Toe was die romp van die skip van eikehout, die maste, spane en binnewerke gekerf uit ‘n den of ‘n seder.  Dis voor staal sy opmars begin het.  Nou, is skepe super-tegnologiese yster-kolosse.  Toe was seelui dae aan wal, nou vir gejaagde, blitsige ure.  Toe het die brief huis toe maande geneem, nou flits WhatsApp boodskappe wêreldwyd in sekondes.  Toe het Evangeliebedienaars met fietse tot op die kaai gekom, nou kom hul met digitale platforms in hul broeksakke wat ‘n seeman toelaat om sy dogtertjie se balletkonsert aan die anderkant van die aarde te geniet.  Toe het skepe met swart bolle rook uit die skoorsteen gekreun, nou gly hulle stil deur die water, aangedryf deur enorme enjins wat hulself diagnoseer as iets makeer. 

Dis vreesaanjaend hoe vinnig dinge verander.  Die pas is soos ‘n stroomversnelling wat ons insluk voor ons asem kan skep. Wat eens stadig ontvou het soos oggenddou op ’n blaar, gebeur nou in flitse en flarde, sonder tyd vir stilte of sin. Die wêreld draai vinniger, skerms flits helderder, en ons siele wankel onder die las van onafgebroke nuutheid.  Dis ook waar van die moderne seeman. 

Dis aanhou aanpas, aanhou jaag, aanhou byhou. Ons harte smag na rus, maar vind meestal net geraas. Ons gedagtes fladder soos voëls sonder nes, en geloof verdof, gedurig onder skoot deur ‘n meedoënlose inligting bombardement. Dit laat ons stilweg siek, uitgeput en ontwortel, heimlik verlangend na iets wat nie verander nie. Na Iemand wat bly.

Maar in al hierdie verandering staan een ding onwrikbaar sterk: die Evangelie van Jesus Christus.

Danie in die baai het hierdie week met die netjiese trappe na die dek geklim met dieselfde boodskap as wat die Evangeliebedienaar in 1944 by die mankoliekige touleer opgedra het.  Chris, in sy gesprek met die Filippynse seeman, het presies dieselfde boodskap van genade gebring – ewe relevant as toe CSO hierdie boodskap meer as tagtig jaar terug gebring het.  André in Kaapstad praat nou steeds oor dieselfde liefde van toe.  Loffie verduidelik aan ‘n lewensmoeg seeman dat daar hoop is, gegrond op die Een wat tóé was, nóú is en áltyd sal wees.    

Toe was daar 'n roeping dat elke seeman, soldaat of reisiger wat ver van huis af is, moet weet dat God naby is.  Nou, al is die wêreld ‘n dramaties ander plek en die konteks wêrelde verwyder van wat dit was, is die boodskap se essensie steeds dit:  Christus is genoeg.

CSO het deur al die jare oorleef deur genade, maar ook deur die oop hand van donateurs.  Wil u dit nie biddend oorweeg om finansieel by te dra tot ons werk nie?  Dit help ons om elke dag, te midde van die chaos om ons, die mense van die see te herinner aan die een konstante: Die Kruis wat vir elkeen van hulle op Golgota geplant is.

 

 EFT

Christelike Seemansorganisasie

ABSA Bank. Tjek / Current 630509. Rek / Account: 1520-230-226

Ikhoka aanlyn donasies: / Online donations:  https://bit.ly/4k2N60e

“Seerowers”: Wie sou ons verkwalik as die eerste gedagtes wat by ons opkom kinderstories en fabels is – plastiek oogklappe, of ‘n kopbeen wat in morsige swart ink op die voorarm van ‘n vriendelike skurk wat sê “Arrrr” verewig is.  Dis tog die wêreld van Peter Pan en Captain Hook, sy klugtige teenstander.  Dis Robert Louis Stephenson se Treasure Island, amper honderd-en-vyftig jaar oud, ‘n skattejag, ‘n dekmantel vir avontuur...  

 Die man wat Danie op die skip in Port Elizabeth ontmoet erken dat sy kalm uiterlike en trauma van die nagmerrie waardeur hy is, maar ‘n haarbreedte uit mekaar lê.  Dis nou die eerste keer wat hy weer op dieselfde roete langs die kus van Afrika moes afvaar.  Hy’t gedink dat hy gereed sou wees, dat sy gemoed gepantser is om dit te kan hanteer, maar die vrees en angs het hom kom oorrompel net soos die seerowers toe.  

 Dis nou maar ‘n paar maande gelede wat sy skip aangeval is. Nie deur fabelagtige storieboek-karakters nie, maar deur brutale, gewapende en vreesaanjaende seerowers, met elke intensie om die wat uit lyn uit stap af te maai.  Twaalf van sy mede bemanning – sy vriende, sy mense, sy kamerade – is ontvoer. Die stilte ná die aanval was erger as die geweervuur.  As die koeëls rondom jou teen die mure vasslaan en vonke maak waar dit op die dek dans, dra adrenalien jou deur.  Dis die stilte daarna wat jou breek.  Dis onseker, ondraaglik en skielik is daar twaalf minder stemme op jou skip... Nou, met ’n nuwe bemanning, moes hy weer daardie selfde roete vaar. Terug deur die donker.

In Coega kom die noodoproep na Danie.  Die seeman se lyftaal verklik onmiddellik dat als nie wel is nie – oë dof, skouers swaar. Hulle gesels sag, versigtig – wetend dat die trauma wat die seeman saamdra hom broos gelaat het. Sy vrees is allesomvattend.  Dit klou brandend aan sy hart, soos kakiebos aan sy gemoed.  Sy mede-bemanning is immers maar net ander dag weer vrygelaat...    

 Maar waarom met Danie gesels? Hoe sal hy dan sy angs met sy nuwe bemanning kon deel.  Sê nou maar hul sê hy kan nie meer werk nie of sê hy is ‘n lafaard; sê nou maar dit; sê nou maar dat – ‘n duisend spoke wat opgejaag word.  In Danie is daar net genoeg afstand, maar ook familiariteit.  Die werk wat ons doen is bekend genoeg sodat seemanne weet om ons te kan vertrou, maar dis ook ver genoeg omdat ons niemand ken wat hulle ken nie – dis net tussen ons.    

 Na lank gesels het die seeman weer moed.  Nie omdat hy skielik gesond is nie, maar omdat hy sy las kon deel.  Hy sien weer kans om verder te gaan, nie omdat die pad veilig geword het nie, maar omdat hy onthou het: God vaar saam.

 Dít is wat CSO doen.  Ons is deur God se genade die veilige hawe vir seelui wat op die rand van moedeloosheid dryf. Ons bied skuilplek in die storm; die hand op jou skouer in ’n vreemde hawe. Die herinnering dat jy nie vergete is nie.  Wil u dit nie asseblief biddend oorweeg om hierdie onmisbare werk finansieel te ondersteun nie?

 

NS. EFT Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek 1520-230-226.

Daar is iets enigmaties aan die moment wanneer 'n Bybel hande verwissel.  Die verhoog is dikwels 'n ou roesmoes vragskip, 'n knap skeepskantoor op 'n olietenker, of die windverwaaide dek van 'n steenkool-vragskip.  Dit skreeu nie juis heilig nie...

Die handeling self speel af sonder oordrewe betoë of trompetgeskal - geen podium, geen mikrofoon, geen kamera wat rol of skare wat juigend en ritmies klap nie. Dis net 'n stil en eenvoudige gebaar tussen twee mense - een wat gee, een wat ontvang. 

Die boek wat hande verwissel, is ewe onopvallend: swart ink op gewone bladsye, met 'n eenvoudige omslag. Dis nie in leer gebind met glanspapier en fyn reliëfdruk nie - net 'n klein, handgrootte boekie wat maklik in 'n uniformsak pas. Dit lyk soos enige ander boek - stil, beskeie, amper oor die hoof gesien tussen die geraas van die wêreld.

En tog is dit dalk juis in hierdie stilheid, in die afwesigheid van vertoon, dat iets dieps en ewig gebeur.  Die handeling is eenvoudig - maar die inhoud is onmeetlik... 

Dis die verhaal van ons skepping en ons verlossing, van 'n Koning wat sy Seun stuur ... Dit is gebede van Dawid, die smart van Jeremia, die lof van Paulus. Dit is die asem van die Almagtige, ingeblaas in mensewoorde.  

In die handeling raak hemel en aarde momenteel aan mekaar. Die eenvoud van die oomblik kontrasteer met die onmeetbare gewig van wat daarin opgesluit lê: Waarheid. Lig. Lewe.  Dis 'n gebaar wat lyk of dit min kos - maar dit dra die volle rykdom van genade, vryheid, vrede - van God self.

In die afgelope dae het sulke eenvoudige oomblikke dit self oor-en-oor uitgespeel:  Chris gee 'n Bybel aan 'n Poolse kaptein in 'n skeepskantoor in Durban. Nico weer, aan 'n man op die WEN JONG KOU, 'n skip uit China.  André is op die CL BILIU Hè in Saldanha, waar 'n gewillige hand van 'n tweede-offisier die eerste keer in sy lewe sy eie Bybel kry.   

En dis hoekom ons aangaan, skip na skip, dag na dag. Want in daardie eenvoudige oomblikke gebeur dinge wat bo ons verstaan is. 

God is groot!

Dankie dat u ons met u donasies en gebede bemagtig om hierdie eenvoudige handeling dag na dag te doen.  Dis meer werd as wat u ooit sal kan raai.

EFT. Christelike seemansorganisasie. ABSA Tjek. 1520-230-226. 

       Dis ‘n ou, lendelam, ertsdraer... Die roes, verval, verniel en verweer, verkondig dat die skip se rakleeftyd-datum dreigend aan die deur klop.  Voet aan dek, is jou gevolgtrekking eenvoudig, maar verdoemend – die skip sal binnekort tot skroot gemaak word.  Vir nou, klou die eienaar halsstarrig aan geleende tyd - dis duidelik dat der laaste stukkie lewe uit die skip geseil gaan word.  In Coega moet nog ‘n vrag gelaai word en nog ‘n bestemming moet van hier bereik word... 

       Binne-in die hart van die skip, in die ruim, is seemanne besig om te werk en te leef. Dis hulle wat die flenter-skip op koers en bokant die water moet hou. 

       ‘n Bloedjong kelner doen in die eetsaal diens. As Danie vra, verduidelik hy dat hy al 3 jaar seeman is. Maar, agter die jonkheid is iets wat mens aan die toestand van die skip herinner te bespeur - verval, verniel en verweer blyk iets van die jong man te gesteel het.  

       Dis die CSO Bybels wat uitgepak is wat eindelik die gesprek swaai na die hart van die seeman.  Daar woed bekommernis en magteloosheid wat nou al so gewortel is dat die vrugte daarvan in sy stap en sy omgang met hulle rondom hom te siene is.  Hy is al agt maande weg van die huis af - dis dertig dae voor sy vliegkaartjie hom terug daarheen sal neem.  Wat daar wag, is aaklige realiteite wat sy siel verlam en hom hier waar hy voor Danie in die eetsaal sit, vervalle, verniel en verslaan laat lyk.     

       “Hoe gaan ek hierdie 30 dae oorleef?” wil hy dringend weet “Gee asseblief vir my ‘n woord van bemoediging.”  Dis ‘n onbeskaamde hulpkreet.  Jong oë pleit vir woorde van iemand of êrens wat hom kan dra tot by die huis.

       Dit vat luister, omgee en empatie om die jong man se gemoed te laat bedaar.  Ook kry hy nie net “‘n woord” nie, maar hy kry  ‘Die Woord’. In die Tagalog Bybel gaan soek hulle saam na God se woorde van bemoediging.  Hy lees en hoor dat God by hom en sy familie is en kry dit reg om sy bekommernisse voor God se voete te plaas. 

       Danie kan ‘n paar keer met hom kuier voor hy ‘n paar dae later hawe-uit oppad is.  Nie net vat hy sy nuwe Tagalog Bybel saam wat hom bemoedig nie, hy vat ook die tyd wat hy en Danie saam kon spandeer saam, om hom te dra deur die dae voor sy vliegtuig hom huis toe vat.  

       Elkeen wat vervalle, verweer en verniel word verdien om raakgesien te word en ook om weer en weer die vaste versekering te kry dat daar in Jesus Christus altyd hoop is...

       Wil u dit nie biddend oorweeg om ons finansieel te ondersteun sodat ons elke seeman wat ons hawens besoek hieraan kan herinner nie.

 

EFT  Christelike Seemansorganisasie  ABSA Bank  Tjek 630509  Rekno. 1520-230-226