Skip to content
Christian Seaman's Organisation

28 Oktober 2026

Wanneer storms woed

Wanneer storms woed

Die see ken storms. Soms kondig hulle hul koms aan met doodsdonker wolke wat soos ‘n dreigende weermag oor die horison opruk. Soms kom hul in ‘n oogwink uit die niet – ’n windvlaag, ’n woedende golf, ’n dek wat onder jou voete kantel en dein in die greep van iets groter.  

En dan - dan sak ’n skip sy anker: ‘n Eenvoudige yster instrument wat deur donker water val totdat dit die bodem vind en vasgryp.

Maar nie alle storms woed oor die see nie.

Aan boord van ’n karskip in Port Elizabeth ontmoet Danie ’n seeman wat stil-stil ’n storm met hom saamdra. Sy skip lê rustig in die hawe, motors staan in ‘n lang ry en makeer die pas voor hul een-een deur die boeg van die skip ingesluk word.  In die baai rinkink ‘n mak briesie speel-speel oor die water.  Dis ‘n vreedsame gesig.   

Maar binne die seeman woed die storm ongenadig.  Duisende kilometers weg wag ’n huis vol verantwoordelikhede wat swaarder weeg as wat sy skouers kan dra. Rekeninge stapel op -‘n hele familie se bestaan is nie ‘n ligtelike saak as jy die enkele voorsiener is nie.  Die nood is altyd groter as die salaris-aalmoes wat maandeliks momenteel in sy rekening land. Elke bekommernis trek aan hom soos ’n sterk stroom - sy lyf aan boord, sy gedagtes en hart oor oseane terug by die huis.

Danie luister.

Nie met haastige antwoorde nie. Nie met goedkoop beloftes dat alles môre beter sal wees nie. Hy gee die seeman iets skaars: Tyd. Ruimte. ’n Veilige plek waar ’n man vir ’n oomblik sy swaar vrag kan neersit.  Eindelik gee hy ook vir hom ‘n Bybel.  Net papier en ink, sou iemand kon sê, maar vir hierdie seeman word dit ’n anker.

Wanneer die nag lank word en bekommernisse soos golwe teen sy gedagtes slaan, kan hy lees. Wanneer vrees soos mis om hom vou, kan hy terugkeer na woorde wat hom herinner dat God hom sien. Wanneer hy nie weet watter koers om te kies nie, kan hy bid.

Ons by CSO kan nie elke storm stilmaak nie. Ons kan nie elke skuld betaal, elke probleem oplos of elke gebroke omstandigheid herstel nie.  Maar ons kan langs iemand staan terwyl die wind waai. 

Ons kan luister. Ons kan hoop bring.

En soms kan ons ’n anker in sy hand plaas – God se Woord – wat deur die donker water sak, die vaste grond vind en fluister: 
Die storm is werklik, maar jy in nie alleen nie.

Soveel dankie dat u ons finansieel ondersteun.  Dit beteken vir seemanne meer as wat u ooit sou kon dink.

Terug na Blog