Om te leer van genade, liefde en hoop
'n 'Ping' geluid saam met 'n kriewelende vibrasie kondig aan dat daar nuwe pos op Danie se WhatsApp is. Die kennisgewing met die sender se naam en 'n klein profielfoto daarop wat op die tuisskerm flits, laat Danie met dringende vingers die kode indruk om die boodskap te ontsluit. Dit kom van duskant die wêreld, van ver oor die see. As Danie dit lees, glimlag hy verlig. Dis nuus waarvoor hy gewag het en waarvoor hy nou al maande bid.
Die oorsprong van die storie lê 'n paar maande terug in die aankoms van 'n reuse ysterertsdraer in Port Elizabeth. Danie bring besoek en skaars op dek, word hy na die kaptein se kantoor ontbied. Dit was al asof die kaptein wagtend sit en uitkyk het oor die kaai, hoopvol en in afwagting vir iemand wat uit die niet verskyn, vir daardie iemand om dan die honderd of wat trappies skip-op te klim, en vir daardie iemand om dan boonop nog die regte persoon ook te wees ...
In by die deur van die kapteinskantoor was dit vinnig duidelik dat dit wat die kaptein saam hom dra ryp is, soos 'n rooi granaat. Hy moes dringend praat, dit uit sy sisteem kry. Die geheim het te swaar geraak om alleen te dra. Die simptome wat die gesoute seeman afrits is klassiek van angs. Rusteloosheid, daardie gevoel dat jy op die rand van 'n grusame afgrond staan, vinnige moegheid, bekommernisse wat net nie wil wyk nie en nagmerries van sy skip wat sink en deur die diepste duisternis verswelg word. Angs laat mens in 'n onkundige toestand. Dit glo dat alles 'n noodgeval is. Dit maak nie môre leeg van sy smart nie, maar maak eerder vandag leeg van sy krag. En dit som die kaptein se noodkreet op.
En hierdie noodkreet is die begin van hom en Danie se pad saam. Saam deur lande en oor oseane totdat Danie hierdie boodskap op sy skerm kry: “Ek is tuis, by vriende en familie waarmee ek kan gesels. Dit gaan beter met my. Dankie, dankie, dankie vir alles!!!“ Daardie eerste dag op die skip het hy vertel hoe lank hy al hieroor wou praat. Maar met wie sou hy dan praat? Daar is baie mooi praatjies oor geestes-gesondheid in die industrie. Die realiteit is egter dat as jy eers 'n litteken van 'angs', 'depressie' of 'emosioneel onstabiel' aan jou lyf dra, 'n volgende kontrak 'n onwaarskynlikheid is. Daardie eerste dag het hul saam gebid oor die oop Bybel op die kantoortafel. Dit was maar net die eerste van baie praat, van baie bid en van aanhou hoop.
En dis wat ons by CSO doen. Ons stap 'n pad as dit nodig is en ons stap daardie pad in die naam van die Een wat ons kom leer het van omgee, van liefde, van genade en hoop... Om dit te doen het ons donasies nodig. Wil u dit nie asseblief biddend oorweeg om hierdie werk van ons finansieel te ondersteun nie? Dit maak 'n verskil in baie lewens.