Kersfees ook vir seemanne- en vroue.
Elke Kersgeskenk se toedraai is 'n heilige ritueel: 'n Warm gebreide mus word oopgevou voor 'n beker en boekmerk dan versigtig daarin gelê word, soos 'n kosbare skat wat nog in baie koue nagte op die dek van die skip sal help om die elemente te tem. 'n Serp of 'n paar gebreide handskoene, sommige gebrei met uitspattige kleure wol, word dan bygesit. Die gebrei wat soos 'n bergreeks oor die tafels in die seeman-sentrum lê waar die geskenkpakkies gepak word, is die resultaat van duisende ure se geduldige handewerk - insteek, omtrek, deurtrek, afgooi ... herhaal. Ook 'n pakkie Mentos, 'n skeermes, 'n notaboekie, speelkaarte of 'n yskasmagneet...
Eindelik, word boks-per-boks se flappe toegevou met die ongesproke hoop dat êrens op 'n verre see 'n hart warmer, ligter en sagter sal klop wanneer dit oopgemaak word. Tweeduisend-ses-en-veertig geskenkpakkies staan nou na 'n oggend se werk soos 'n majestueuse monument in die hoek van die seeman-sentrum.
Van hier sal ons kapelane, dit na ertsdraers, olie-, gas, behouering en kar en ander skepe neem waar seemanne ook 'n Bybel in hul eie taal sal kan kry.
Elke pakkie is soos 'n sendingstasie. Dit sal reis waar ons voete nooit sal loop nie: Noordwaarts na die ysige rûe van Alaska; suidwaarts om die punt by Agulhas; ooswaarts na Busan se neonligte; weswaarts na die hawe van Santos waar die see altyd ruik na sout en stories. Dit sal die riviere van die wêreld se handelsroetes volg tot in uithoeke waarvan ons net kan droom.
En êrens, op 'n stormnag of 'n stil wagbeurt, sal 'n seeman 'n beker oplig, 'n mus oor sy ore trek, of sy oë laat rus op die woorde van Johannes 3:16 wat binne die beker versteek was, en herinner word dat 'n Kind gebore is, ook vir hom ... 'n Saligmaker wat die golwe ken, 'n Verlosser wat weet hoe ver die huis kan voel.
U donasie los hierdie Kersfees spore oor die aarde; spore van die Kind van die Krip. Hierdie Kersfees sal dit nie anders wees nie en sal ons weer die boodskap van die Christuskind met seemanne deel, want daardie boodskap is altyd tydig, relevant en ontsettend nodig. Ongelooflik dankie dat u donasie ons help om juis dit te doen. Mag u in hierdie Kerstyd ook die ryklike en onvoorwaardelike seën van die Kind van die Krip in oorvloed ervaar.
Geseënde Kersfees!