+27 21 551 2694 cso@mweb.co.za

Dis êrens in die begin van die nuwe millennium en Jan-Harm loop hom vas in 'n Rus wie se lyftaal aggressie skreeu. Asof sy are vol adrenalien gepomp is, wil hy blaffend weet wat Jan-Harm en die spul Bybels aan boord soek.

Jan-Harm probeer kalm die oorsaak van die aggressie, wat maar simtomatiese van iets dieper is, soek.

Hieroor is die man prontuit.

Die poskaart is van 'n jong ma en haar dogtertjie wat in brons verewig, in afwagting na die see staan en staar. Hul hou wag op die kaai in Odessa, die seeman-hoofstad van die Oekraïne.

Die bronsbeeld herinner aan 'n tragedie – 'n tragedie waar vrouens, dogters en ouers vergeefs op die kaai staan en wag het – staan en wag het vir 'n skip wat toe nooit opgedaag het nie. Staan en wag het vir pa’s, kinders, eggenote - pa’s, kinders en eggenote wat nooit gekom het nie ...

Wat is die heel ergste, mees verskriklikste? Dit moet tog die dood van ‘n kind wees? Ek wil nie vir ‘n oomblik voorgee om daardie seer te ken nie, maar wat ek wel ken is die teendeel. Ek ken dit omdat ek saans slaaptyd diep in my dogtertjie se poele blou oë kyk terwyl die lig sag op haar gekrulde blonde lokke val en sy vir oulaas uit haar maag uit lag as haar ma haar speels kielie. En dan weet ek, vrees ek ... is dit gewis dat daar niks erger in hierdie lewe kan wees as om haar te verloor nie.

Voor Loffie in Richardsbaai sit ‘n pa wat wel daardie seer ken; ‘n Pa wat na twee jaar praat asof dit sommer gister gebeur het. In elke vars traan is dit duidelik dat die seer nog so vlak sit soos ‘n oomblik gelede. Hy praat oor lewe. Dood. Oor hoe hy dink dat dit God se straf was; oor hoe dit die prys is wat hy moes betaal vir die foute wat hy al in hierdie lewe gemaak het..