+27 21 551 2694 cso@mweb.co.za

Al rede vir sy hiér wees is dat hy met alles in hom vir sy ouers en twee jonger susters wil sorg.  Hy is hulle uitkoms, die sleutel tot 'n beter lewe losgewriemel uit die koue kloue van armoede.  Die feit dat hulle op hom hoop is die dryfveer wat hom daagliks en snags laat opstaan as sy wekker dringend skree dat sy skof nou gaan begin.

Maar vir Christian is dit moeiliker as wat hy ooit sou kon raai. In die eerste maande al, en nou steeds, is weg wees van almal bemind, seer.  Soos die dae van sy nege maande kontrak verby sleep, het hy meer vrae as antwoorde.  Hoe is dit dan dat hy hierdie lewe gekies het?  Het hy hierdie lewe gekies, of het hierdie lewe hom gekies?

Maar vanmôre is die verlang na 'n ander lewe rou.  Ten spyte van die hitte wat oor die middaguur bitter oor Durban hang, is hy in ’n kombers toegevou terwyl hy met Nico praat.  Sy diensbeurt het vier-uur vanoggend begin.  Met sy aankoms op dek was daar 'n geskarrel van vreemde gesigte aan boord.  Daarmee saam het die onheil van dansende rooi ambulansligte oor die stil hawe, ongeluk voorspel.

Onwillekeurig het sy voete hom nader aan die samedromming laat loop.

En daar, stil, leweloos, het die liggaam van 'n man gelê - 'n man soos hy.  'n Man wat hier aan boord gewerk het omdat ook hy probeer het om sy gesin te help ontsnap uit hongerwees.  Iemand het vinnig in die verbygaan verduidelik dat hy van een van die krane afgeval het.

Nico kan nou tyd neem om hom te leer ken.  Hy kan na sy storie luister, sy vrese probeer verstaan.  Na lank gesels kan hy vir hom 'n Bybel gee, daaruit vir hom lees, en ook vir hom bid.  En as Christian later uitstap, is dit met 'n kalmer gemoed.  Hy kan weer sy kop oplig en aangaan.