Dit raas - oral.  In die hawe, op die skip kletter kettings,  alarms  gil meedoënloos, tweerigting-radio’s blêr aanhoudend en mans roep teen die wind.  Dit raas.  

Wyer as dit dreun die wêreld soos ’n markplein.  Politieke retoriek bulder oor luggolwe – slagspreuke bots soos swaarde en leë beloftes se misoes skreeu woedend van oral oor.  Oorloë kerm en skree in beelde, berigte en ontploffings. Dit raas.

Liggies, skerms, boodskappe, kennis, menings – gedurig, aanhoudend, rusteloos, onverpoos. Dit het ‘n luuksheid geword om gehoor te word.

Die Roemeense seeman waarby Chris kuier, trek soos ‘n rammelende stoomtrein sonder stop met sy storie weg.  Hy’t nie landgenoot aan boord nie, sy kollegas kom uit die Pakistan, China en Bangladesj en die skip se ystermure luister nie.  Elke tema onder die son word gedek – gesondheid, oorlog, geskiedenis – s? geskiedenis, dié geskiedenis, die toekoms en alles tussenin.  Naderhand slaan die uur-klok, maar hy is steeds op spoed.  Dis na sowat negentig minute wat die blêrende radio ‘n einde aan die gesprek maak omdat sy hande elders nodig is.  As hul groet, stap hy weg met ‘n Roemeense Bybel in sy hand.  Iemand het tyd gemaak om te luister.  Hy is gehoor ...     

Volgende skip – die keer in die rookkamer, sit ’n kaptein met moeë oë. Sy kontrak is verby, maar huis toe kan hy nie.  Oorlog woed daar en dit sou beteken dat hy onmiddellik vir militêre diens sal moet aanmeld.  Hy is kwaad vir regering, kwaad vir kerk, vir die wêreld, vir sy eksvrou, vir almal ... Deur dit sit Chris opreg en sonder oordeel en luister.

Volgende skip – 

Volgende skip –

Altyd reg om te luister en die versekering te gee dat midde in die uiterste geraas daar ‘n Fluistering is wat deur die eeue die een konstante is; altyd gereed om uit te wys hoe God ‘n lewende deel van elke verhaal is...     

Dis wat ons by CSO doen.   

Soms word die grootste las verlig deur die kleinste gawe:

’n Oor wat luister, ’n hart wat saamdra.

Want, om gehoor te word, is om weer mens te word.

Dankie dat u bydrae dit vir ons moontlik maak.