Net betyds.
Net betyds! Net as die wêreld kortasem raak, en hoop se vlam vervaag tot 'n flikker - net betyds; nie met trompetgeskal en fanfare nie, maar eerder sag, soos lig wat die skeure van 'n gebroke jaar insypel - net betyds! Net wanneer ons nie meer kan nie, wanneer die donkerte wat ons moeisaam binne ons dra, of buite oral sien, ons harte lamlê en wil verswelg, dan is daar weer die sagte fluistering: "Vandag is vir jou 'n Verlosser gebore." Net betyds. Dis asof God self weet hoe nodig dit is - juis nou. Net betyds.
Net betyds vir Ravi, wat die nuus van sy pa wat skielik oorlede is kry terwyl hy vasgevang op 'n skip op die diep blou see ronddryf. As hy maar net afskeid kon neem...
Net betyds vir Emmanuel, wie se skip soos 'n dooie dier in die hawe lê, nadat die eienaar dit vir dood daar gelos het. Vir Emmanuel sleep die dae soos jare verby.
Net betyds vir Andrei, op 'n koue Durban-nag, toe die boodskap kom dat sy dorp in Oekraïne vernietig is.
Net betyds vir Jun, van Manila, wat die ring aan sy vinger dra as herinnering aan 'n liefde wat deur storm en afstand moet oorleef.
Net betyds vir Liang, wat elke dag op sy skip se dek 'n foto van sy dogtertjie oopvou en die dae huis toe op sy kerfstok afmerk.
En só, oor oseane, oor kontinente, deur oorlog en eensaamheid, het die Lig weer gekom - net betyds.
Dis Kersfees!
Net wanneer ons dink die donker gaan wen, breek die Lig van Betlehem weer deur - vir Ravi, vir Emmanuel, vir Andrei, vir Jun, vir Liang ? en vir ons almal wat wag op daardie net-betydse wonder.
By CSO sien ons dit elke jaar weer gebeur. Op die dek van 'n skip, in 'n kaptein se kajuit, in die trane van 'n seeman wat sê hy mis sy kinders, word die Lig van die Kind weer sigbaar. Dit kom in die vorm van 'n gebed, 'n gedeelde koppie koffie, 'n hand op 'n skouer, 'n oor wat luister...
Kersfees herinner ons dat God se tyd altyd volmaak is. Die Kind van die Krip kom nie te vroeg of te laat nie - Hy kom wanneer ons uitgeput is, wanneer ons nie meer weet hoe om hoop vas te hou nie. En Hy bring lig vir elke seeman, vir elke siel op die see, vir elke mens wat wag. Net betyds.
Ons werk by CSO in hierdie Kerstyd om betyds elke seeman te herinner aan die Kind wat gebore is. U finansiële bydrae sal verseker dat ons dit kan aanhou doen. Oorweeg dit asseblief biddend om ons op die manier te ondersteun.
Mag hierdie Kersfees vir u ook so wees - 'n stil Lig, wat juis betyds kom.