+27 21 551 2694 cso@mweb.co.za

Dis nie aldag dat daar een van die topbestuur van ‘n skeepsmaatskappy voor ons Evangeliebedienaar sit nie.  Hy is verslae. Stom.

Die kadet was drie maande aan boord, vertel hy moeisaam. Soggens opgestaan, sy werk gedoen, gaan slaap, weer opgestaan vir sy skof.  Nie veel gepraat nie, net gedoen wat hy moes doen.

Met sy middernagskof kon hul hom nie op die radio kry nie.  Geïrriteerd dat die jong man vir sy skof verslaap het, moes iemand hom in sy kajuit gaan roep.

Dit was leeg.  

Tog, op sy netjies opgemaakte bed, ‘n briefie, ‘n briefie wat verduidelik dat hy jammer is.  Jammer is oor hy almal in die steek gelaat het.  Jammer is dat hy nie volhard het nie.

Later sou hulle uitvind dat sy ouers hul grond in Indië verkoop het om te betaal vir sy seeman-studies.  Eers kon hy nie ‘n werk kry nie, maar uiteindelik kon hy met hierdie geleentheid sy skuld begin delg.  Hy was sy familie se hoop.  Hoop dat die toekoms beter sou wees.

En nou sit hierdie man wat aan die stuur is van ‘n multi-miljard Rand maatskappy en hy is woordeloos.  Hy het geen woorde om die nuus vir die jong man se ouers te breek nie, nie woorde om te verduidelik hoekom hulle nie raakgesien het dat die jongman so swaar dra nie.  Nie woorde om die mengelmoes-emosies wat binne-in hom ronddraai te verduidelik nie.

Later, na ‘n lang stilte, verklap hy dat dit hom laat  terugdink aan sy dae op die see.  Die alleen, die verlang.  

Nou word die jong seeman se lewe ‘n spieël waarin hy sy eie lewe heroorweeg.  Die dinge waaraan hy so vol is, die dinge waaraan hy so leeg is. Soms is dit tragiese gebeure soos die dood van die jong Indiese seeman wat ‘n mens dwing om in die spieël te kyk.

Wat ‘n genade dat daar iemand was wat kon luister, iemand wat kon verstaan, iemand wat die pad na die groot Iemand met deernis en  begrip kon aanwys.