n man uit Mianmar op 'n reuse behoueringskip, Loffie 'n Filippyn in Richardsbaai en Nico iemand uit Ghana op 'n stokou, manke skip.  Want, die Lig van die Krip is vir elkeen.

Ons gaan lig om met dinge wat ewig is.  So vasgevang in hoe vuil en morsig die stal is, raak die lig 'n vanselfsprekende bysaak.  En daarom Kersfees.  Om ons weer te herinner aan die een wat ewig is.  Aan die een wat vir elkeen van ons Redder en Vredevors is.

Na 'n ontsettend moeilike jaar in die skeepsindustrie smag seemanne, meer as ooit, na die Heilige nag, die Kind van die Krip, skaapwagters en herders en engele wat sing 'Hosanna'.  Meer nog na die ironiese vrede wat die Koningskind na 'n vuil stal bring. 

In hierdie Kerstyd het ons nodig dat u ons asseblief finansieel ondersteun.  Dit is al hoe ons die lig van die Christuskind sal kan aanhou deel met elke seeman, in elke hawe in ons land.  Wil u dit nie asseblief biddend oorweeg nie?

Mag u in hierdie Kerstyd duidelik herinner word aan die Lig en Ewigheid van Hom wat ons kom vrymaak het.

Om 'n maandelikse donasie deur middel van debietorder te gee, kliek hier om die debietordervorm af te laai. Stuur die voltooide vorm terug aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Kliek hier vir die verskillende maniere wat u kan gebruik om ons te ondersteun.

'n Skip is nie 'n katedraal nie.  Daar is min stil en gewyd aan die atmosfeer. Daar is geen loodglas venters wat die lig buig sodat dit in sagkens pastelkleure skadu's gooi nie.  Daar's geen orrelmusiek of 'n koor wat harmonieus die stiltes vul met woorde wat jou beweeg nie.  Ook nie 'n geneurie van 'Pie Jesu' wat jou binnekamer na 'n plek van vrede neem nie.

Chris word deur 'n Italiaanse kaptein sit gemaak op 'n mank stoel in 'n klein yster kantoortjie.  Dit wemel.  Die kaptein is op pad huis toe en hy maak sy plaasvervanger uit Montenegro wys oor wat gaan vir wat.  Die twee konfereer in moeilike, gefrustreerde Engels, ver van beide se moedertaal.  Dit gaan moeilik, en op 'n punt maak die nuweling 'n fout op die rekenaar wat amper belangrike dokumente bokveld toe stuur.  Buite is twee seemanne in 'n argument betrokke.  Dit skree en raas kwaad. Niemand in die kantoor kyk op nie. Skeepsagente storm haastig in en uit.  Daar is stapels papierwerk wat vir die onopgeleide oog na chaos lyk.  Hyskrane kraak.  Trokke brom.  Kabels klap. Yster buig soos wat die skip se rondings deur die kabbel water in die hawe gerek en gestrek word.  Stof en ghries kleef oral swart.  

'n Skip is nie 'n katedraal nie.  'n Skip is soos die lewe.  Chaoties, raserig, hard. Dis werklik.  Dis weg van enige pretensie dat die lewe stil en vreedsaam is.  

Midde-in dit als, wend Chris, in Durban,'n dapper poging aan om 'n sinvolle gesprek te hê sonder om in die pad te wees.  In 'n totaal onverwagse oomblik is daar net vir 'n moment 'n breuk in die meedoënlose ritme van die chaos. Dis net hy en die kaptein in die vaal kantoor.  Hulle praat oor die Bybel in Chris se hand.  Die kaptein praat heimlik oor sy Ouma wat hom vertel het van hierdie boek.  Uit sy eie praat die kaptein oor die Man van die Kruis.  Net vir 'n oomblik is daar vrede.  

Veel later, onderbreek 'n Filippynse seeman hul drafstap roetine om te gesels.  Hy vra of Chris vir hom 'n Bybel het.  Sy kollega sien dit en wil dadelik ook een hê. Chris neem 'n foto van die twee – breë glimlagte.  

Later nog, is 'n derde offisier uit Indië by. Dit is oogeenlopend dat iets skort.  Sy kontrak is nou maar vyftien dae lank, maar hy is reeds moeg en depressief.  Hy staar met 'n leë uitdrukking na Chris.  Hy smag duidelik na hoop. Chris kan met hom tyd spandeer en as hul paaie uiteen gaan beskryf die seeman hul ontmoeting as die hoogtepunt van sy vyftien dae op die see.

'n Skip is 'n katedraal.  Elke seeman is 'n katedraal. 'n Katedraal is nie 'n wegkruipplek van die lewe en sy chaos nie, dis eerder 'n plek van rus en vrede ten spyte van die geraas.  Dis nie 'n plek wat voorgee dat die lewe stil en vreedsaam is nie, maar eerder 'n plek wat ons toelaat om binne onsself Hoop, Liefde en die Vrede wat alle verstand te bowe gaan, te vind.  Dis dié Vrede wat Hy gee wat ons toelaat om die chaos radikaal anders te sien.

Dis 'n eenvoudige taak – om seemanne binne-in die chaos te herinner aan liefde, vrede en hoop.  Maar, hoe belangrik is dit nie?  Hoe broodnodig het elkeen van ons nie vrede in hierdie chaos nie?  U kan dit vir seemanne gee deur ons finansieël te ondersteun.  Oorweeg dit asseblief biddend.

Mag u ook Sy vrede beleef.

Die kepe op sy kerfstok staan op 'n skamele vyftien.  Die eerste daarvan was waarskynlik die moeilikste en seerste - dag een weg van sy beminde bruid.  Na 'n paar maande op die wal, is die realiteit van terug wees op die drywende ysterkolos, in die peinsing op sy voorkop en die lyne langs sy oë te bespeur.  Die onafgemerkte kerwe op die merkstok staan net so duskant een-honderd-en-vyftig.  Dis die aantal dae wat hy hier op die skip sonder haar sal wakker word.

As Chris die derde offisier in Durban ontmoet, het hy nie 'n graad of 'n spesialis nodig om tot 'n diagnose te kom dat dit erg hinkepink met die man uit Indië gaan nie.  Sy lyftaal skreeu moedeloos, magteloos en moeg.  Sy leë oë, staar in die niks in, is opsigself 'n somber verhaal wat jou 'n prognose van spoedige beterskap in twyfel sal laat trek.

'Dis nou eers dag vyftien', sê hy swaar en afgemete asof die gewig van sy stelling ondraaglik is.  Hy is stil en Chris verwag eintlik dat hy enige oomblik sal opstaan en in die wandelgange van die ysterskip in sal verdwyn.  

Maar, hy sit.  Hy probeer om vir Chris die implikasie van seeman wees te verduidelik.  Hy probeer met drif verduidelik hoe dit is om weg te wees van dié waarvoor jy lief is.  Chris kan maar net probeer verstaan.  Hy kan bemoedig, daar wees, luister, bid.

Dit klink so non-essensieel.  Dit klink so eenvoudig.  Maar dis so raar.  Om iemand te kry wat regtig, sonder 'n drukkende polshorlosie of persoonlike agenda na jou kan luister, is selfs op land uitdagend.  Hoeveel te meer dan nie as jou lewe afspeel op die oop see in die benoudheid van 'n reuse skip waar daar maar 'n handvol kollegas saam jou ronddobber nie.  

As Chris wegstap, verduidelik die seeman met 'n halwe glimlag, dat Chris se besoek die hoogtepunt van die 15de dag kepe op sy kerfstok is.  Dis hoe groots dit is as iemand bereid is om na jou te luister ...

Daarvoor, ontsettend dankie.  Donateurs maak elke dag, deur wat dikwels verkeerdelik as onbelangrik en eenvoudig gesien word, 'n reuse verskil.  Soms is daar juis hoop in die kleinste handelinge en in elk van hierdie klein oomblikke kom die Koninkryk van God tot wording.