'n Kil wind sny koud deur Kaapstad-hawe. Toue kreun teen die kaai, meeue sweef hoog bo, en die see stamp-stamp onophoudelik teen die staalromp van die VELOS FORTUNA. Vir verbygangers is dit bloot nog 'n skip wat kom en gaan. Maar, vir CSO is elke skip 'n drywende wêreld vol verhale van hoop, verlange, opoffering, liefde, bekommernis en geloof. Elke skip maak saak - elke seeman maak saak...

André, ons Kaapse Hawe-kapelaan, stap die loopplank op. Hy dra nie groot planne of ingewikkelde antwoorde saam nie. Net 'n paar Bybels, Christelike leesstof en die bereidheid om te luister. Soos soveel kere tevore, het hy ook 'n vaste wete, dat ook hierdie skeepsbesoek in God se hande is.   

In die eetsaal ontmoet hy vir Vaughn.

Terwyl hy 'n koppie koffie aanbied, begin 'n eenvoudige gesprek. Vaughn vertel van sy lewe in die Filippyne; van sy vrou wat skoolhou; van sy drie klein seuntjies wat by die huis wag - die oudste is vyf; die tweeling word amper twee.  

Werk op die see beteken kos op die tafel. Dit beteken skoolgeld, 'n toekoms waarin sy kinders geleenthede het.  Maar, elke rand wat verdien word, kom teen 'n prys. Vir Vaughn beteken dit dat hy duisende kilometers van die huis af wakker word terwyl sy vrou alleen die drie seuns grootmaak. Hy mis die eerste skooldag, die klein oorwinnings, die verjaarsdae en die eenvoudige aandetes waar 'n pa se stoel leeg bly. Hulle leer om sonder hom groot te word, en hy leer om hulle deur 'n selfoonskerm lief te hê. Dit breek sy hart - 'n pa se hart is immers van glas.

Tog kies hy hierdie pad, want hy glo dat God soms van 'n mens vra om die veiligheid van die bekende agter te laat en, met 'n seer hart en 'n vaste geloof, die onbekende tegemoet te stap. Hy kyk in die rigting van die eindelose see en noem dit eenvoudig: "'n Sprong van geloof."

Hy lag met traan - vertel hoe hy en sy vrou gedurig saam bid vir leiding.  Hulle probeer vas vertrou en glo ... Daarom klim hy op die skip. Nie omdat hy sonder vrees is nie, maar omdat hy leer dat geloof nie beteken dat jy al die antwoorde het nie, maar eerder dat jy vertrou op die Een wat dit wel het.  Soms, net soms, dan skrop die twyfel tog nes. En daarom is André se besoek tydig; noodsaaklik.  In hierdie oomblik is die bemoediging, die saam bid, saampraat en saam lees uit die Skrif, nodiger as brood.    

Ons stap op skepe in die geloof dat God reeds daar werk. Ons ontmoet seemanne in die middel van hul verlange, hul onsekerheid en hul vrae. Ons deel nie net Bybels uit nie; ons deel hoop. Ons herinner hulle dat geen oseaan so groot is dat God se teenwoordigheid dit nie kan oorbrug nie.

Want soms verander 'n lewe nie deur 'n groot preek nie. Soms verander dit deur 'n eenvoudige gesprek, 'n koppie koffie en die ontdekking dat iemand genoeg omgee om te luister.

En daarom het CSO mense soos u nodig wat saam met ons hierdie reis aanpak. Deur die ondersteuning van ons donateurs kan ons aanhou om die Evangelie na die wêreld se hawens en skepe te neem, sodat nog seemanne soos Vaughn kan ontdek dat die grootste sprong van geloof nooit alleen geneem word nie.