
Bethlehem se ster het baie adresse. Vanaand weer, brand dit hier oor Valsbaaihawe sodat Tafelberg lang skadu’s gooi. André sit stil en luister na Fidel waar hy krom en moedeloos vertel van sy vrou; van die siekbed, van die vrees, van die oomblik toe sy finaal gegroet het, van hoe hy en sy seun ‘n nuwe pad probeer oopkap deur wat voel soos ewige duisternis – van hoe hy seeman is omdat dit al is wat hy ken. Dan André wat ‘n kans kry om in ‘n heilig-geweide oomblik vir hom bid. Ook dít is Betlehem.
Bo die Bluff, waar die loodsboot se soeklig oor die swart water van Durban se hawemond vee, skyn die Bethlehemster ook oor die OCEAN PRIDE. Ná twee weke se dryf op die oop see kom die lendelam skip, stil op sleeptou die hawe binne. Met beide enjins was duskant Mosambiek onherstelbaar die gees gegee het, is die skip nou maar ‘n nuttelose kruik. Die kaptein en sy manne is vuisvoos toe Chris aan boord stap met Kersgeskenke en ’n Bybel vir elkeen. Op die dek waar hulle so lank vir hulp gewag het, kry elkeen die goeie nuus van die Kind in hul hande. Hier word dit Bethlehem.
In Oekraïne skeur missiele deur sy woonbuurt. Op ’n ertsskip in Coega kom die oorlog deur ’n jong seeman se foon tot in sy hand. Vrees, verwoesting, verraad, verdriet, verlies – alles emosies wat dreigend in hom woed. Hy blaai deur ’n nuwe Bybel en hou dit oop na Danie toe: “Wys jy vir my waar moet ek lees.” Danie blaai na Psalm 121. Terwyl die ertsvragmotors oor die kaai dreun, lees die jong man dieselfde woorde oor en oor. “My hulp kom van die Here.” Bethlehem lê ook aan die kaai.
Op die DALI in Richardsbaai druk die Filippynse bemanning vir Loffie ’n sak Turkse tee in die hand. Hy sit dit in sy kattebak en kies koers na sy laaste skip, daar aan die chemiese kaai, waar die skerp reuk van asetoon in die lug hang. Die bemanning is Turks. Het hulle Turkse tee aan boord? Nee, antwoord drie offisiere tegelyk. Loffie klim terug kaai toe en kom weer teen die skeepsleer op, dié keer met die tee. Voor hy vertrek, vra ’n seeman op die dek vir ‘n Bybel. Só begin ’n ontmoeting op ’n plek waar niemand dit verwag het nie, met ’n sak tee wat die kort pad van een skip na ’n ander gevind het. Bethlehem is nader as wat ons dink.
CSO sal hierdie Kersfees weer, dag na dag, die boodskap van hoop, liefde en genade dra van die krip tot aan die kaai. By skeepslere op, oor dekke, na kajuite en skipbrûe waar daar ‘n onversadigde honger is. Bethlehem se ster het baie adresse.
Wil u ons nie asseblief finansieel help om die goeie nuus daar waar dit so bitter nodig is te bring nie?
Soos u hierdie Kerstyd ingaan, weet dan dat die Bethlehemster ook vir u is. Mag dit dans tot in u hart, en sy arms om u vou.
Geseënde Kersfees.
