+27 21 551 2694 cso@mweb.co.za

Die foto wat sy aanstuur is van haarself, maar ek moet twee keer kyk om seker te maak of dit regtig sy kan wees.  Van haar eens welige bos bruin hare wat altyd kenmerkend tot net duskant haar skouers hang, is daar geen teken nie.  Nou is daar net ‘n kaal kop. 

Die foon vibreer weer in my hand.  Dis nog ‘n boodskap van haar.  My duim gly behendig oor die skerm om te sien wat dit sê. Nog ‘n foto wat pas per lugpos na my foon gestuur is. Dit neem ‘n oomblik vir die altyd trae selfoonnetwerk om dit af te laai. Die foto op die klein skermpie is van haar en haar vriendinne. Almal se koppe blink, kaalgeskeer.

As ek die foto van nader ondersoek herken ek my sussie se vriendin wat pas na ‘n reeks intensiewe chemoterapie kaalkop anderkant uitgekom het. Haar glimlag die grootste van almal sin.

Anderdag laai ek my dogtertjie by die skool af.  Haar juffrou het onlangs weer ma geword. Die seuntjie was maar ‘n paar weke oud toe die welsyn die erg verwaarloosde bondeltjie daar by haar kom aflaai het. Dit was eers tydelik, maar gou duidelik dat hy gekom het om te bly. Nou en dan dring sy alkoholis en dwelmdeurtrekte ma daarop aan om hom vir ‘n middag te sien. Sy daag nooit vir die afsprake op nie.

Die klein mannetjie is nou net meer as ‘n jaar by hulle.  Van kruip en stap is daar nog geen teken nie. Sy klein lyfie ly ook as gevolg van die gif waaraan sy ma so verslaaf is. 

Die juffrou wys foto’s van hoe hulle die klein mensie se eerste verjaarsdag gevier het.  Van kleins af het hy ‘n  boskaas, wat in die beste taal, net as ‘n ‘funky affro’ beskryf kan word. Op die foto’s is die ‘affro’ amper so groot soos hy, en aan sy sy staan sy aanneem boeties en sussie en ook sy nuwe ma en pa, elkeen uitgevat in n reuse affro pruik.  Ook die klein mannetjie se glimlag is die breedste. Ten spyte van ‘n rowwe begin, het hy hier ‘n huis gekry.  ‘n Huis waar daar hart is.

Stories soos hierdie laat my wonder of ons vermoë tot empatie nie ons as mense se mees prysenswaardigste eienskap is nie?  Is ons vermoë om geraak te word deur ander se stories nie dit wat ons onderskei van elke ander lewende wese waarmee ons hierdie planeet deel nie?

Dis ook nie net ‘n geval van bloot geraak word nie ... om regtig empatie te hê bring ons in beweging, dit haal ons oor tot aksie sodat ons bereid is om die pad saam met ander te stap.  Soms in kinderskoene, ander kere in die skoene van ‘n vriend of ‘n vriendin. Soms selfs in die skoene van ‘n vreemdeling. 

Is dit nie ook wat Jesus kom doen het nie?  Het hy nie in die skoene van vissermanne kom loop nie? Met groot deernis ‘n hand uitgesteek om die melaatse man gesond te maak en in sy saameet met tollenaars en sondaars ook hulle skoene gedeel nie?  Is dit nie die Evangelie nie?

Hy het ook vierkantig in my en jou skoene kom staan,deur vir my en jou die heel duurste prys te betaal. Ja, vir elkeen van ons.

Ons werk by CSO is in ‘n neutedop presies dit: Om saam met seemanne te stap. In hulle skoene. 

Wat volg is stories oor seemanne en hoe ons daagliks in die bevoorregte posisie is om in hul skoene te kan stap.

Dreigende rooi ligte tol dansend oor die boeg van die skip, terwyl water in boё deur bloedrooi pype in die oranje dampkring van die vuurgloed ingespuit word. Nuuskieriges word met rooi en wit linte uitgehou – elkeen met ‘n foon gewapen  om die beelde van die brandende skip vas te vang.

As die eerste ambulans met blêrende sirene wegtrek, trek ‘n volgende een in sy plek in. Iemand word haastig ingelaai, en dan weggeneem. ‘n Derde en ‘n vierde volg ...

‘n Mens wonder oor die gedagtes van die seemanne in elkeen van daardie ambulanse. In ‘n vreemde land, op pad die vreemde in ... Elke sintuig waarskynlik op hoogste gereedheidsvlak - aanhoudende sirenes wat in jou ore inboor, die reuk van medisyne en die rubberreuk van haastige bande wat onwillekeurig in jou neusholtes kom lê. Alles spel gevaar.

En dis net jy.  En jy is êrens.  En jy is nêrens.

Op die agterkant van die skip staan die ander bemanning hierdie tonele verstom en gadeslaan. Die vuurvegters se verbete pogings aan die voorkant van die skip en die ambulanse, met jou vriende daarin, wat een-een, met flitsende ligte, deur die stad ingesluk word.

Nou, midde-in die krisis, is die realiteit dat daar derduisende myle tussen jou en jou geliefdes lê, eensklaps ‘n werklikheid. Daar is ‘n stille vrees in elkeen. Wat as dit ek was? Wat van hulle by die huis? 

Tussen die chaotiese blou en rooi ligte vind Danie sy pad tot op die skip. Dit wemel ook aan boord – skeepsagente, hawebeheer, polisie, noodpersoneel, elkeen op sy eie manier besig om die situasie te beredder.  Maar, behalwe vir Danie is daar nie ‘n enkele een wat vra na die seemanne se welstand nie. 

Later slaan hul op vlug, skip in, tot in die eetsaal.  Danie word saamgenooi. Nou word hul verhale stukkie vir stukkie gerekonstrueer en soos ‘n legkaart in mekaar gepas.

Danie is daar om te luister na elkeen se verhaal.  Die adrenalien het nou plek gemaak vir vrees en as daardie wal breek is daar ‘n stortvloed emosie wat daarmee saam ‘n uitlaatklep soek. 

Vir ‘n oomblik kan hy in elkeen daar se leefwêreld rondloop.  Deel word van hul families, van hul vrese, van hul hartseer, van hul blywees, van hul lewens.     

Baie later kry Danie kans om te bid - te bid vir elkeen daar, vir hulle wat seergekry het en ook vir hulle vir wie die seemanne liefhet. 

Eers ure later, as die meeste van die skare verdwyn het en die dansende noodligte op die kaai vir eers tot rus gekom het, vind Danie weer sy pad van die skip af.

Hy weet dat sy werk hier gedoen is.  Hy weet dat hy op die regte tyd op die regte plek was. Gestuur. Hy weet dat dit nodig was vir hom om vir ‘n oomblik in die manne aan boord se skoene te stap.

As ‘n prikkelopskrif op ‘n koerant se voorblad berig uit Iran, is die kanse uitstekend dat dit slegte nuus is. Kern en chemiese wapens, selfmoordbomaanvallers, oorlog, onderdrukking, daardie tipe retoriek.  Dis net nooit ‘n opskrif met ‘n vreedsame foto daaronder van waar kinders speel teen die agtergrond van ‘n kleurryke sonsondergang nie.

En as Christen? As Christen is dit waarskynlik een van daardie plekke waar ons en die Evangelie nie gemaklik inpas nie.  Waar “Christen” en “Iran” in een sin gebruik word, doem hardnekkige woorde soos vervolging, onderdrukking, vrees en dood op.
Chris is in Durban-hawe en op die volgende skip, langs die kaai af, rinkink ‘n Iranese vlag in die wind.  Boonop is dit ‘n militêre skip.  Kernwapens, oorlog, onderdrukking ...    

Maar as Chris vertel, erken hy dat hy totaal uit sy koers was, verleё selfs. Soos wat hy die klein treetjies trappie vir trappie skip-op vat, was hy so seker dat al wat hy vir sy moeite sou kry ‘n harde ‘nee’ sou wees. 

Dis totaal teen die verloop van spel in toe die kaptein hom innooi en laat weet dat hy maar vir die bemanning Kersgeskenke mag bring.  Nou skarrel hy, want aan boord is daar 145 Iranese, aansienlik meer as op ‘n gewone vragskip waarop daar maar ‘n stuk of twintig bemanningslede is.  Nou moet hy terug seemansentrum toe en moet hy ook ‘n paar oproepe maak om genoeg geskenke bymekaar te maak. Uiteindelik ry hy met ‘n oorvol motor terug kaai toe.

Elkeen kry tog ‘n ietsie vir Kersfees. Meer as die ‘ietsie’ kry hul ook ‘n herinnering aan die Kind in die krip. Vir Chris is dit ‘n seldsame geleentheid, een wat hy waarskynlik nooit in Iran self sou beleef nie. Aan boord kan hy vrylik gesels en ook deel in die bemanning se stories en menswees en net vir ‘n oomblik, vir ‘n oomblik kry hy ‘n kans om in hulle skoene te loop. In in hierdie gebaar van deernis en empatie, lê Chris se grootste getuienis. 

Selfoon in die broeksak, oorfone in die ore.  Hy is deel  van die malende skare wat al geselsend saam met die klinkende klanke van bekers, borde, messe en vurke in die eetsaal kom aansit om op die middaguur hul mae se hongerkrete te kom stil.  Ten spyte van ‘n vae glimlag, sluit die oorfone hom af van die bruisende geselskap en vang dit hom vas, êrens op ‘n ander plek.  Hy sou alleen wees, selfs tussen ‘n duisend mense.

Soos die geklingel van eetgerei minder word en die manne een vir een deur-uit verdwyn om weer te begin werk, bly net hy uiteindelik oor. 
   
Die oorfone word nou huiwerig uitgehaal, so asof hy onseker is of hy deel moet word van hierdie wêreld.

En dan begin hy met ons Evangelie-bedienaar gesels.  Oor sy skip, oor die see, oor hoe moeilik dit is.  Oor sy huwelik wat die hoogste prys betaal het vir sy seemanslewe. Die finale papierwerk sal dit binne dae amptelik maak. Hy praat oor die emosie van verlies wat oor hom spoel soos die see.  Aanhoudend, gedurig, dag-in en dag-uit. Eb-en-vloed. En soms, soms dreig dit om hom te verdrink.

Maar waarom laat God dit toe, dring hy aan.  Eers as ‘n woedende verwyt. Dan verslae. Verpletter.

En nou sit hulle en gesels oor sy storie. Oor die eb-en-vloed van hierdie kosbare iets wat ons lewe noem. Oor die breekbaarheid daarvan. Een seeman kan dit met iemand deel.  Iemand wat met ‘n sagtheid en sonder verwyt, al is dit net  vir ‘n kort rukkie, bereid is om in sy skoene te loop.

Die kwik in Alton Richardsbaai het anderdag by twee-en-vyftig loop draai.  Vandag, soos Loffie kaai-af stap, is dit ‘n meer genadige agt-en-dertig grade met humiditeitvlakke van by die negentig persent.

Langs hom stap ‘n nuwe gesig in CSO geledere.  Uitgevat in blink-nuut staalpuntskoene, gewapen met ‘n stapel papierwerk en permitte, ‘n hardehoed en ook ‘n songeel sekuriteitsbaadjie wat nog nie ‘n dag se werk gedoen het nie, stap André vir die eerste keer op die kaai. Hulle klim saam die ongenadige vier of vyf verdiepings tot bo-op die steenkoolskip.  Vir die eerste keer kry hy kans om die grootse uitsig vanaf die brug van ‘n majestueuse steenkoolskip te waardeer.

Dis die eerste van baie skepe waar André nog sal moet opklim. Met tyd sal die son die geel van sy nuwe baadjie steel en die nuutblink skoene sal ingeloop wees met tekens van roet en olie as getuienis dat hul daagliks hul deel in die hawe doen.

Vir ‘n maand stap hy met Loffie saam sodat hy hom kan voorstel aan hierdie nuwe wêreld.  Skip-op, skip-af. En tussen die op-en-af deel hy vir die eerste keer in seemanne se stories ... loop hy vir die eerste keer in hulle skoene. 

André, ons nuwe Evangelie-werker, sal binnekort die leisels in Kaapstad vat en voortaan daar sy bediening onder seemanne voortsit.  Loffie laat weet uit Richardsbaai dat hy vir Andre gaan mis, maar dat hy bid en vertrou dat André met tyd tuis sal raak in seemanskoene. 

André, mag elke keer wat jy die kans het om in seemanskoene te loop, vir jou besonders wees.  Ons hoop dat dit jou hart sal ryk maak.

Teen dag tien is die gesigte al meer as bekend.  Bekend is bemind sê die spreekwoord mos. Die aanvanklike oppervlakkige en soms ongemaklike geselsies oor dit-en-dat is afgehandel en as Danie die skip vir die soveelste keer in ‘n paar dae opstap word hy familiêr gegroet, amper asof hy een van die bemanning is.

As die ertskaai in Port-Elizabeth druk besig raak moet party van die skepe per trok volgelaai word.  Dis natuurlik ‘n uitgerekte proses wat vir Danie ‘n rare geleentheid bied om verhoudings te bou en vir die seemanne ‘n kans om asem te skep en die strate en winkels in te vaar.

Na nog ‘n besoek, oppad skip-af, stap Danie verby ‘n seeman wat eenkant stip gefokus na die selfoon in sy hand sit en staar.  Danie groet, maar die groet waai ongehoor weg in die wind.  Danie is al ‘n ent weg toe ‘n uitasem stem hom van agter inhaal.

“Daniel, Daniel, I want to show you something” Dis Mica, die man van vroeër wat nou met ‘n haastige drafstap nader stoom.
Hy blaai eers vasberade op sy selfoon rond voordat hy dit breëbors vir Danie gee.  Op die skerm is ‘n klein bondeltjie wat in ‘n pienk kombersie toegedraai is.

“I want to introduce you to my daughter” sê hy soos net ‘n pa kan.  “She is two days old today.”

Wat volg is vreugde, trane, hartseer, blydskap ... dit is die beste van tye, dit is die slegste van tye.  En hy kies om dit met Danie te deel.

So sit die twee mans, een in trane, skouer teen skouer op die kaai en staar woordeloos na ‘n foto van ‘n klein prinsessie. ‘n Present van God.

In daardie oomblik deel Danie in alles wat vir hierdie seeman belangrik is. Hy staan so versigtig moontlik in sy skoene, omdat hy regtig verstaan hoe kosbaar en amper heilig hierdie oomblik vir Mica is.

Die volgende dag besoek hy weer die skip en tref vir Mica aan waar hy en sy vrou oor die rekenaar gesels.  En op die skerm, is klein voetjies en handjies en ‘n babalyfie wat sag kreun en steun. Haar ogies is wawyd oop, so asof sy alles wil inneem van haar eerste ontmoeting met haar pa, al is hy duisende kilometers van haar af weg.

Daar is ‘n ou pop-liedjie waarvan die woorde min of meer so klink: ‘These boots are made for walking, that’s just what they do, one of these days these boots are gona walk all over you.’ 

In teenstelling hiermee is empatie om met sagtheid en groot versigtigheid in ander se lewens en stories rond te loop, met ‘n diepe begrip en verstaan dat die lewe uiters broos en breekbaar is.  Hoe dikwels was ons elkeen nie al slagoffer van ander wat kru en hardhandig bo-oor ons lewens loop nie?

Mag u beleef dat mense met dieselfde genade as Jesus, met sagtheid en deernis in u lewe en u storie rondloop.  En mag u ook hierdie gawe, waarskynlik ons mees prysenwaardigste, met ander deel.  Mag u geraak wees, en daarom juis met groot versigheid in ander se lewens en stories rondloop.