Die Kind het alles gedoen.
Mens sou die jaar pessimisties-swartgallig kon afskop. Mens sou die aandklok, Nuwejaar-slag, kon hoor as bloot refrein -'n herhaling van dieselfde, deurgesingde lirieke. Daardie gevoel dat dit bloot die begin van nog 'n in-die-woestyn-loop sirkel is, voor ons almal weer spoedig, gedaan, flenters, verskrik, onvas, verbitterd, verhard of moedeloos - heimlik na die vrede van Kersfees begin hunker.
Mens sou na Grigory op sy skip in Port Elizabeth kon luister en begin glo dat niks meer herstelbaar is nie. Dat selfs planne en ervaring tot niks kom. Mens sou kon voel hoe verlange onhanteerbaar word, hoe eensaamheid jou soos 'n stille leeu bekruip, en hoe ou gevaarlike ritmes hulself kwaadwillig oor-en-oor herhaal. Mens sou sÛ maklik in hopeloosheid kon verval, wanneer selfs die skerpste kop, geen antwoord vir die hart oorhou nie.
Mens sou kon luister na Cebo se storie, en die risiko loop om saam hom in 'n hopeloosheid mineur-akkoord te verval. Op die ertskaai, in 'n vreemde land, praat hy met weemoed en galbitter woorde oor hoe dwelms sy dogter van hom kom steel het. Mens sou kon toelaat dat skuld en magteloosheid saampak, dat stilte 'n wegkruipplek word, en dat 'n pa se hart, stadig in hopeloosheid begin wegkwyn.
Mens sou na Gabriel, 'n seeman uit die Filippyne, se storie kon luister en voel hoe afstand tussen jou en die wat jou liefhet jou kan verbitter. Mens sou elke biep-biep van 'n selfoon as aanklag begin hoor, elke klank 'n herinnering aan alles wat jy niÈ kan regmaak as jy aan die anderkant van die aardbol as jou gesin sit nie.
Mens sou kon verval in hooparmoede. Maklik. Moeiteloos. Dis oral om ons - redes om hierdie jaar met 'n diepe wantroue van stapel te stuur.
Maar, vir ons is daar 'n Kind gebore! Dit maak die manier waarop ons na die Nuwejaar kyk kategories anders. Dit laat ons toe om te hoop saam met Grigory, Cebo en Gabriel. Dit laat ons met nuwe oÎ en nuwe moontlikhede, want die Kind het alles kom verander.
Soveel dankie dat u ons by CSO finansieel ondersteun en vir ons bid. Dit verseker dat die seemanne in ons hawens aandoen, altyd herinner word aan die Kind en aan die Kruis. Daarom is daar in 2026 hoop!