Toe was die romp van die skip van eikehout, die maste, spane en binnewerke gekerf uit ‘n den of ‘n seder.  Dis voor staal sy opmars begin het.  Nou, is skepe super-tegnologiese yster-kolosse.  Toe was seelui dae aan wal, nou vir gejaagde, blitsige ure.  Toe het die brief huis toe maande geneem, nou flits WhatsApp boodskappe wêreldwyd in sekondes.  Toe het Evangeliebedienaars met fietse tot op die kaai gekom, nou kom hul met digitale platforms in hul broeksakke wat ‘n seeman toelaat om sy dogtertjie se balletkonsert aan die anderkant van die aarde te geniet.  Toe het skepe met swart bolle rook uit die skoorsteen gekreun, nou gly hulle stil deur die water, aangedryf deur enorme enjins wat hulself diagnoseer as iets makeer. 

Dis vreesaanjaend hoe vinnig dinge verander.  Die pas is soos ‘n stroomversnelling wat ons insluk voor ons asem kan skep. Wat eens stadig ontvou het soos oggenddou op ’n blaar, gebeur nou in flitse en flarde, sonder tyd vir stilte of sin. Die wêreld draai vinniger, skerms flits helderder, en ons siele wankel onder die las van onafgebroke nuutheid.  Dis ook waar van die moderne seeman. 

Dis aanhou aanpas, aanhou jaag, aanhou byhou. Ons harte smag na rus, maar vind meestal net geraas. Ons gedagtes fladder soos voëls sonder nes, en geloof verdof, gedurig onder skoot deur ‘n meedoënlose inligting bombardement. Dit laat ons stilweg siek, uitgeput en ontwortel, heimlik verlangend na iets wat nie verander nie. Na Iemand wat bly.

Maar in al hierdie verandering staan een ding onwrikbaar sterk: die Evangelie van Jesus Christus.

Danie in die baai het hierdie week met die netjiese trappe na die dek geklim met dieselfde boodskap as wat die Evangeliebedienaar in 1944 by die mankoliekige touleer opgedra het.  Chris, in sy gesprek met die Filippynse seeman, het presies dieselfde boodskap van genade gebring – ewe relevant as toe CSO hierdie boodskap meer as tagtig jaar terug gebring het.  André in Kaapstad praat nou steeds oor dieselfde liefde van toe.  Loffie verduidelik aan ‘n lewensmoeg seeman dat daar hoop is, gegrond op die Een wat tóé was, nóú is en áltyd sal wees.    

Toe was daar 'n roeping dat elke seeman, soldaat of reisiger wat ver van huis af is, moet weet dat God naby is.  Nou, al is die wêreld ‘n dramaties ander plek en die konteks wêrelde verwyder van wat dit was, is die boodskap se essensie steeds dit:  Christus is genoeg.

CSO het deur al die jare oorleef deur genade, maar ook deur die oop hand van donateurs.  Wil u dit nie biddend oorweeg om finansieel by te dra tot ons werk nie?  Dit help ons om elke dag, te midde van die chaos om ons, die mense van die see te herinner aan die een konstante: Die Kruis wat vir elkeen van hulle op Golgota geplant is.

 

 EFT

Christelike Seemansorganisasie

ABSA Bank. Tjek / Current 630509. Rek / Account: 1520-230-226

Ikhoka aanlyn donasies: / Online donations:  https://bit.ly/4k2N60e