Rollie se ontdekking!
Die skip is nou al ‘n bekende silhoeët teen die Kaapse platberg. Die HECTOR N doen weer in die Moederstad aan. Wanneer jy die rare kans kry om ‘n skip weer-en-weer te besoek, groei daar iets besonders: Vertroue, verbondenheid en ‘n geestelike vriendskap wat oseane oorbrug. Só was dit weer die week vir André met sy besoek aan die HECTOR N.
Gou gons die radio’s met die riemtelegram dat hy weer aan boord is. Die weersiens is hartlik, asof ‘n ou vriend die skip besoek. Die reuse skip dra ‘n wêreld in homself – ‘n drywende mosaïek van kultuur en karakter.
Die Filippynse manne bring ‘n gees van broederskap; hul lag vul die gange en hul lojaliteit teenoor mekaar is soos ankers in ‘n stormsee. Die Russe dra ’n stille vasberadenheid – oë wat al baie gesien het, min woorde, maar baie gewig. Die Roemeniërs weer, se vasberadenheid en stil krag herinner aan hul tuisland se berge – die Karpatiese pieke wat met mis omhul is en al eeue lank stil teen storms staan. Dan is daar ook ‘n paar jong manne uit Ethiopië – van die hoë platorand van Oos-Afrika, dra hulle ’n geloof so oud soos die bergkerke van Lalibela. Hulle is stil en nederig, met oë vol lig – soos mense wat weet hul gees is sterker as enige see. Saam is hulle ‘n familie, bymekaar gebring nie deur toeval nie, maar deur die groot blou see.
Rollie is die kok en soos op enige skip, die belangrikste man aan boord. Met die weersien, droog hy haastig sy hande aan ‘n oondlap af, en kom groet met ’n warmte wat meer as net dankbaarheid verklap. Dis tog hier waar hy ‘n nuwe pad begin stap het...
‘n Paar besoeke terug het hy ‘n Bybel in Cebuano van André ontvang. Nou is hy haastig om weer terugvoer te gee oor hoe hierdie geskenk hom bly verras. Eers was dit bloot ‘n leesroetine, maar nou is dit ’n anker. Dis nie meer plig nie, maar ‘n diep begeerte om ‘n lewe in God te leef. Gebed is nou meer as ‘n daaglikse ritueel – dis waar hy gaan vrede soek en rus.
Tussen die staal van die skeepskombuis en die eindelose horison het Rollie begin ontdek dat geloof nie vas is aan ’n plek nie, maar dat dit oral kan lewe – selfs hier, tussen masjiene, lawaai en isolasie.
Kaapstad, vir hom, is nou meer as net ’n hawe. Dis ’n plek van herbesinning – ’n geestelike ankerpunt. André se besoeke is meer as blote vriendskap, dis ook ‘n stille herinnering dat God ook hier, op see, teenwoordig is. In die feit dat André keer op keer na die skip terugkom, beleef hy omgee – iets wat hy weet elke seeman nodig het.
Dis in sulke oomblikke dat jy besef: Ons teenwoordigheid, al is dit kort, kan ‘n blywende invloed hê. As CSO is ons meer as besoekers – ons is geestelike bakens. Wanneer ‘n skip aanlê en ‘n bekende gesig wag op die kaai, weet die bemanning: Hier is iemand wat omgee, wat luister, wat bid. So ontsettend dankie aan almal wat dit moontlik maak.