
In Durban se droogdok lê ’n skip soos ’n gewonde reus. Sy romp wag op herstelwerk en dié sal in die komende weke getimmer en getem word sodat die reus weer ter see kan gaan. Hulle aan boord bly vir Chris, ons Evangeliebedienaar in Durban, ontglip. Vandag weer; vanaf die pad gesien, lê die skip sommer hier naby-naby by. Maar, tussen sien en ontmoet gaap ’n leë ruimte: daar is nou al vir dae geen loopplank nie.
Twee keer deur die dag, gaan Chris terug. Twee keer moet hy omdraai. Met die derde poging lê die loopplank gereed. Chris klim vol moed die klein trappies uit tot waar ’n vriendelike Filippynse kaptein hom ontmoet en na die eetsaal neem. Vir ’n oomblik lyk dit of sy weer-en-weer, en nog ‘n keer weer kom beloon gaan word.
Skaars aangeland, stroom seemanne, ingenieurs en manne met tekeninge en papiere wat belangrik lyk die eetsaal binne. Die herstelwerk vra ’n skielike en dringende vergadering. Skeepsdrama en skedules eis die kaptein op voordat die gesprek begin. Chris besef daar is nie salf te smeer aan die situasie nie en hy kies koers loopplank af.
Hy sal weer later kom. ’n Vierde keer.
Verder aan wag ’n reuse houerskip van MSC. Die loopplank styg steil; daarna volg trappe tot by die kantoor. Hy gesels ‘n oogwink met ’n Indiese offisier en oorhandig traktate. Tussen die hawe se groot bewegings kry ’n kort ontmoeting tog sy plek.
By die naburige terminaal wag Chinese seemanne. Die skip is naby, maar ’n nuwe heining dwing Chris op ’n lang ompad. Wanneer hy aankom, word staalstawe gelaai. Hy wag geduldig terwyl die werk voortgaan, totdat die derde offisier tyd het. Toe tref die besef hom: Sy rugsak lê op die vorige skip.
Eers gesels hy geduldig in skrapse Engels met ‘n Chinese offisier en kan hy vir hom literatuur in Mandaryn gee; daarna terug op die ompad. Dan die loopplank weer. Die trappe weer. Bo lê die rugsak waar hy dit vergeet het.
Só lyk CSO se werk ook: Skoensole op skeepslere, wagtyd by besige dekke, ’n besoek wat môre van vooraf begin. Geduld word die draad waarmee kontak aanmekaargewerk word. Daars min vuurwerke en trompetgeskal.
Op pad huis toe kyk Chris nog eenmaal na die kaaie. Daar lê ’n nuwe skip ... Hy draai om, en gaan besoek dit ook. Mens weet nooit watter nood die gety inbring nie.
As hy eindelik koerskry huis toe, is dit met ‘n gevoel van dankbaarheid. Hy kon met verskeie seemanne iets deel oor God, wie se geduld soveel groter as syne is.
Môre wag daar weer skepe. En iewers, oor ‘n loopplank, agter staal en skedules, wag iemand op Chris se pad wat sy daarwees ongelooflik nodig het. Iemand wat nodig het om te hoor dat die God van die hemel en aarde ook hul God is. En daarom, daarom sal Chris more weer daar wees.
U donasie maak dit vir hom moontlik. Vreeslik baie dankie!
