Please, sir, I want some more ??
Wie onthou die bekende woorde uit die klassieke boek, Oliver Twist van Charles Dickens (1838)? Die bekendste musiekblyspel van alle tye is sekerlik die 1968 weergawe van die boek. En dis hier waar die jonge Oliver se lewe onherroeplik verander, wanneer hy dit durf waag om vir mnr Bumble nog kos te vra! En mnr Bumble wat dan bulder: “Moooore? You want more?” Vir my as jong kind was dit vreeslik ontstellend en is ek nog steeds huiwerig om daarna te kyk.
Met die lees van die weeklikse stories uit die hawens uit, waar ons bedienaars reeds vir 80 jaar aan die voorpunt staan van die geestelike en fisiese versorging van seemanne en vroue wat ons hawens aandoen, het hierdie beeld skielik weer by my opgekom.
Hierdie manne en vroue waag hulle lewens elke dag om goedere uit ander dele van die wêreld na ons deurstoep te bring. Om die waarheid te sê, 90% van wêreld handel vind per skip plaas!
En weer is ek ontsteld. Wat gebeur as ‘n seeman vra: “Please sir, I want some more” en ons het nie ‘n Bybel om te gee nie want ons het nie genoeg fondse nie?
Die gedagte is net ondenkbaar! Maar die enigste persoon wat kan keer dat dit gebeur, is u. Of dit R100, R150, R200 is of enige ander bedrag, dit kan verseker dat daar altyd genoeg sal wees om seemanne te versorg.
U gereelde donasie sal dit moontlik maak om altyd hierdie vraag met ‘n besliste ‘Ja’ te kan antwoord!
Ons bankbesonderhede: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 1520-230-234.
Soos daardie nag sal die hemelruim bo Bethlehem weer skitterend verlig wees. Helaas, anders. Die ster van daardie aand sou geduldig waghou oor die krip, ‘n padkaart wees om herders en wyses tot by die Kind te neem waaroor gesê is dat Hy Vredevors en Redder is.
Hierdie keer, is die lig bo Israel kwalitatief anders. ‘n Helder en dramatiese ligvertoning wat die donker hemel op 'n skouspelagtige manier met vuurstrepe verlig voordat dit die horison vir ‘n kort oomblik in ‘n sagte gloed van oranje inkleur, voorspel onheil – tragedie, vrees, angs,lewensverlies ... die ergste erg.
Die engelekore blyk uitgedoof te wees deur die gerammel en geraas van die grofgeskut wat oor die aarde dreun. ‘Vrede op aarde ..’ het hulle daardie nag gesing; maar ons mense het daardie vrede verdring.
Ander week vertel ‘n verslae seeman op ‘n skip in Gqeberha van die intense vrees wat gepaardgaan met ‘deur die Rooisee navigeer’. ‘n Ander stort sy hart uit oor die steeds woedende oorlog in Oekraïne waarby Noord-Korea ook nou skielik betrokke is en hoe dit hom en sy gesin raak. Hoe het ons nie maar almal slawe geword van die makro-politiese bestel nie! Hoe het die weemoed van die bomme en totale chaos om ons, ons nie mismoedig en uitgelewer laat voel nie!
En daarom, een keer ‘n jaar, staan ons stil by die Kind van die Krip – as teenvoeter vir die narratief dat alles verlore is. Soos ons elke dag van hierdie jaar, elke seeman in ons hawe ontvang het met die liefde van die Man van die Kruis, sal ons die Kerstyd elke seeman herinner aan die Kind van die Krip - aan engelekore wat ‘n alternatief voorstel ‘Vrede op aarde ...’!
Elkeen wat in die kloue van vrees vasgevang is, elkeen wat ons genoeg vertrou om hul stories te deel – of dit is oor ‘n seerower aanval, of hul huwelik wat in stukke lê, of die isolasie aan boord wat hulle in depressie gedompel het, ons sal daar wees om hulle die versekering te gee dat Die Kind gekom het om die narratief te verander.
Die mense van die see word disproporsioneel blootgestel aan die ergernisse van die lewe. Of dit oorlog is en of dit geestesgesondheid of verhoudings is – seemanwees is ontsettend kompleks. U kan ons hande sterk maak om te verseker dat elkeen wat ons hawens besoek in hierdie Kerstyd, beleef dat die Kind van die Krip ‘n ander narratief daar kom stel het. Een van vrede op aarde – nie net op ‘n makro-politiese vlak nie, maar ook op ‘n diep persoonlike een. Wil u dit nie asseblief biddend oorweeg om hierdie Kersfees die CSO se werk finansieel te ondersteun nie?
En dan ook dit: Mag u in hierdie Kerstyd op ‘n diep persoonlike manier beleef dat die Christuskind ook vir u vrede gebring het.
NS. Ons bankbesonderhede: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 630509. Rekno: 1520-230-226.
In die klein ure van die oggend skrik hy in die greep van 'n onsigbare monster wakker. Sy asem blaas vlak en vinnig, en sy gedagtes tol in chaotiese sirkels. Skielik is elke geluid, elke skaduwee en elke gedagte 'n doodse bedreiging. Vir hom is dit 'n teken dat iets verskrikliks op die punt staan om met iemand naby hom te gebeur!
Die druk in sy kop is ondraaglik, soos 'n swaar storm wat opbou - maar net nooit breek nie. Hy voel absoluut gevange. In die skermutseling is elke oomblik 'n geveg om beheer - beheer oor sy gedagtes, sy asem, syhart en sy lyf. Angs is geslepe en slinks.
Tog, na wat voel soos 'n ewigheid vind hy wel die reëlmaat van sy hartklop en asem. Later, as hy vir sy dagtaak op die brug van die skip aanmeld, lê die nag se gebeure steeds vlak. Vir die dae wat volg voordat hulle in Coega vasmeer is hy heeltyds bewus van die tentakels van sy angstigheid wat hardnekkig soos 'n seekat om sy gemoed klou.
In dié dae leef hy die stryd alleen soos 'n drenkeling tussen 'n duisend mense. Hy het nie die moed om dit met 'n mede-bemanningslid te deel nie. Hy vrees dat erkenning van sy stryd tot viktimisering en uiteindelik tot nadeel van enige bevordering sal lei.
In Coegahawe, op 'n Donderdagmiddag, klim Danie op die houerskip, en sonder dat hy of die offisier dit weet, het God reeds 'n afspraak tussen die twee gemaak. Wat met eerste-sien oppervlakkige geselsies begin, verdiep vinnig tot soveel meer.
Vir die eerste keer kan die offisier sonder vrees vir viktimisasie of stigma, vir iemand vertel van die monster in die donker. Danie luister met groot versigtigheid en met God se krag, begin die Heilige Gees die seekat se tentakel stelselmatig loswikkel. Dit gee die seeman 'n kans om asem te haal. Asem bring nuwe perspektief.
Later, met die uitstap kan die emosioneleseeman nie ophou dankie sê dat Danie bereid was om te luister nie. Dit wat Danie kon bied was nie 'n kitsoplossing nie. Dis nie 'n vinnige regmaker wat die monsters in die donker met 'n vingerklap lewenslank sal grendel nie. Maar, die liefde en hoop van die Man van die Kruis, bring nuwe perspektief. Dit laat 'n drenkeling toe om vir 'n oomblik op te kom vir asem. In daardie eerste teug nadat als om jou stil en donker was, is daar die moontlikheid van oorlewing. Om die pad aan te hou stap is daardie eerste weer-asemhaal lewensbepalend.
Die werk van die CSO is presies dit: Om seelui, wat weke of maande ver van huis af is, geestelike ondersteuning en 'n veilige ruimte te bied om hul vrese en bekommernisse te deel. Asseblief, u kan met 'n finansiële bydra help om ons hande sterk te maak sodat ons kan help as 'n seeman moet opkom vir asem.
Dis die vierde keer dat Chris homself in die hof bevind. Oor die afgelope ses of sewe weke het hy die Indiese seeman wat in Westville gevange is, op elke moontlike manier ondersteun.
Van waar Chris die verrigtinge nou uit die gehoor vanaf 'n hofbankie dophou, sien hy die man wat hy oor die afgelope weke beter leer ken het ingestap kom. Sy lyf is snaarstyf gespan, en die angs en vrees oor wat die uitslag van die verrigtinge gaan wees, is rugbaar in sy lyftaal geskryf.
Maar hoe kan mens hom blameer? Hy bevind hom in 'n volksvreemde land waar hy geen kind of kraai het nie, toegesluit in 'n haglike en kil sel saam met skelms, skarminkels en dronkaards. Elke sekonde daarvan is 'n angswekkende nagmerrie.
Die grappie loop dat almal in die tronk slagoffers is, en eintlik onskuldig is. In sy geval is dit egter waar. Hy en 'n kollega is weens immigrasie probleme gevange geneem. Die eienaar van die skip waarby hulle aangesluit het, wat 'n man van bedenklike karakter is, het nie van 'n skeepsagent gebruik gemaak sodat hulle op die korrekte manier by die skip kon aansluit nie. Hul regsverteenwoordiger is vuurwarm onder die kraag en maak dit woedend aan elkeen wat wil luister duidelik dat hulle niks anders as die slagoffers van mensehandel is nie. Hul grootste oortreding is dat hul in 'n strik gevang is deur beloftes van indiensneming wat sou beteken dat hulle en hul gesinne uit die vloek van armoede sou kon ontsnap. Hulle het niks.
Die spanning in die beskuldigde se lyf is dalk ook te wyte aan die feit dat sy kollega reeds met sy tweede hofverskyning onseremonieel vir 'n jaar gevonnis is.
In die hof speel 'n ander drama af. Die eienaar het 'n prokureur gestuur, en nou vlieg 'n paar prokureurs mekaar die hare in om elk hul sin te kry. En dan, met 'n enkele sin van die regter word die saak uitgegooi. Sewe weke se hel word met een sinsnede beëindig.
Chris en die regsverteenwoordiger wag vir die seeman buite. Toe hy uitkom, buig 'n emosioneel vodde en verslaande man laag by hulle en raak liggies aan elkeen se enkel. Blykbaar is dit 'n Indiese gebruik en sy manier om dankie te sê vir die ondersteuning en hulp. Dis 'n oomblik wat woorde nie kan vasvat nie. Ook kom die nuus dat sy kollega binnekort vry sal wees. Alhoewel vryheid 'n oorwinning is, het hul 'n stuk van hul lewens prys gegee en het hulle anders as die emosionele skade, niks anders om daarvoor te wys nie. Hul is steeds brandarm, en soek steeds uitkoms.
Chris se betrokkenheid by hulle was nooit net om hulle te bevry uit die tronk nie, maar uiteindelik ook om hulle die omgee en liefde van Christus te wys deur wie hulle vryheid van skuld en sonde kan vind. Dis deur u donasie wat hy dit kon doen en sal aanhou doen. Ontsettend dankie daarvoor.
EFT: Christelike Seemansorganisasie. ABSA Bank. Tjek. 1520-230-226.


