Swart erts stort skouspelagtig in die donker dieptes van die skip in. Die oopgesperde mond slurp honger aan die tonne en tonne mangaan. Uur na uur en vrag na vrag word die skip se honger geleidelik gestil sodat die boeg nou diep in die water lê. Uiteindelik versadig rol die swaar deksel knarsend toe en seël die vrag van water en lig. Die vrag word ingeperk en gegrendel vir die reis na China.

Vir hulle aan boord is dit nie veel anders nie. Die metaalmure perk hulle ook in – grendel hulle soos gyselaars. Wanneer die kajuitdeur toeskroef is dit tronk.  As die skip hom eers op die magtige waterweë bevind, afgesny van almal by die huis, is elkeen aan boord vasgevang tussen yster en see.

In hierdie chaotiese tyd is dit vir hulle veel erger.  In die hawe is die kaai maar twaalf meter naby – maar, dis twaalf meter te ver. Wêreldwyd dryf duisende gyselaars in hierdie situasie op skepe rond.  Hul mag nêrens afklim nie en daar is geen vlugte wat hul na hul geliefdes kan neem nie.  Dis chaos.  Die chaos is woedend ...

Nou, meer as ooit, moet hulle dringend hierdie boodskap van die Jesus weer en weer hoor:  

Wees stil en weet, Ek is die Heer.
Wees stil en weet, Ek Is.
Wees stil en weet. 
Wees stil.  
Wees.

Daarom hou ons by CSO aan om hulle te bedien op nuwe maniere. Tegnologie maak dit moontlik om tog aan boord te kom.  Dalk nie in lewende lywe nie, maar in wese. Ons kan op nuwe maniere hierdie woorde aanhou deel om hulle te bemoedig. 

Dalk as als verby is en ons word vrygelaat uit ons eie grendeltyd, sal ons onthou dat die lewe van die mense van die see elke dag so is. Ingeperk. Gegrendel. En dalk sal ons met groter empatie en deernis aan hulle dink en deel bly van ‘n bediening wat seemanne aan die een konstante herinner – Ek Is.