Die storm lê oor Port Elizabeth soos 'n ongenooide gas.  Die wind gil deur styfgespande toue, en pluk-pluk aan majestueuse skepe soos speelgoed in reuse-hande.  Selfs in die skuilte van die hawe, maal die water teen die romp van die ertsdraer, met skuim wat rond warrel tot hoog teen die skip se staallyf.  Nog leeg en hoog uit die water, kraak die bielie van 'n skip onheilspellend teen die aanslag van wind en weer.

 Die Baai se storm is egter skaars 'n voorspel van wat aan die ander kant van die wêreld ontvou.  Daar bars Bualoi, 'n tropiese monster wat sy woede oor die Filippyne uitstort, los.  Huise skeur soos karton, paaie word slote modder, en waar reën gewoonlik genade is, is elke druppel wat nou daar val 'n traan. Dit huil oor die dorpe van Oos-Samar waar omtrent 433 000 mense gedwing word om te vlug voor stygende water en berge wie se voete gly sodat dit dorpies in modder verswelg.  Mense verloor hul lewens. Bualoi is nie net 'n naam op 'n weerkaart nie - dit is 'n donker hand wat alles wat kosbaar is gryp en wegvee.

Op die skip wat Danie besoek dra twee seemanne 'n storm wat geen mens kan stilmaak nie. Mario en Trevor sit stil in die eetsaal, maar die stilte is loodswaar. Hul gesigte lyk kalm, maar binne raas 'n orkaan; nuus wat soos woedende golwe oor hulle slaan.  Ook hulle dorp is deur 'n modderstorting platgevee.  Die foon op die tafel is 'n onheilspellende bode - dit kan 'n boodskap van hoop bring, maar kan ook die heel ergste denkbare tyding aandra ... Die angs daarvan verswelg hulle.  Geen rat of tou aan hierdie skip kan die spanning in hul gemoed vasbind nie. Hul bevind hul in 'n slagveld van gedagtes. Die wag, 'n martelgang van vrae sonder antwoorde. Die afgelope nag, 'n donker see van drome waarin hulle weer-en-weer probeer terugkom by die huis - maar altyd te laat is.

Danie kan aan Bualoi se woede weinig doen.  Maar, hy is daar. Hy sit die middag om, die aand in en waak saam met die tweemanskap.  Hulle bid, hulle smeek, en soek vertroosting uit die Woord. Tussendeur, as die woorde min raak, is hy gemaklik genoeg om net daar te wees in die stilte. Hy waak saam totdat die bode eindelik tyding bring dat die twee se gesinne veilig is. Hulle kan weer bid, weer lees, nou met nuwe oë. En as dit anders was, as die nuus die allerverskriklike was, sou hul ook weer kon bid, weer kon lees. Want, die God in wie se Naam Danie aan boord is, is nie net die God van plat seë en voorspoed nie, dis ook die God wat stormwinde beveel om stil te raak. En dit is wat CSO doen, ons is daar waar storms woed.  Mario en Trevor se bewoë en dankbaar groet as Danie koers kry huis toe, getuig daarvan.   

Wil u ons nie help om die mense van seë te versorg in hulle storms nie.  U finansiële bydrae kan 'n wesenlike verskil oor oseane heen maak.