Diamante?
Dit bruis en dreun in die eetsaal waar Sjinese seemanne rondom Danie saamdrom. ‘n Gerug het duidelik per skip-telegram die rondte gedoen dat Danie, ‘n man met vele konneksies, aan boord is. Hy word gepeper met opgewonde, nuuskierige vrae uit ‘n tiental-sterk skare wat elkeen iets wil weet. Dis effe chaoties, veral gegewe die klein probleempie wat die vloei van die geselsie belemmer...
Om te sê die tienman se Engels is gebrekkig, is ‘n growwe oorskatting van hul Engelse vermoëns. Danie se Sjinees, is ewe mankoliekig, met ‘n woordeskat van miskien so raps oor die vyf woordjies wat min of meer beperk is tot hallo en koebaai. Op ‘n punt raak dit vir albei partye duidelik dat die gesprek geen vordering gaan maak nie, maar van moedopgee is daar nie sprake nie. Die oplossing - ‘n rondte stomstreke. Nou praat die Sjinese onder mekaar, daar word beduie en twee van hulle is met ‘n potlood en ‘n notaboekie aan die teken. Die eindresultaat is nie ‘n Van Gogh nie, maar help tog met begrip.
Uit die gestamel en die stok-mannetjies op die vuil bladsy kom Danie eindelik tot die gevolgtrekking dat die skare dink hy’s ‘n diamantsmous. Dis ‘n eerste vir hom. Hy beduie terug en op die bladsy probeer hy skets dat hulle die kat heel aan die verkeerde kant beet het. Uiteindelik snap hulle dat hulle teen die verkeerde boom op blaf, en die realisering dat Danie se rugsak nie vol blink klippies is nie, is ‘n sigbare teleurstelling. Die atmosfeer is nou merkbaar anders. Skielik is die opwinding verby en die enigste geluide wat oor is, is die klank van stokkies teen porselein soos hulle sit en middagete eet.
Maar Danie se rugrak hou wel iets van belang in. In die nou stilte van die eetsaal, pak hy die Sjinese Bybels een-een op ‘n tafel uit. Dis 'n stille uitnodiging tot iets groter as die alledaagse. As die bemanning so ongesiens as moontlik in sy rigting koekeloer, wys hy na die kruis op die wapen van sy sekuriteitsbaadjie, terwyl hy beduie ‘no cost, for free’. Skielik is daar ‘n nuwe deur oop ...
Soos die Bybels een vir een deur dankbare hande van die tafel opgeraap word, is daar 'n nuwe gesprek begin – nie een van woorde nie, maar een van harte wat oopgaan. Skielik is daar ‘n brug, nie net tussen kulture en tale nie, maar ook tussen die menslike hart en God se hart. Eerder as die diamante waarop hul naarstigtelik opsoek is, is hul daar weg met ‘n boodskap van genade, liefde en hoop.
U bydrae aan CSO maak elke dag stories soos die moontlik. Dit bring die Evangelie aan seemanne van oor die wêreld. Daarvoor, ontsettend dankie namens elkeen wat deur hierdie bediening geraak word.
Bankrek: Christelike Seemansorganisasie. ABSA. Tjek. 630509. Rekno: 1520-230-226