Lees meer..

Daar is iets enigmaties aan die moment wanneer 'n Bybel hande verwissel.  Die verhoog is dikwels 'n ou roesmoes vragskip, 'n knap skeepskantoor op 'n olietenker, of die windverwaaide dek van 'n steenkool-vragskip.  Dit skreeu nie juis heilig nie...

Die handeling self speel af sonder oordrewe betoë of trompetgeskal - geen podium, geen mikrofoon, geen kamera wat rol of skare wat juigend en ritmies klap nie. Dis net 'n stil en eenvoudige gebaar tussen twee mense - een wat gee, een wat ontvang. 

Die boek wat hande verwissel, is ewe onopvallend: swart ink op gewone bladsye, met 'n eenvoudige omslag. Dis nie in leer gebind met glanspapier en fyn reliëfdruk nie - net 'n klein, handgrootte boekie wat maklik in 'n uniformsak pas. Dit lyk soos enige ander boek - stil, beskeie, amper oor die hoof gesien tussen die geraas van die wêreld.

En tog is dit dalk juis in hierdie stilheid, in die afwesigheid van vertoon, dat iets dieps en ewig gebeur.  Die handeling is eenvoudig - maar die inhoud is onmeetlik... 

Dis die verhaal van ons skepping en ons verlossing, van 'n Koning wat sy Seun stuur ... Dit is gebede van Dawid, die smart van Jeremia, die lof van Paulus. Dit is die asem van die Almagtige, ingeblaas in mensewoorde.  

In die handeling raak hemel en aarde momenteel aan mekaar. Die eenvoud van die oomblik kontrasteer met die onmeetbare gewig van wat daarin opgesluit lê: Waarheid. Lig. Lewe.  Dis 'n gebaar wat lyk of dit min kos - maar dit dra die volle rykdom van genade, vryheid, vrede - van God self.

In die afgelope dae het sulke eenvoudige oomblikke dit self oor-en-oor uitgespeel:  Chris gee 'n Bybel aan 'n Poolse kaptein in 'n skeepskantoor in Durban. Nico weer, aan 'n man op die WEN JONG KOU, 'n skip uit China.  André is op die CL BILIU Hè in Saldanha, waar 'n gewillige hand van 'n tweede-offisier die eerste keer in sy lewe sy eie Bybel kry.   

En dis hoekom ons aangaan, skip na skip, dag na dag. Want in daardie eenvoudige oomblikke gebeur dinge wat bo ons verstaan is. 

God is groot!

Dankie dat u ons met u donasies en gebede bemagtig om hierdie eenvoudige handeling dag na dag te doen.  Dis meer werd as wat u ooit sal kan raai.

EFT. Christelike seemansorganisasie. ABSA Tjek. 1520-230-226.