Die see dra nou meer as vrag. Dit dra spanning, fluisteringe van oorlog, en die dowwe dreuning van onsekerheid wat selfs deur staal en golwe sny.

In die kombuis staan Miguel, 'n hoofkok van die Filippyne. Sy handdruk is sterk, maar sy oë kyk heimlik ver - verder as die skip, verder as die horison, tot by 'n huis waar sy vrou en kinders wag. Die radio praat van aanvalle rondom Iran, van skepe wie se pad nie deur ekonomiese vatbaarheid bepaal word nie, maar eerder deur risiko. In sy hand hou hy 'n CSO Bybel in sy huistaal vas. Dis nie net papier nie - dis 'n anker. Terwyl die wêreld om hom harder skreeu, lees hy en Danie woorde van deernis en liefde wat sag bly, en hy hou dit vas soos iemand wat weet hoe breekbaar alles is.

By 'n volgende skip, sit 'n jong ingenieur van Indië na ete alleen by die tafel. Die borde is afgepak, maar die spanning bly. Elke skof in die enjinkamer voel nou nader aan gevaar. Elke verandering in koers dra 'n dringende vraag: Sal ons veilig wees? Hy tel 'n Bybel op, stadig, asof hy nie seker is of hy mag nie. As hy met Danie praat, is dit sag; onseker.  Tog as hy eindelik wegloop, druk hy die Bybel teen sy bors - verduidelik hoe dankbaar hy is vir die oomblik van rus wat hy daar rondom die tafel kon beleef.

Op 'n ander dek staan Oleksandr uit die Oekraïne en staar in die mis in, wat vanoggend onheilspellend oor die hawe hang.  Sy eie land is reeds deur oorlog gebreek, en nou volg die skaduwee daarvan hom oor die see. Die Midde-Ooste brand, en selfs hier, ver van alles af, voel hy duidelik die gloed daarvan. Hy hou 'n Bybel vas, nie met groot woorde of gebede nie, maar net vas - soos iemand wat lig soek sonder om te weet waar dit vandaan sal kom.

Soos Danie skip-na-skip besoek, lig die mis nie dramaties nie. Die wêreld verander nie skielik nie. Maar, hier gebeur tog iets anders. Hier word hande  sonder agenda, Bybels oopgemaak soos vensters. Hier word Christus se liefde nie verkondig met geraas nie, maar geleef in klein, stil dade.  

Waar die wêreld verdeel, word verbintenisse hier gevind.  Waar oorlog vrees bring, word hier met deernis en sagtheid omgegaan. Nie omdat die see kalm is nie - maar omdat 'n Lewende Hoop help anker gooi.  En vir 'n oomblik, net 'n oomblik, is daar 'n vaste wete dat dié Lig sterker is as die donker.

Ontsettend dankie aan ons donateurs en vriende wat dit moontlik maak.  Dit help dié Lig skyn, in 'n wêreld wat dit so ontsettend nodig het.