Twee kante.
Die jong kadet se glimlag is wyer as die see self. Nico, ons kapelaan in Durban, staan op ‘n majestueuse vragskip. Langs hom, ’n jong man wie se oë voortdurend wegdryf see toe, asof hy terselfdertyd hier op die dek staan en reeds by die huis is. Daar is moegheid in sy skouers, maande se spanning, wag en verlang, maar nou ook ’n nuwe lig — ‘n reuse glimlag - die stille sekerheid van iemand wat nou vir meer as homself leef. Hy glimlag soos iemand wat heimlik weet dat die wêreld groter én kleiner geword het in een asemteug. Hy’t gister pa geword.
Hy kon nog nie sy seuntjie vashou nie, maar is meteens alte bewus van die enorme gewig van pa-wees. Hy wys breëbors die foto’s op sy foon, skerts oor hoe ongelooflik sy vrou is en dat dit definitief die mooiste seuntjie is wat nog ooit gebore is. Hy praat sag oor die doop wat wag, oor ’n huis vol geloof. Hulle sal hom Joshua noem.
Einde Maart lê nou soos ’n reddingsboei op die horison — die einde van ’n kontrak, die begin van ’n gesin. As hy hom tog net so vir ‘n oomblik voor dán kon vashou en homself kon voorstel, lag hy met ‘n traan. Hy en Nico bid dankbaar saam.
Op die oorkantste kaai besoek Chris skepe. Aan die bopunt van die trapleer wat hom tot op die dek neem, loop hy ‘n sekuriteitswag raak wat hy al jare ken. Sy lyftaal is anders as gewoonlik. — skouers styf ingetrek, oë onrustig, wantroue soos ’n skadu wat nie wil wyk nie.
Chris groet sag, vra eenvoudig: “Hoe gaan dit?”
Die vraag hang ’n oomblik tussen hulle, soos ’n tou wat nie weet of dit vas of los is nie.
Dan breek dit oop. “My ma,” sê hy. En daarna niks. Net asem wat swaar kom. Dan eindelik, asof hy eers al die moed in die wêreld bymekaar moet hark: “Sy is dood.”. Nie siek nie, nie oud nie – vermoor. Die gewig van die enkele woord hang swaar en onheilspellend in die lug. Chris weet dat maklike antwoorde en verduidelikings in dié geval is soos om water na die see te dra. ‘n Onbegonne taak. Hy is net teenwoordig. Net ’n hand op ’n skouer. Net die sekerheid dat God bewus is van die man se pyn. En so staan hulle — op ’n trap tussen kaai en dek, tussen verlede en nou, tussen pyn en hoop. ’n Kapelaan en ’n seun sonder sy ma. Hulle bid dringend saam.
Dieselfde dag. Dieselfde hawe. Twee verhale — een van lewe, een van verlies. Een van hoop wat gebore word, een van hoop wat sterf. By CSO staan ons presies dáár - op die kaai, wanneer vreugde oorloop én wanneer harte breek. As ons dit nie doen nie, sal niemand dit vir seemanne doen nie.
Wil u dit nie groot asseblief biddend oorweeg om ons finansieel te ondersteun nie? Ons wil graag in reën en sonskyn op die kaai wees vir elke seeman, sodat hul altyd bewus sal wees dat God groot is.