“Seerowers”: Wie sou ons verkwalik as die eerste gedagtes wat by ons opkom kinderstories en fabels is – plastiek oogklappe, of ‘n kopbeen wat in morsige swart ink op die voorarm van ‘n vriendelike skurk wat sê “Arrrr” verewig is.  Dis tog die wêreld van Peter Pan en Captain Hook, sy klugtige teenstander.  Dis Robert Louis Stephenson se Treasure Island, amper honderd-en-vyftig jaar oud, ‘n skattejag, ‘n dekmantel vir avontuur...  

 Die man wat Danie op die skip in Port Elizabeth ontmoet erken dat sy kalm uiterlike en trauma van die nagmerrie waardeur hy is, maar ‘n haarbreedte uit mekaar lê.  Dis nou die eerste keer wat hy weer op dieselfde roete langs die kus van Afrika moes afvaar.  Hy’t gedink dat hy gereed sou wees, dat sy gemoed gepantser is om dit te kan hanteer, maar die vrees en angs het hom kom oorrompel net soos die seerowers toe.  

 Dis nou maar ‘n paar maande gelede wat sy skip aangeval is. Nie deur fabelagtige storieboek-karakters nie, maar deur brutale, gewapende en vreesaanjaende seerowers, met elke intensie om die wat uit lyn uit stap af te maai.  Twaalf van sy mede bemanning – sy vriende, sy mense, sy kamerade – is ontvoer. Die stilte ná die aanval was erger as die geweervuur.  As die koeëls rondom jou teen die mure vasslaan en vonke maak waar dit op die dek dans, dra adrenalien jou deur.  Dis die stilte daarna wat jou breek.  Dis onseker, ondraaglik en skielik is daar twaalf minder stemme op jou skip... Nou, met ’n nuwe bemanning, moes hy weer daardie selfde roete vaar. Terug deur die donker.

In Coega kom die noodoproep na Danie.  Die seeman se lyftaal verklik onmiddellik dat als nie wel is nie – oë dof, skouers swaar. Hulle gesels sag, versigtig – wetend dat die trauma wat die seeman saamdra hom broos gelaat het. Sy vrees is allesomvattend.  Dit klou brandend aan sy hart, soos kakiebos aan sy gemoed.  Sy mede-bemanning is immers maar net ander dag weer vrygelaat...    

 Maar waarom met Danie gesels? Hoe sal hy dan sy angs met sy nuwe bemanning kon deel.  Sê nou maar hul sê hy kan nie meer werk nie of sê hy is ‘n lafaard; sê nou maar dit; sê nou maar dat – ‘n duisend spoke wat opgejaag word.  In Danie is daar net genoeg afstand, maar ook familiariteit.  Die werk wat ons doen is bekend genoeg sodat seemanne weet om ons te kan vertrou, maar dis ook ver genoeg omdat ons niemand ken wat hulle ken nie – dis net tussen ons.    

 Na lank gesels het die seeman weer moed.  Nie omdat hy skielik gesond is nie, maar omdat hy sy las kon deel.  Hy sien weer kans om verder te gaan, nie omdat die pad veilig geword het nie, maar omdat hy onthou het: God vaar saam.

 Dít is wat CSO doen.  Ons is deur God se genade die veilige hawe vir seelui wat op die rand van moedeloosheid dryf. Ons bied skuilplek in die storm; die hand op jou skouer in ’n vreemde hawe. Die herinnering dat jy nie vergete is nie.  Wil u dit nie asseblief biddend oorweeg om hierdie onmisbare werk finansieel te ondersteun nie?

 

NS. EFT Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek 1520-230-226.