Dalk moet ons weer hoor dat ons almal gelyk is
Een seeman beskryf dit as 'n wurggreep. Op die ry af bieg elkeen oor sy vrese. Uit die Filippyne, Oekraine en Korea sit almal saamgebondel op die dek. Vandag, anders as gewoonlik, is hul herkoms irrelevant.
'n Gesiglose virus het hul saamgesnoer tot een homogene massa waarin een nie meer kwesbaar is as 'n ander nie. Kaptein en handlanger, arm, ryk ... goed, sleg - elkeen uitgevat in 'n masker en handskoene in die hoop dat die bitter-beker hul sal verbygaan.
Dis asof die chaos 'n nuwe orde daar stel. Een waar die dekhand en die eerste ingenieur ten spyte van hul nasionaliteit, rang, rykdom of status gelyk is - dalk 'n waarheid wat elkeen van ons kan saamneem as die donker wolke eendag verbywaai ...
Aan stuur is 'n kaptein uit Suid Korea. Alhoewel die wit masker die lyne om sy mond verbloem, kan sy oë nie die kommer wegsteek nie. By die huis is die chaos woedend. Ook hy hou onderdanig, naarstigtelik elke grafiek en statistiek dop in die hoop dat 'n afwaartse kurwe die wanhoop sal verdryf.
Selwin, 'n ander seeman, probeer ook sy storie met Danie deel, maar, deur die masker wat sy verweer is teen die chaos, is hy bykans onhoorbaar. Maar, net soos die Kaptein, kan sy oë niemand bluf nie ... Dit vertel van vrees, angs en ander naamwoorde wat so baie van ons se toestand deesdae beskryf...
Vir Danie, ook aangetrek in sy anti-virus gewaad, is dit 'n vreemde besoek. Alhoewel hy aan boord kan kom, word hy, as vreemdeling, nie skip-in toegelaat nie. Wie weet wat hy met hom saamdra? Wie weet waarmee hy hul sal aansteek en besmet? En so gesels hulle - so op 'n afstand - soos ons nuwe realiteit dikteer.
Bekend is egter bemind en soos die gesprek aanstap raak die gesels meer gemaklik, meer bekend. En dit, oor dit wat Danie met hom saamdra - dié Boodskap van hoop. 'n Smagting daarna dat hierdie boodskap hulle ook sal aansteek sodat 'n nuwe vuur in hul sal brand om hul vrese te besweer maak vir oop harte ...
As dit tyd raak om aan elkeen 'n Bybel in sy eie taal te gee, is die senuagtige hande van elkeen daar meer rustig en kalm. Saamgetrekte vingers en toe hande wat getuie is van elkeen se angs, neem met 'n oop hand, wat met 'n oop hand gegee word.
Nood leer bid. Anderdag, as Danie weer skip-op kom en die wind het die donker chaos wolke see in gejaag, sal waarskynlik 'n klein groepie gretige hande wel 'n Bybel neem. Maar, vandag is anders - oor die chaos. Dit laat mens dink, soek, hoop, gryp ... En in hierdie konteks is Danie se boodskap van onskatbare waarde. Dit is die verskering waarna elkeen aan boord naarstigtelik smag - 'Wees stil en weet, Ek is die Heer'.