
Die oggendmis lê grys oor Koega. Hyskrane krap bo teen die hemel en onder Danie se skoensole, lê die kil beton van die kaai. In sy knapsak, Bybels en warm musse. Langs hom, lek-lek die water speels teen die skip se staalwand. Voor hom wag manne wat maandelaas hul eie voordeure oopgesluit het.
Eerste ertsskip: Trappies op: Hy ontmoet 'n man wie se lewe in 'n tas pas. Nog 'n skip. Nog 'n kontrak. Nog vreemdelinge met wie hy maande moet klaarkom. En wat vir hom die mees tragiese is, is dat die lewe by sy huis sonder hom aangaan.
"Ek is moeg vir oorbegin." - sy lyf wat ook die tekens dra waar hy op die bankie in die eetsaal moedeloos-geboë sit.
Danie luister. Hy haal 'n Bybel in die man se eie taal uit. Die seeman blaai stadig; tussen die bladsye ontmoet hy bekende woorde. Die verlange verdwyn nie. Geen vers maak die maande korter of die afskeid maklik nie. Maar, Danie bly langs hom sit, sonder haas, sonder maklike antwoorde. Saam met die Bybel ontvang hy iets van God se sorg in die gestalte van iemand wat tyd het. Hy maak die Bybel toe en hou dit 'n oomblik teen sy bors.
Volgende skip: Danie sit langs 'n Filippynse seeman. Op sy selfoonskerm lê nuus van 'n ernstige krisis by die huis. Tussen hom en sy familie lê derduisende kilometers water en nog drie maande. Danie probeer nie die stilte haastig heelpraat nie. Hy bly sit; luister totdat die man se bekommernis woorde kry. Hier maak 'n Bybel in sy eie taal, wat vertel van die God wat alomteenwoordig en ewig is, 'n verskil...
Niks op die skerm verander nie. Die huis bly ver. Maar, daar is iemand wat omgee, en meer as dit, is daar die herinnering aan die Een wat ewig en konstant is.
Teen etenstyd skuif Danie 'n stoel tussen Indiese seemanne in. Hy vra na hul huise, hul families. Bo die dreuning van die skip gesels stemme warm en opgewonde. Iemand lag. Dan gaan die musse en Bybels van hand tot hand.
"Dit voel soos huis," sê een.
Wanneer Danie later die loopplank afstap, dra die skepe steeds hul vragte. Die manne sal steeds verlang. Maar, vandag het iemand hul name gevra. Hul stiltes aangehoor. Iets warms in hul hande gesit.
Só versorg die CSO elke dag seemanne: 'n Stoel word nadergetrek, 'n Bybel oopgemaak, 'n naam gevra, 'n mens gesien. En daagliks besef ons dat die eenvoudige handelinge, in die seemangemeenskap ontsaglike waarde dra. Asseblief, oorweeg dit biddend om hierdie werk van ons finansieel te ondersteun. Sonder u kan ons nie hierdie werk aanhou doen nie.
